
Foto: Canva
By die skool
Sy loop verby die meisies
By die skool
In die gang
By die trappe
Met hulle rompies bó
Ópgerol
Om die ondersoom
Tot bo die knie te hys
Wat hulle poniesterte uitskud
En die hare kamma regtrek
En weer vasmaak
Wanneer die losskakel
Van die eerste rugbyspan
Verbyloop
En hulle ignoreer haar
Maar tog
Kyk haar óp en áf
En draai om en giggel
Oor haar lang romp
Ver onder die knieë
En haar bloes tot bó
Tóégeknoop
En haar onvleiende haarstyl
En smaal
En die klank
Wat van die baksteenmuur weerkaats:
Kloosterkoek
En giggel weer
Maar hulle weet nie
Van haar bedjie
En haar kamer
En die donker lang gang
En die strompelstap
Die reuk van tabak en drank
Die stánk
Die angs
En die logge lyf nie
Hulle weet nie
Hulle weet nie
Hulle weet nie
En sy byt op haar onderlip
Vas
En bid

