Bruidzilla deur Marion Erskine: ’n resensie

  • 0

Bruidzilla
Marion Erskine
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795802300

’n Troue is ’n lekker ding. Daar is gewoonlik smaaklike eetgoed, die meeste van die gaste doen moeite om respektabel te lyk, en as jy gelukkig is, het die bruidspaar besluit op ’n Kaapse vonkelwyn vir die heildronke. Hopelik is almal by die troue ook bly vir die bruid en bruidegom se onthalwe en beteken dit die meeste mense is darem ook in ’n redelik goeie bui. En soos wat die Kaapse vonkel vloei, so verbeter die kollektiewe luim dan nou ook. As jy nié van troues hou nie, is jy waarskynlik ook een van daai suurkouse wat moan oor Kersversierings in die Checkers en wat RSG afdraai sodra Boney M se “Mary’s boy child” begin speel. Of dalk is jy, bless your heart, voor die kansel in die liefde verlaat. Laasgenoemde is die enigste geldige rede om nie entoesiasties hande te klap as die bruidspaar die dansbaan open nie.

Omdat ’n troue soveel emosies opwek, en daar só baie dinge in die bestek van ’n paar uur gebeur, is dit g’n wonder nie dat dit so ’n lekker tema vir kreatiewe denkers is om mee te speel. Daar is mooi klere, ’n flair vir die dramatiese, trane, musiek, kos, die inevitable flou grappies van ’n nefie van die bruidegom wat opslag ’n spreekbeurt wou hê, en natuurlik, bo alles, die liefde. A, die liefde. Die één enkele ding wat skrywers laat skryf, musikante laat sing en volwasse mans in volslae idiote laat verander.

Kortom, troues (en die liefde) wérk. Hetsy in flieks of boeke of liedjies. As jy Bridesmaids, Four Weddings and a Funeral of Wonderlus (onder andere) gekyk het, sal jy weet dat die Happily Ever After-gegewe met vrug en sukses aangewend kan word. Selfs ’n punk rocker soos Billy Idol weet dat sommige dae net mooi perfek is vir ’n wit bruilof.

Maar kom ons wees eerlik: Om ’n troue te reël is ’n heel ander ball game. Die bruid wat so stralend voor die kansel staan en glimlag het beslis en sonder twyfel iewers tot die aanloop van die groot dag ’n paar trane gestort. Haar ma en suster ook. Want om ’n troue te reël is vrek harde werk.

In Bruidzilla, Marion Erskine se nuutste boek, verskuif hy die fokus dan grootliks van die huweliksdag na die reëlings vooraf. Soos die meeste ingeligtes weet, neem dit maande, selfs soms ’n jaar se beplanning om ’n troue suksesvol aanmekaar te slaan. En dan woeps, binne ’n paar uur is die hele affêre verby. As jy jou oë uitvee, is die chocolate mousse op, een verlore klein blommemeisie op ’n sugar high dans soos ’n besetene op die maat van ’n ou Roxette-treffer, en iewers sit ’n ouerige omie aan die bruid se kant met ’n bierbotteltjie gebalanseer op sy knie en knip ’n uil. Dit was lekker, maar nou is dit klaar.

Tillie, ’n vrolike dog effens vervelige waitress, se beste vriendin sedert graad 1, Milanka, vra haar om haar troue vir haar te reël. En dit so ewe met ’n man met wie Tillie sélf ’n kortstondige spark beleef het. Hulle moet regtig baie goeie vriendinne wees, het ek by myself gedink, want benewens die feit dat Milanka sonder moeite haar vriendin se potensiële kêrel afvry, is sy doodeenvoudig net nie nice nie. Sy is ’n pyn. Sy is overbearing, ongeskik en pleinweg blerrie onaangenaam. Soveel dat ek een of twee maal die boek wou neersit en dit glad nie weer sou wou optel nie. Tillie, aan die ander kant, vreet als op wat die walglike Milanka na haar kant toe gooi. Onmoontlike eise word aan haar gestel en heel gedwee probeer die arme Tillie om als te doen wat Milanka van haar verwag. Natúúrlik met katastrofiese gevolge.

Soos wat die storie egter vorder, leer mens die twee meisies beter ken, begin jy begrip kry vir hulle vreemde gehegtheid aan mekaar en voel jy later wragtag selfs deernis vir die blonde bruid uit die hel. Erskine kry die bykans onmoontlike reg – hy laat jou van opinie verander, en dít is heel knap gedaan.

Bruidzilla gee nie voor om enigiets anders te wees as wat dit is nie. Dit is ligte vermaak. Dit is The wedding singer op steroids. Dit laat jou kortstondig vergeet van pandemies en lockdowns en partytjies met slegs ’n paar genooide gaste. Dit doen presies wat dit moet doen. En al is daar hier en daar ’n geykte karakter of twee, vergewe mens dit sonder skroom, want daar is lekkerlagmomente, so reg in die kraal van Donatello en Volksie, Erskine se tweede boek wat in 2010 verskyn het.

Tillie en Milanka is die perfekte teenmiddel vir ’n goor ou jaar. Vat hierdie stukkie sonskyn saam see toe. Gaan skop jou skoene uit, slaan die sambreel op en skink ’n glasie Kaapse vonkel. Verlustig jou vir ’n oomblik in die troue van die jaar, maar probeer om nie kliphard jou moer vir die onmoontlike Milanka te strip nie. Want glo my, jy gaan wil.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top