
Foto: Canva
Broederooms
die Broederooms het mos besluit
om hulle seuns te offer vir Die Saak
stomme Abrahams!
terwyl Ooms en Tannies blindelings
fôkken trop skape!
die Groot Krokodil aanbid
huh, Broederooms?
ministers en bevelvoerders
speel fô by fô met unimogs en buffels
skiet biltong en ivoor
boer (moer!) met sy roer!
hou dronknes, sing, spog
wyl troepe wagstaan
en walg!
oor vulgêre verkwisting
van geld en drank
en menselewens!
huh, Broederooms?
troepe koop gedwonge naïewe kak songs
met verbeurde soldy!
van liedjiedrolle
wat sing van Troepie Doepie
en ander soetsappige stront!
want Broedertannies verkleinwoord mos alles
te fôkken oulikies!
versamel tandepastatjies, sepies en koekies
was dit maar!
vir Krismis op die Grens
om die waarheid te verdoesel?
want ons trek mos trots laer teen die Groot Gevaar
verkondig verlossing in Susterkerke
skrou luidkeels oorwinning vanaf kansels
want ons Saak is mos reg!?
huh, Broederooms?
maar God is toe nie julle s’n nie:
die Ovambo-kind se hempsak
hou dieselfde Bybel
dieselfde tekste onderstreep
wat vertel van julle Here God
wat julle beskerm
wat julle fakkel dra
wat julle vyand verdelg
aan wie se kant is julle God?
wat is julle god?
huh, Broederooms?
maar ons gewone donders
moet die bullet bite
letterlik!
terwyl sommige landuit vlug
gewetenswroegings?
skytbang?
word vele
vrouens
kinders
ledemate
siele
loopbane
geoffer vir Die Saak
huh, Broederooms?
bou julle steeds gedenkmure vol heldename
lê plegtig kranse
roep God by as getuie
vir regverdiging?
wyl ’n moeder lewenslank vertoef
by oorblyfsels in ’n graf?
huh, Broederooms?


Kommentaar
Nog steeds relevant. Op die man af.