Ek het ’n jong vriendin, Dee, wat ook opgaan in rockmusiek – in so ’n mate dat as die musiek regtig goed is, sy ’n byna onbeheerste drang het om haar T-hemp af te pluk. Bruce Springsteen steek ’n vuur in my ook aan; ek wil – ten volle geklee – op die verhoog storm en saam met hom sing en dans en dankbaar wees oor hierdie een kans op lewe wat ons kry.
Nie dat ek altyd ’n vreeslike Springsteen-aanhanger was nie. Ek het sy musiek as 22-jarige deur die destydse Scope-tydskrif se musiekafdeling leer ken. Ek het van Scope se resensies gehou en die musiek waaroor daar geskryf is, was ook wêrelde verwyder van die Afrikaanse middelklasomgewing van Pretoria se Moot – ’n groot pluspunt vir my. Die album onder bespreking was Nebraska (1982), ’n versameling uitsiglose stories oor reeksmoordenaars, buitestanders, verloorders. Springsteen se vaardigheid as verteller het my onmiddellik geboei. Vandag wonder ek of Nebraska nie tog nader aan die Moot was as wat ek destyds wou weet nie. Op “Used Cars” sing hy:
Now, mister, the day the lottery I win
I ain't ever gonna ride in no used car again.
En ek onthou hoe ek en my sussie opgewonde by die eetkamervenster staan en wag het vir my pa om met sy nuwe gebruikte motor in Naudéstraat afgery te kom.
Twee jaar later het Springsteen op ons televisieskerms verskyn met “Born in the USA” en“Dancing in the Dark”.Natuurlik het ek saam met my vriendinne regop gesit by die aanskoue van hierdie sexy man en die kykies vol belofte vir die meisies in die voorste ry by sy show. Ons het deeglik kennis geneem van Born in the USA (1984) se omslagfoto met Springsteen se stywe boudjies in daardie jeans wat perfek pas, die rooi kep in die gatsak gedruk. Saam met talle ander vroue het ons fantasieë oor ’n dansery in die donker gehad … en het ek en my vriendinne nie regtig na die ernstige lirieke geluister nie. Ons het gerock en nie verder as die jeans en dít wat daarin is, gedink nie.
En tog. Nadat ek saam gedans en geswymel het, het die Nebraska-stories, die verlate landskappe en verpletterde drome by my kom spook. Ek het geweet Springsteen is meer as ’n mooi gesiggie en sondige heupe. Ek het Born in the USA eenkant gesit sonder om dit behoorlik te ondersoek en Nebraska op die draaitafel gehou.
Iewers langs die pad het ek die dubbelalbum The River (1980) gekoop en sterk met die titellied identifiseer. Ek is ook te jonk getroud en die huwelik sou skaars twee jaar hou. Die lirieke het my diep geraak:
But I remember us riding in my brother's car
Her body tan and wet down at the reservoir
At night on them banks I'd lie awake
And pull her close just to feel each breath she'd take.
Wat het ek alles verloor? En sou dit vir altyd weg wees? was vrae wat ek my afgevra het. Maar ek het ook besef dat daar ander mense in dieselfde bootjie was en dat almal pyn en twyfel het om te hanteer. Dit het my moed gegee.
Dit was egter Wrecking Ball (2011) wat my aandag weer op Springsteen se musiek gevestig het. Die wêreldwye ekonomiese krisis was op ons en het my met vrees vervul; ek het mense gehad vir wie ek moes sorg. Boonop het ek nog altyd ’n probleem gehad met gierige korporatiewe tipes en het ek bevestiging vir my opinies in die musiek en lirieke op Wrecking Ball gekry.
Ek het hierna werk daarvan gemaak om die res van Springsteen se albums te ondersoek en met elke luister ’n groter aanhanger geword. Hier is ’n storieverteller van hoogstaande gehalte aan die woord; hier is vitaliteit, hier is passie, hier is politieke en sosiale kommentaar, hier is hoop. Alles verpak in meesleurende rock en topgehalte vakmanskap.
Ek het gereken die kans is skraal om Springsteen ooit op die verhoog te sien, omdat hy darem al ouer as sestig jaar was toe Wrecking Ball verskyn het. Maar hy het almal verras en in 2011 is die Europese been van die Wrecking Ball-toer aangekondig. Ons het ’n wêreldtoer op hande gehad! Ek sal nooit vergeet toe vriendin Alta my laat weet het toe die stede waar shows gaan wees bekend gemaak is nie. Uiteindelik is Engeland aangekondig en besluit ons op Sunderland en Manchester. Waaghalsig en entoesiasties bespreek ons ongereserveerde staanplekke in Sunderland met die plan om plek in die “pit” (ekwivalent van die Golden Circle) te kry.
In Sunderland het dit ons agt ure se staan (en ’n bietjie sit) in ’n deurdringende Engelse motreën gekos, maar ons is met ’n staanplek so drie rye van die verhoog af beloon. Hierna het nog drie ure se staan tydens die show gevolg, maar dit het soos ’n droom verbygevlieg. Eintlik was die oomblik vir ons albei te groot; ons kon dit nie heeltemal glo toe die E Street Band uitstap met Little Stevie van Zandt en Springsteen heel laaste nie.
Die show was vol hoogtepunte, maar wat my gegryp en emosioneel gewurg het, was die falsetto lamentasie waarmee Springsteen “The River” afgesluit het. Daar is soveel verdriet in daardie stukkie musiek dat mens lus voel om ook op die plek aan die huil te gaan oor alles wat jy verloor het. En tog gee Springsteen gee mens altyd hoop ook, dink jy baie maal oor alles wat jy gekry het.
Tydens die show het ek met tye gevoel asof ek by ’n herlewingsdiens is. Ek was baie jare laas in ’n kerk, maar ek kan my voorstel hoe dit in ’n charismatiese kerk moet gaan as mense meegevoer word. Die gees het my daardie aand behoorlik gevat en ek het met my vuis of arms in die lug gestaan en saamgesing, saamgehop, saamgedans en saam stil geword. Springsteen roep nie verniet gereeld in sy shows: “Can you feel the spririt?!” uit nie. Hy sweep op, hy weet hoe om ’n stadion vol mense met hom saam te vat op ’n rock-trip soos geen ander nie.

Nadat ons van Engeland teruggekom het, het ons so ’n bietjie Bruce-blues gekry. Ek het geglo ek sal nie weer die geleentheid kry om ’n Springsteen-show by te woon nie.
En toe speel 702 Talk Radio een oggend laat in 2013 die eerste akkoorde van “Born in the USA”, David O’ Sullivan sê: “At last, at last!” en ek gooi amper my kar om. Springsteen is op pad Suid-Afrika toe! Ek glo nie iemand het verwag dat hy en die hele E Street Band ooit hierheen sou kom nie. Dis ’n groot klomp mense wat betaal moet word en volgens my, en my paar mede-aanhangers, het hy nie genoeg ondersteuners hier nie. Maar ons sou verras word: ek het van ’n hele klomp vriende en kennisse geweet wat kaartjies vir die Johannesburg-show in die FNB Stadion gekry het. Alta se Bruce Springsteen South Africa Facebook-blad het ook behoorlik lewe begin kry en ons het kontak gemaak met talle internasionale aanhangers wat op pad was na Suid-Afrika (hoofsaaklik Kaapstad toe).

Alta het opgevlieg van die Kaap af en op 1 Februarie het ek, sy en nog vier vriendinne buite die FNB Stadion in die tou gaan val vir goeie plekke in die Golden Circle. Binne het ons pas ons gebied met baadjies afgemerk, een-een toilet toe gegaan of bier gaan haal en reggeskuif vir die twee ure wat ons moes wag toe die eerste, totaal onverwagse hoogtepunt gebeur. Ek het ’n paar kitaarklanke gehoor en toe ’n gejuig. Ons het almal soos vlugvoetige tieners regop gespring: Bruce het op die verhoog uitgekom en drie akoestiese liedjies vir die wagtendes in die Golden Circle, die ware kanniedood-aanhangers, kom sing. Hy doen dit skynbaar af en toe as ’n blykie van waardering vir die moeite wat mense doen om te sorg dat hulle vroeg kom om goeie plekke te kry. My hart het sommer van vooraf teenoor die man vermurwe. Hy het sy mondfluitjie saamgebring en “Working on the Highway”, “I’ll Work for your Love” en “Growin’ Up” gesing. “I’ll Work for your Love” was boonop ’n versoek deur ’n vrou wat heel voor gestaan het en agterna sy mondfluitjie gekry het. Ons het by die hemelpoorte aangekom. (En “Springsteen” het “Bruce” geword.)

Die FNB-show het 3 ure en 22 minute geduur en die speellys was die langste op die Suid-Afrikaanse toer: 31 liedjies. Vir 3 ure en 22 minute was ons in die hemel, al was die Golden Circle by tye minder hemels (maar mens is geneig om gou die elmboë in gesigte, pompe in ribbes en raakgetrapte tone te vergeet). Een van die hoogtepunte van die show was toe die reën uitsak en mense sonder reënjasse bly dans en Bruce vorentoe kom, sy gesig na die hemel lig en sing en kitaarslaan asof dit sy laaste show ooit is. En die nat T-hemp wat aan daardie beroemde bolyf kleef, het hierdie die beeld in my geheue verewig. Die hele reëndansery het vir my ’n element in gehad van doelgerigte trotsering van enigiets wat na ’n mens se kant kan kom. Ons was deurdrenk, maar ons sou nie opgee nie. Die reën kon net sowel tydens “No Surrender” begin geval het – derde op die speellys en die lied waarna ek luister wanneer daar van my verwag word om sterker te wees. (“No Surrender” is aangevra deur Bruce se "first black fan" wat heel voor gestaan het. Tydens die “voorvertoning" van die drie liedjies het Bruce die man en sy plakkaat raakgesien en gesê: "I'll see you in the show." Ek was dolgelukkig, want ook my plakkaat het vir “No Surrender” gevra. )

Net voor die encore het Bruce hulde gebring aan Madiba met Creedence Clearwater Revival se “Have you Ever Seen the Rain” ... en daar hou dit vir ’n paar minute op met reën! ’n Heerlike, betekenisvolle toevalligheid wat ons nie gemis het nie.
In “Tenth Avenue Freeze-out” (die lied oor die E Street Band se beginjare) is die ontslape Clarence Clemons en Danny Federici weer onthou. Bruce is lojaal en hy sal seker maak dat hierdie vriende wat saam met hom gedroom en gewerk het, nie vergeet word nie.
Die naderhark van Tom Morello op kitaar was ’n weldeurdagte besluit wat vrugte afgewerp het. Bruce is vernuwend en pas by die tye aan. Op Wrecking Ball het Michelle Moore byvoorbeeld op “Rocky Ground” selfs ge-rap tussen die gospelstukkies ("I'm a soldier") deur. En nou, vir die High Hopes-toer, het hy een van die opwindendste kitaarspelers gekry om Nils Lofgren en Stevie van Zandt by te staan. Morello bring nuwe energie en ook ’n hoop sex appeal – asof daar nie reeds genoeg op daardie verhoog is nie. (Dee het na die show vir my gesê sy wou weer haar T-hemp afpluk, hierdie keer oor Morello se kitaarspel.)
Baie is al geskryf oor Bruce se fenomenale energievlakke. Vir my was die ooglopende plesier wat hy uit die musiek en gehoor put, die uitstaande kenmerk van sy optrede in die FNB Stadion. Hy het gelukkig gelyk. En jonk. Beslis jonger as amper twee jaar gelede in Sunderland. Sy oë het geblink en die glimlag was deurtentyd daar. Wat mens ook keer op keer tref, is die moeite wat hy doen om ’n band met die gehoor te vorm. Dis nie net sý show nie, dis ons almal s’n.
Daar was groot getalle jongmense in die Golden Circle, baie meer as in die "pit" in Sunderland. Hulle het nie al die woorde geken soos ons geharde aanhangers nie, maar hulle het saamgedans en is saam meegesleur. Ek is van mening dat Bruce
heelwat Suid-Afrikaanse aanhangers bygekry het. Ek het baie jongmense hoor sê: "No ways, ek kan nie glo hy is al so oud nie!" of "Freaking hel, julle, hy is baie ouer as my pa!" Van my kennisse wat net ’n paar van sy meer gewilde liedjies geken het, het ná die Suid-Afrikaanse toer gesê hulle gaan doelgerig moeite doen om sy musiek beter te leer ken. ’n Vervullende tyd wag op hulle.
Die FNB-show is met ’n akoestiese weergawe van “Thunder Road” afgesluit. Dis moontlik my gunsteling-lied. In Manchester se Etihad Stadion het ek hoendervel gekry toe veertig duisend mense dit uit een keel saamsing. In die FNB Stadion het genoeg mense in die Golden Circle dit geken om met oorgawe te kon saamsing. Ek het weer hoendervel gekry.
Net voor “Thunder Road” het Bruce dankie gesê dat ons na die show kom kyk het. Hy hou van die land en sy mense. En toe maak hy die belofte: "We will come back. I promise."
Op pad terug na ons kar het ek en my vriendinne ’n belofte aan mekaar gemaak. Ons sal weer en weer na hom gaan kyk. Solank as wat hy optree, sal ons ’n plan maak om hom te sien.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Nadia, ek dink jou artikel is 'awesome'. Terwyl ek gelees het, het dit gevoel of ek weer daar was. Baie dankie!
So jammer ek het dit gemis. Dit klink of dit baie lekker was...
Heerlike artikel Nadia!!! Dit was 'n ongelooflike ervaring om met jou te deel en nou verstaan ek hoekom jy so passievol is oor sy musiek/lirieke.
Nadia, sy show was nes jy dit beskryf: “’n herlewingsdiens”. Ek het in my lewe al baie Internationale rock bands gesien, en Bruce se show was een van die bestes!
Og, wat het ek tog gemis ... Heerlike skrywe Nadia.