Eksodus 20
Die Tien Gebooie
En God het al hierie woorde gespreek en gesê:
2 “Ek issie Jirre jou God wat jou uit Egipte, uitie land van slawerny gebring het.
3 Djy sallie anner gode het as ekkie.
4 Djy sallie vi jou beeldjies innie vorm van ienige iets wat boe innie hiemel of onner oppie aarde of wat onner innie waters is, maakie. 5 Djy sallie voo die afbeeldjies buigie, of hulle anbittie; wan Ek, die Jirre jou God, is ’n jaloerse God, ek straf die kinners virrie sondes van hulle ouers, tot by die derde en vierde geslag van hulle wie my haat, 6 maa ek wys liefde vi duisende geslagte vi hulle wat my lief hê en my gebooie volg.
7 Djy sallie die Jirre, jou God se naam misbruikie, wan die Jirre sal dié wie sy naam misbruik, straf.
8 Onthou die Sabbatdag en hou dit heilig. 9 Ses dae sal djy wêk en al jou wêk doen, 10 maa die siewende dag is ’n Sabbatdag virie Jirre jou God. Op dié dag sal djy nie wêkie, nie djy of jou seun of jou dogter, nie jou man- of vroubediende, nie jou diere, of ienige buitelander wat in jou dorp bly nie. 11 Wan in ses dae het God die hiemel ennie aarde gemaak, die see en alles wat innit is, maa hy het oppie siewende dag gerus. Dis hoekô die Jirre die Sabbatdag geseën en heilig gemaak het.
12 Eer jou ma en jou pa, soedat djy lank kan liewe innie land wattie Jirre jou God jou gegie het.
13 Djy sallie dood maakie.
14 Djy sallie egbreekie.
15 Djy sallie steelie.
16 Djy moetie valse getuienis tienoo jou naaste gie nie. Djy moetie jou buurman se vrou begeer, of sy man- of vroubediende, of sy bieste of donkies, of ienige iets wat jou bure sinne issie.”
18 Toe die mense die weerlig gesien het en toe hulle die trompette gehoor het en toe hulle sien die berg is annie brand, toe biewe hulle met vrees. Hulle het op ’n afstand gebly, 19 en hulle het vi Moses gesê: “Praat djy met ôs en ôs sal luiste. Maa moetie lat God met ôs praatie, wan dan sal ôs doodgan.”
20 Moses het virrie mense gesê: “Moenie bang wiesie. God het gekom om julle te toets, soedat die vrees vi God met julle sal bly, om julle te keer om te sondig.”
21 Die mense het op ’n afstand gebly, soes Moses nader annie dik donkerte gegan het waa God gewies het.
Afgode en altare
22 Die Jirre sê toe vi Moses: “Sê dit virrie Israeliete: ‘Julle het vi julle self gesien dat Ek met julle uitie hiemel uit gepraat het. 23 Moenie anner gode langs my sittie; moenie vi julle gode van silwer of gode van goud maakie. 24 Maak ’n altaar van grond vi my en daaop moet jy jou brandoffers en dankoffers, jou skape en bieste offer. Waa oek al Ek my Naam sal lat gedenk, sal ek na jou toe kom en jou seën. 25 As djy vi my ’n altaar van klip maak, moenie dit bou met gekapte klip nie: wan djy sal dit onheilig maak as djy ystergereedskap gebruik om dit te kap. 26 En moet oekie trappe gebruik om na my altaar toe te kommie, wan jou privaatdele sal miskien uitstiek."


Kommentaar
Hello
Hoe kom ek in kontak met Olivia Coetzee?