Bybel in Kaaps: Jesaja 26

  • 0

ʼn Loflied vi die Jirre

1 Daai dag sal amal in die land van Juda
hierrie lied sing.

“Ôs stad is nou stêk!
Ôs is omring deu die mure
van Got se redding.
2 Maakie hekke oep
dat die regverdige nasie kan inkô,
die nasie wat geloef het.

3 U hou elke-een in vriede
wat in U gloe,
die mense wie se gedagtes
op U is, wat vetrou in U.

4 Vetrou in die Jirre ve’iewig en altyd,
wan die Jirre Got is vi ve’iewig en altyd
ʼn plek van skeiling.

5 Hy sittie mense in die oë
wat dink dat hulle kwaai is,
en die stervie stad gooi
Hy in die stof nee,
Hy maak die mure plat!

6 Die armes en die vedrukte mense
vetrap dit onne hulle voete.

7 Die pad van die regverdiges is gelyk,
U, die Regverdige Een, maak die pad
van die regverdiges gelyk.

8 Ja, Jirre, ôs doen wat U vi ôs vra,
ôs wag op U,
die ienigste begeerte in ôs hart
is om u Naam te eer.

9 My siel soek heelnag na U,
in die oggent velang my gies na U.
Ees wanne U gat kô om die aarde te oordeel
gattie mense ees lee om te doen wat reg is.

10 Wan deurie goedheid wat U
annie bose mense bewys,
lee hulle nie wat reg issie.
Selfs in ʼn land waa daa reg geskied,
gat hulle nog steeds an om vekeere dinge te doen,
en warrie nie oo die mag van die Jirre nie.

11 Jirre, hulle luisterie wanne U hulle dreigie.
Wys hulle dat U stêk staan en reg is om u nasie te beskerm.
Miskien sal hulle dan skaam raak.
Lat die vuu wat U reg hou vi U vyande hulle insluk.

12 Jirre, U sal vi ôs vriede gie.
Alles wat ôs bereik het,
het U vi ôs gedoen.

13 Jirre ôs se Got, anne het oo ôs geregeer
maa ôs anbid net vi U.

14 Hulle is nou dood, hulle liewe nie meerie.
Hulle sal nooit wee trugkommie.
U het hulle gestraf, en hulle venietig,
en alle herinneringe van hulle het U lat vedwyn.

15 Ôs prys U, Jirre!
U het die nasie groter gemaak.
U het ôs land groter gemaak.
Soe het U u mag gewys.

16 Jirre, ôs het na U toe gekô
toe ôs in die nood was.
Ôs het vi U geroep
toe U ôs gestraf het.

17 Ôs is soes ʼn swanger vrou
wat inmekaakrimp van die kraampyne.
Soe, Jirre, dis hoe ôs was
in u tienwoordigheid.

18 Ôs was swanger,
en het in mekaa gekrimp van die kraampyne,
maa ôs het geboote gegie an wind.
Ôs konnie die wêreld reddie.

Daa issie mense vi die wêreld gebore nie.

19 Maa tog wiet ôs dat die wat an Got behoot,
sal liewe.
Hulle liggame sal wee opstaan!
Die wat in die aarde slaap,
staan op en sing van kan hêppie wies!
Soes die dou liewe gie,
soe gie U krag tot liewe.
Die aarde sal hulle wat gesterf het
wee liewend trug gie.

Maak vi Israel reg

20 Gat huis toe, my mense,
gat in julle kames en sluit die deure agte julle.
Stiek julleself weg vir ʼn kôt rukkie,
tot Got se kwaad veby is.

21 Djy sien, die’s hoe dit is,
die Jirre kô uitie hiemel uit
om die mense van die aarde te straf oo hulle sondes.
Die aarde sal die bloed wat gestort was uitbring.
dit sal uitgebring wôt
soedat amal dit kan sien.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top