By afsterwe van die digter Jan de Bruyn

  • 0

So baie baie herinneringe deur so baie jare
Van my bestaan
Aan ’n gewone man met die naam

Jan –

Wie ek nooit nader geken het nie
As die woorde in sy bundels
En die in ’n dik bruinpapierkoevert –
Ya Mmuso – Amptelik - Official
Geborge in my kissie met geliefde sentimento's

En hier staan dit nou geskryf oor jou
In Zani se bietjie bitter by die soet-brief:
Die digter Jan de Bruyn is dood

Ek haal jou woorde uit – versigtig om
noudat ek weet – nie die papier te skeur nie
Sodat die enigste verbintenis tussen ons
Steeds tasbaar in my kissie kan bly lê
En lees jou brief:

Vuurtent het destyds feitlik onmiddellik in ’n afgryslike stilte, ’n niksheid  in verdwyn
Selfs ék het later van die vuur en die tent vergeet en seker net die sneeu onthou –
Eintlik seker net die spore in die sneeu
En toe verdwyn Te bruin (ook) oor ’n afgrond, soos ’n dun stroompie
so tussen grasse deur en in ’n klipgleuf af
nie as ’n waterval nie (watervalle vál en raas), eerder soos ’n blink strepie teen ’n rots.
En toe kom jou brief …
Hiermee dan ’n paar uit Die som van een nou by Haum–literêr, omdat hulle sal sê dis vir gewone mense. Ek is ’n gewone mens. Ek skryf vir gewone mense …

Hoekom kon niemand anders hoor hoe jy
“hart-vulkanies” sing nie:

          as ek kon
          as ek uit dié papier ’n viool kon vou
          en klawers uit sterre en skaduwees kon maak
          sou ek vir jou ’n lied wou speel
          wat deur al ons grys en helder ure
          deur al die mure wat ons bou
          soeter as die môre sou sing
          sagter as weemoed
          en sonder om te skryn

miskien wou hulle régte verse hê, in dié pre post moderne tyd;
gedigte wat klinies deur die brein moes spoel tot op die blad,
sonder om te "hoor" hoe jou woorde my taal se leivore verlê
’n Rilke in Afrikaans

Ek wonder of jy nou in die salon daar bo
Deel vorm van die romantiek, of dalk ’n ander kliek?
En of jy maar soos altyd eenkant woorde rangskik
in patrone wat selfs die hemeltaal verander in ’n lied.
In elk geval, ek hoop jy hou vir my ’n plekkie oop
Sodat ons tog die ongeprate woorde as gedagtes kan ervaar
Voordat dit verder vloei in die volgende een se bloed

Jan
Daar waar jy nou in die groot stilte tussen sterre woon
Stuur ek jou ’n enkel woord om te behou: vergiffenis

  

Klik hier vir  kommentaar oor hierdie gedig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top