Ons is terug in die basis. Die eerste ding wat ek doen is om onder die stort te staan en net die vuil en stank en ja, ook die vrees, van my af te was. Ek kry my pos: lekker baie briewe en pakkies. Van die pakkies is van Thys en Bets met lekker biltong en Milo, die briewe is ’n lekkerte met dié van my groenoognooi wat ek ek hou om laaste te lees, Ma se briewe met die rumatiekhandskriffie lees ek eerste. Sy vertel van die plaasbedrywighede en van Pa se gesondheid, pryse van aartappels en die koringprys. Hoe ver verwyderd van waar ons was, dit was so onwerklik. Hier loop ons dag na dag, ons sien die die wreedheid van die mens - ook onsself, want niemand kom ongeskonde uit ’n oorlog nie. Maak dood of word doodgemaak en soos die oorlog eskaleer, so word ons en die terroriste wreder en wreder.
Die laaste paar briewe is van my nooi. Ek maak nie die brief dadelik oop nie. Dit is soos ’n boks sjokolade - watter een eerste? Ek druk die brief teen my vas asof dit my nooi hier by my is, ek skeur die brief mooi oop, wil nie die koevert met haar mooi geliefde handskrif verniel nie. Hoeveel jare het ek nie daardie briewe van haar aan my en van my aan haar soos ’n kleinnood gebêre nie ...
"My liefste bulletjie ..." soos sy my genoem het. Hoe verlang sy na my, hoe lief sy my het en hoe sy uitsien om my weer te sien. "Die tyd gaan so stadig verby," verwoord sy my gevoelens ook. Op ligter en positiewer trant gesels sy dan verder en bemoedig my om positief te bly en te glo vir dit waarvoor ons veg. Hoe kosbaar was dit nie, nie net vir my nie, maar vir elkeen wat ’n brief van ’n nooi of sy vrou gekry het. Dit het ons versterk om voort te gaan.
Sy sluit haar brief af met die woorde van "ons" lied.
These ’miss you nights’ are the longest.
Boer in Beton99


Kommentaar
Beste Boer in Beton
Weet jy van my oupa? Johannes D Olivier. (Oom Hansie) Ek probeer meer oor hom uitvind.
Johannes Diederick Olivier was born on December 19, 1919, in Middelburg, Eastern Cape, South Africa.
https://www.ancestry.com/mediaui-viewer/collection/1030/tree/170122715/person/192210721732/media/c00f6594-c080-4f4e-9c60-1383b558f74e?_phsrc=XDW2&usePUBJs=true&galleryindex=8&albums=pg&showGalleryAlbums=true&tab=0&pid=192210721732&sort=-created