Bulk die taalkoeie in Afrikaans, Philip de Beer?

  • 0

Ek kan Philip de Beer nie te veel verkwalik vir sy flou redenasies nie, hy is nog jonk en immers deel van die kinders van vandag wat die produk van die ouers, onderwysers, lektore en dosente van vandag is en natuurlik, onder diesulkes, kry jy ook kruipers, lakeie, joiners en omgekooptes, die soort van ding.

Philip se redenasies is so lyfloos dit lyk asof sy brief die opdrag van een of meer van sy meerderes hierbo genoem kan wees (net soos James Michener se The Covenant):

Sy punt nommer een kom daarop neer dat hy sy sterre dank vir Engels omdat daar van 2011 meer Engels op kampus gaan wees. ’n Sirkelredenasie; hy dink nie daaraan dat daar meer Engels gaan wees júis omdat meer Afrikaanssprekendes dit maar gelate aanvaar nie.

Met punt nommer 2 kom mens agter hy is onder die indruk mens moet in Engels onderrig wees om Engels te kan praat. Ek weet nie hoe hy mense beskou wat Duits en/of Frans ook kan praat nie want hy moet tog weet dat diesulkes nie in Duits en Frans tegelykertyd onderrig kon gewees het nie.

In sy punt nommer 3, behalwe vir dieselfde mistasting soos beskryf in nommer 2, besef hy nie sy graad is ’n bewys van die kennis wat hy opgedoen het deur die te verwerf en, die wat hom uiteindelik in diens gaan neem, sal wil hê hy moet daardie kennis kan toepas. Dit help net mooi four call (verskoon die Engels) hy’s vlot in Engels maar presteer nie in sy werk nie, daarvan het ons baie voorbeelde hier.

Sy vierde punt is geen redenasie nie; dis persoonlike smaak en mening. ’n Ander student mag dalk hou van ’n Armeense subkultuur op die kampus, nog ander mag hou van die wonderlike studentelewe wat vD (voor demokrasie) bestaan het. Hy praat ook van die ’wit-Afrikaner-Calvinis-houding en belaglike backward-looking debatte’. Ek is nou nie op kampus om te weet waaroor hierdie debatte gaan nie maar ek vermoed die soort van debat sou nie gebeur het as die huidige backward-sliding-toestand nie geheers het nie.

Die mening uitgespreek in punt 5 is kensketsend van die ruggraatlose en gelate houding van die taalkoeie (teenoorgestelde van taalbulle): Iemand wat bloot versoek dat sy grondwetlike regte erken word sou nou aggressief wees en die taal meer skade as goed doen. As hy tot dusver nog elke jaar geslaag het, het hy vir seker die insig om te sien dat die taal skade berokken word; alreeds vertel dosente vir Jasper die twak dat Afrikaans nie opgewasse genoeg is vir sekere begrippe nie.

Hy hoef ook maar net radio te luister of TV te kyk om te sien hoe die taal verkrag word en dat ouens met sy houding verantwoordelik daarvoor is dat Afrikaans aan ’t verdwyn is. Indien dinge so aangaan soos nou op US, UP en UOVS gaan Afrikaans binnekort nie eers meer gepraat word nie.

Phil, en sy meerderes wat hom beïnvloed, besef nie Engels was ook op ’n stadium in min of meer dieselfde posisie as Afrikaans nou. Vandag is Engels in 'n baie sterk posisie wat getuienis is van die feit dat die Engelsman van destyds nie die gelate en slapgathouding van die taalkoeie aangeneem het nie. Wat taal betref geniet die Engelssprekende vandag wonderlike voorregte en hulle kan hulle voorgeslagte, vir hulle mannemoed en kragdadigheid, bedank daarvoor. Sal ons nageslag eendag dieselfde van ons kan sê? Definitief nie as dit van taalkoeie soos Phil en prof De Vos afhang nie.

Phil, en sy raadgewers, moet hulle oë oopmaak en besef die jag op, en afkeer van, Afrikaans soos gemanifesteer op onder andere US, het niks met filantropie te doen nie, met ander woorde dat nie-Afrikaanssprekers ’n kans tot geleerdheid gegun word nie; daarvoor is daar tog immers anderstalige universiteite. Hierdie jag op Afrikaans is bloot om die Engelstalige universiteite uit die bed te help wat hulle vir hulself opgemaak het en die taalkoeie, soos De Vos, is te naïef om dit raak te sien of te skaam om te erken dat hulle dit intussen agtergekom het.

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top