“Buite sy natuur”: vrae rondom Johan Engelbrecht se Kaffertjie

  • 0

Kaffertjie is ’n roman oor verspeelde kanse en geleenthede. Nie eens die treffende voorblad en die polities verkeerde titel kan die roman red nie. Wat ’n boeiende en fassinerende storie en ontginning van die rasproblematiek in die ou Suid-Afrika kon gewees het, het egter misluk. Die roman probeer die absurditeite van die apartheidswette soos die Groepsgebiedewet en die obsessiewe rassuiwerheid onder die KP aan die kaak stel, maar slaags myns insiens nie daarin nie. Ek sou graag wou sien wat doen iemand soos Jeanne Goosen met hierdie verhaal van die jong swart kind, Raymond Vuyo Xele, wat deur die twee ouer witmense grootgemaak is. Goosen het trouens in Ons is nie almal so nie oortuigend oor die rasproblematiek geskryf. Tematies sluit die roman ook aan by Marlene van Niekerk se Agaat, wat handel oor die jong swart meisie Agaat Lourier wat deur die wit Milla grootgemaak word.

Ná die lees van die roman, is daar egter etlike vrae wat by my bly spook:

1) Is die verteller, Susanna Magdalena, wat al in haar tagtigs is, oortuigend? Is sy konsekwent in haar weergawe en perspektief? Of is sy nie soms net té onoortuigend slim nie? Kom sy nie net op die regte tyd met die regte politieke frase vorendag nie? Vergelyk bv die etimologiese spel met apartheid op p 49.

2) Wat is die sentrale stelling van die roman – swart kinders wat in Afrikaanse, godvresende huise grootword, is beter daaraan toe as wanneer hulle onder hulle eie mense bly? Hulle word ere-wittes wat die Christelik-beskaafde norme uitleef en sodoende aan ’n lewe van armoede, mishandeling en ellende ontkom? Ds Kotie MacDonald verwys na die grootmaak van die kind “buite sy natuur” (p 206) wat op die lang duur problematies kan wees.

3) Word die probleme in die roman nie net té maklik opgelos nie? As die een kerkdeur toeklap, word ’n ander gender-vriendelike een oopgemaak. As die KP kla, dump ons die kind vireers in die townships?

4) Van gender gepraat: die roman lewer nogal insiggewende kommentaar op die rol van Paul die patriarg en voorvatter in op kerklike en munisipale terrein. Maar word dit deurlopend en oortuigend aangebied?

5) Is die A-team destyds Saterdagaande uitgesaai? (Ek kan nie onthou nie.)

6) Was daar in die tyd waarin die teks afspeel, reeds so ’n beheptheid met Vigs? Mens kry die indruk dat die terugskouende perspektief van die verteller nie oral oortuig nie.

7) Die plakkaat van Andries Treurnicht bo Tossie se bed wat op bl 96 beskryf word: Is dit darem nie net te oordadig-simbolies nie?

8) Word daar nie té simplisties met die verlede (en die hede) omgegaan nie? Word ideologiese konstrukte soos “Swart gevaar” en “vrees” nie té maklik afgekam nie? Of is dit ‘n (onsuksesvolle) poging tot satire?

9) Is die naamkeuse van Tossie (afgelei van Tsotsi) en Liefie nie irriterend en te dik vir ’n daalder nie? Ek voel ook onseker oor “Ek is Tossie – Liefie se KP-kaffertjie”; veral omdat die stelling so ’n sterk polities-ideologiese inslag het en nie net as satiries gelees kan word nie.

10) Is die kentering wat by Paul intree (p 163) oortuigend genoeg? Kry Paul, net omdat Ester Tossie so baie mis as sy in die kerk is en dit teenoor hom noem, ‘n heeltemal ander siening van dinge sodat hy bereid is om sy politieke toekoms op die spel te plaas?

11) Wat wil die roman eintlik bereik? Wil dit die geskiedenis opnuut vir verligte witmense interpreteer? Wil dit die gewete oor die apartheidverlede sus? Wil dit vir ons sê dat die witmense in die land eintlik altyd pro-swart was en nooit gediskrimineer het nie?

12) Is die toon van die roman oortuigend? Dit wil spot met die KP en die verlede, maar die spot word nie deurlopend aangewend nie. Dis asof die teks op twee stoele wil sit: dit wil kritiseer en bespot, maar “ons” (die wit Afrikaners) ook op die skouer klop.

Engelbrecht moes, voordat hy die roman geskryf het, besluit het hoe hy die storie gaan aanpak. En selfs al is die karakters almal op regte mense gebaseer, oortuig dit steeds nie. Die outeur moes besluit het om deurgaans met die rassistiese Suid-Afrika te spot en dit deurdag en oortuigend te doen. Of hy moes besluit hy gaan preek en dit by monde van sy verteller konsekwent en oortuigend gedoen het.

Kaffertjie word uitgegee deur Zulu Planet Publishers. ISBN: 1-920153-02-0. Eerste uitgawe, 2006. Die roman is ook met die Jan Rabie-Rapportprys vir Prosa bekroon.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top