Bybel in Kaaps: Job 8

  • 0

Bildad antwoord vi Job      

8 Bildad wat van Suag af kô het vi Job geantwoord: 2 “Hoe lank gat djy anhou om soe te praat, Job? Die goed wat djy sê is soes ʼn wind wat alles vewoes. 3 Sal God die wet vedraai? Sal die Almagtige die goed wat reg is vedraai?

4 Jou kinnes moes tien Hom gesondig het, soe hulle het gekry wat hulle vedien het.

5 Maa as djy bid en vi God vra wat hy van jou af vewag, en pleit by Hom om sag met jou te wêk.

6 En as djy op ʼn skoon en eerlike manier liewe dan sal Hy opstaan en jou ʼn plek gie in die liewe wat djy vedien.

7 En al het djy klein begin, sal djy met baie opeindig.

8 “Gat stiek kês op by die mense wat voo ôs geliewe het. Leer vannie onnevinding van ôs se voo-ouers.

9 Wan ôs kô maa giste in die liewe en ôs ken niks. Ôs se dae op die aarde gat soes ʼn skaduwee veby.

10 Maa djy kan iets lee by die mense wat voo ôs geliewe het. Hulle sal jou die wysheid gie van alles wat hulle al gesien en deugemaakit.

11 Bildad het nog vêder gepraat: “Die papirusplant groei net in die vlei. Biesies floreer net waa daa water is.

12  Hulle blom nog en kan noggie eens afgesny wôtie, dan velep hulle.

13 Dieselle gebee met amal wat vi God vegiet. Vi die mense wattie vi hulle an God steurie is daa nie ʼn stukkie hoep oo nie.

14 Hulle vetrou op goed wattie baie veilig issie. Hulle hang an ʼn draadjie van ʼn spinnerak.

15 Hulle lê op die spinnerak maa dit gie pad. Hulle proebee om dit styf vas te hou, maa dit sallie hou nie.

16 Hulle is soes ʼn plant wat goed groei in die sonlig, die takke vesprei oo die hele tuin.

17 Die wôtels groei tussen klippe deu, en dit klou vas an rotse.

18 Maa as dit uitgetrek wôd, dan is dit ampe soes die plant nog nooit daa wassie.

19 Dis die einde van die plant se liewe, en anners sal in hulle plekke opspring en hulle vevang.”

20 Vêder sê Bildad, “Maa kyk hie, God sallie ʼn onskuldige mens wegstootie. Hy sal oekie mense wat kwaad doen helpie.

21 Job, Hy sal jou wee lat lag en jou lat uitroep van blydskap.

22 Hy sal die mense wat jou haat in die skande stiek, en die huise van goddeloses sal afgebriek wôd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top