Briewe van die huis

  • 1

Ons is terug in die basis. Die eerste ding wat ek doen is om onder die stort te staan en net die vuil en stank en ja, ook die vrees, van my af te was. Ek kry my pos: lekker baie briewe en pakkies. Van die pakkies is van Thys en Bets met lekker biltong en Milo, die briewe is ’n lekkerte met dié van my groenoognooi wat ek ek hou om laaste te lees, Ma se briewe met die rumatiekhandskriffie lees ek eerste. Sy vertel van die plaasbedrywighede en van Pa se gesondheid, pryse van aartappels en die koringprys. Hoe ver verwyderd van waar ons was, dit was so onwerklik. Hier loop ons dag na dag, ons sien die die wreedheid van die mens - ook onsself, want niemand kom ongeskonde uit ’n oorlog nie. Maak dood of word doodgemaak en soos die oorlog eskaleer, so word ons en die terroriste wreder en wreder.

Die laaste paar briewe is van my nooi. Ek maak nie die brief dadelik oop nie. Dit is soos ’n boks sjokolade - watter een eerste? Ek druk die brief teen my vas asof dit my nooi hier by my is, ek skeur die brief mooi oop, wil nie die koevert met haar mooi geliefde handskrif verniel nie. Hoeveel jare het ek nie daardie briewe van haar aan my en van my aan haar soos ’n kleinnood gebêre nie ...

"My liefste bulletjie ..." soos sy my genoem het.  Hoe verlang sy na my, hoe lief sy my het en hoe sy uitsien om my weer te sien. "Die tyd gaan so stadig verby," verwoord sy my gevoelens ook. Op ligter en positiewer trant gesels sy dan verder en bemoedig my om positief te bly en te glo vir dit waarvoor ons veg. Hoe kosbaar was dit nie, nie net vir my nie, maar vir elkeen wat ’n brief van ’n nooi of sy vrou gekry het. Dit het ons versterk om voort te gaan.

Sy sluit haar brief af met die woorde van "ons" lied.

These ’miss you nights’ are the longest.

Boer in Beton99

  • 1

Kommentaar

  • Beste Boer in Beton

     
    Ek volg jou briewe mbt die grensoorlog met belangstelling.  In die brief hierbo spreek dit duidelik hoe belangrik pos vir die soldaat is.
     
    Ek was in die sestigerjare een van die stigterslede   van die Burgermageenheid, 11 Veldposeenheid. Gedurende Desember 1974 of 1975,  het ek en my bevelvoerder, van die SAW opdrag ontvang om die chaotiese posdiens op die grens te ondersoek en stappe te neem om dit op 'n gesonde grondslag te plaas.  Gedurende daardie tyd het min mense in die RSA geweet wat bo in Namibie en Angola aangaan en ons is in groot geheimhouding weg Grootfontein toe en daarvandaan per militere vliegtuig na verskeie plekke in Angola.  
     
    Om 'n lang storie kort te maak,  ons het o.a.  gereel dat daar 'n groot Veldposkantoor  [wat ook die verspreidingskantoor was] in Grootfontein op die been gebring word en het ook op verskeie plekke aan die grens sub-veldposkantore gestig.
     
    Ek het dikwels 'n beurt geneem as bevelvoerder van die Grootfontein Veldposkantoor en baie maal  trane van blydskap van  troepe gesien wat pos of 'n pakkie van hulle geliefdes in die RSA ontvang het.
     
    Dit was vir my 'n wonderlike voorreg om ons manne op hierdie  wyse tot diens te wees.
     
    Enjee
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top