Woorde... 'n wapen op sigself. Met woorde kan mens heelmaak, kwets en mense by die dood laat omdraai of troos en gelukkig maak. Woorde is die vergestalting van die sprekende mens se binneste en dit wat daar aangaan. Hoeka al waarsku die Woord vir ons dat waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Mattheus 5:8; 12:34; Prediker 9:3; Markus 7:21; Lukas 6:45, ens) en dat die mens die gevolge van sy woorde sal dra en dit hom selfs tot oordeel kan strek, is ook hierby ingesluit.
Woorde het baie krag. Dit laat die toehoorder selde onaangeraak en meer dikwels as nie, is daar reaksie op ander se woorde. Hierby kan mens maar ook beelde insluit, soos byvoorbeeld die spotprente van koerantjoernaliste, want hulle gebruik al te dikwels die beeld om die plek van woorde in te neem.
Met woorde pleeg mense baie graag geweld. Woorde kan net so gewelddadig wees as wapens...
Die tragiese fiasko in Parys Frankryk die afgelope week is 'n sprekende voorbeeld. Verskeie joernaliste van die spotkoerant Charlie Hebdo en andere is deur ewe fanatiese Islamiete met outomatiese gewere afgemaai... omdat die koerant die spot gedryf het met 'n Islamitiese ikoon.
O, daar is groot bohaai, natuurlik te verstane. Wat die drie Islamitiese ekstremiste gedoen het, is verwerplik en absoluut onregverdigbaar. Meeste mense toon solidariteit met die koerant en die vermoordes.
Maar wat is die werklike perspektief? Die Charlie Hebdo joernaliste het onder die waan en dekmantel van demokrasie die ekstremiste met woord-geweld bygeloop en (vanuit die ekstremiste se oogpunt gesien) 'n verskriklike hou toegedien. Ongevraagd en antagonisties en uiters ekstremisties in die naam van sogenaamde vryheid van uitdrukking en hulle soort venynige demokrasie... En toe kom die gevolge - dié wat met woorde (beelde) eerste aangeval het, word in vergelding en wraak óók aangerand op 'n ander meer fisiese manier en die res is tragiese geskiedenis. Die arme joernalis wat nie te lank gelede nog grootdoenerig en meewarig gespog het dat dit vir hom beter is om staande gedood te word as om op sy knieë te bly leef, se wens is toe toegestaan deur dié wat deur hom bespot is... of hy gestaan het en op sy knieë was toe hy gewetenloos deur sy spot-prooi afgemaai is, weet ons nie...
Die feit is dat beide kante in hierdie tragedie hul eie redes het, met duisende wat hulle ondersteun, waarom hulle glo hulle is reg en regverdig om te doen wat hulle gedoen het. Die resultaat is tragiese lewensverlies terwyl geen probleem opgelos is nie, maar meer probleme geskep is.
Geeneen van die twee aanvallende kante het binne die perke van aanvaarbaarheid gebly nie. Geeneen het dit op 'n eerbare, verantwoordelike manier hanteer nie – die feit is dat hulle polities en ideologies van mekaar verskil.
As mense met mekaar verskil, is debat die antwoord. Selfs 'n vurige debat. Nooi die ekstremiste uit tot gesprek en debat. Gee hulle kans om hul saak vryelik te stel. Gee jouself kans om nog 'n dag jou saak te kan stel en in debat te tree met diegene van wie jy verskil... Maar al te dikwels is hierdie manier van ordentlike hantering van geskille en verskille nie vir joernaliste goed genoeg nie – sensasie is meer belangrik as die waardigheid van ander en hulle looi meedoënloos met hulle woord-geweld om die twitters te sien tweet en die sensasie soos drankverslaafdes te sien manifesteer – natuurlik direk ten koste van diegene wat deur dié soort van gewetenlose en gewelddadige joernalistiek skromeloos toegetakel word.
Daarom tree niemand in sulke omstandighede met skoon hande uit die stryd nie (dié wat dit oorleef of ongeskonde daarvan afkom, bygesê) want beide pleeg geweld op die manier van sy keuse. Die joernalis met sy woord-wapens en die ekstremis met sy koeël-wapens en al wat oorbly is dat die ou met die beste wapens, die geveg wen, en almal van hulle, uiteindelik die oorlog verloor en treur langs die grafte van die slagoffers...
Ware demokrasie verg dat mense mekaar moet ag en die Waarheid dien.
As mense ander behandel soos hulle verwag om behandel te word en graag self behandel wil word, sal hierdie tipe van ding nooit gebeur nie – dit geld vir sowel die gewelddadige joernalis met sy woord-wapens as vir die geweldadige ekstremis met sy geweer. Dit is wat die HERE van mense, álle mense, verwag (Mattheus 5:44; 7:12), want HY is die HERE van Vrede (Jesaja 48:18; 60:5; 66:12; Romeine 15:33).
Maar in hierdie Goddelose wêreld van sekularisasie het die stomme mense vir hulle 'n nuwe afgod geskep – demokrasie – sonder dat hulle enige idee het wat dit beteken en die verskriklike gevolge wat die onverantwoordelike toepassing daarvan vir mense kan inhou.
Ware demokrasie is 'n vrye lewe onder die vaandel van die Woord van God en die nougesette nakoming van die Gebooie van God, eenvoudig – die eerste is dat jy die HERE jou God, jou Skepper moet liefhê met jou hele hart, siel en verstand en die tweede, dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Mattheus 22:36-40). Slegs indien jy die eerste beoefen, kan jy begryp wat laasgenoemde behels en die wil hê om dit te kan doen. Dit is ware Vrede.
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus, dankie dat jy jou siening oor hierdie belangrike saak met ons gedeel het. Mens se hart gaan uit na die mense en families van diegene wat in Parys afgemaai is, maar daar is voorbehoude. Al is ek nie 'n Moslem nie, moet Moslems se gevoelens ook in ag geneem word. Charlie Hebdo se span het net besluit daar is geen grens nie. 'n Ander ongemaklike gevoel wat 'n mens kry is dat “linksgesindes” absolute vryheid geniet maar dit geld skynbaar nie noodwendig as meer na regs beweeg word nie.
Dr Braam Hanekom roer ook vandag die saak aan (http://www.netwerk24.com/stemme/2015-01-14-daar-is-n-fyn-lyn-tussen-spot-en-vryheid). Het na die aanval gewonder of die Moslems en Katolieke in Frankryk nog nie probeer het om die saak tussen mekaar uit te praat nie. Aan die ander kant as spotters sê daar is geen grens nie, is onderhandelings moeilik, want woorde verloor dikwels teen honende tekeninge, maar steeds moet na oplossings gesoek word. Wanneer 90% of meer saamstem kan wetgewing aanvaar word.
Kobus
Vryheid van spraak beteken nie dat enigiemand goedsmoeds ander se waardesisteem spottend kan aanval nie. Wat in Parys gebeur het, is die uiteindelike gevolg van onverantwoordelike en onbedagsame optrede van 'n koerant wat ten spyte van versoeke vir matigheid van die regering, sodanige versoek verontagsaam het ten doel om sirkulasie vir eie selfsugtige gewin op te stoot.
Dat die betrokkenes vermoor word was een of ander tyd te wagte, veral in 'n land met 'n 5mil Moslem-minderheid. Ongelukkig met hulle selfsugtige optrede is onskuldiges ook in die slag; ook die nou buitensporige uitgawes om sinagoges en moskees te beskerm waarvoor die belastingbetaler voor moet hoes.
Demokrasie, nog nie vervolmaak nie, nl die sekulêre staat, het 'n lang pynlike pad geloop om te kom waar dit tans is, welke pad godsdiens in die verlede vele versperrings in die pad geplaas het. Min wil na 'n Christelike vorm van "demokrasie" eerder outokrasie terugkeer, selfs lande met 'n oorgrote Christelike meerderheid. Die "Christelike outokrasie" sal eers vervolmaak word met die wederkoms, wanneer almal onder die een outokratiese gesag van hulle God sal verkeer.
Demokrasie is nie die uitvloeisel van enige geloof nie, maar die ondervinding van verdruktes wat in opstand teenoor hulle verdrukkers opgestaan het, en waar gepoog word dat sodanige onderdrukking nie weer te laat plaasvind nie.
Moslem Turkye onder Ataturk, in die vroeër twintigste eeu, het die staat van Islam geskei, en Turkye in 'n demokratiese sekulêre staat omskep. Vandag se president poog om die sekulêre staat met 'n teokrasie te vervang, tot almal se uiteindelike ontsegging van sy demokratiese regte.
Die demokratiese regte wat gays vandag vir hulself bewerkstellig het na eeuelange vervolging deur godsdiens aangevuur, het begin met Stonewall in die VSA toe gays gesê het, genoeg is genoeg, en in opstand gekom het, welke opstand in die Westerse wêreld soos 'n veldbrand versprei het. In lande waar godsdiens steeds inspraak op die regering het, word gays steeds vervolg en onderdruk.
Dus is godsdiens se inspraak op enige regering, geen bevordering vir demokrasie nie.
George B,
Ek is ook 'n voorstander van vryheid van spraak en uitdrukking, maar dit is baie beslis nie 'n absolute reg nie. Absolute regte, waar dit gaan in 'n ware demokrasie om die individue se belange uit te balanseer, het geen plek nie want dit gaan net een kant toe en dit op sigself is direk strydig met juis die basiese konsep van demokrasie.
Kru en rou bespotting met venyn as hoofbestanddeel as media-tegniek en kommunikasie-tegniek, is beslis nie aanvaarbaar nie en sal die perke van aanvaarbaarheid baie vinnig oorskry.
Om iemand kru en gewetenloos te bespot en te beledig soos wat uit, onder meer, die Charlie Hebdo-stal kom, is in ieder geval geen kuns nie en baie beslis nie talentvolle joernalistiek nie. Al wat jy nodig het daarvoor, is 'n siek lewensbeskouing en 'n baie basiese vermoë om te kan teken - hulle is net so ekstreem as diegene wat hulle as prooi teiken (en daarmee verwys ek nie na alle Islamiete nie, net die ekstremiste). Daar gaan dit bloot oor sensasie en dit word bevestig deur die nuutste oplaag van Charlie Hebdo van bykans 5,000,000 eksemplare wat vir daardie rede alleen - die sensasie van 'n nuwe bespotting - haas uitverkoop is.
Fyn satire is 'n kuns en mens kan dit geniet, al is jy self die prooi. 'n Goeie voorbeeld is Pieter-Dirk Uys se draakstekery. Charlie Hebdo se span weet daar niks van nie - hulle is besonder baar en kru in vergelyking.
Maar dit is wat Goddeloosheid tot gevolg het. Charlie Hebdo se nuutste oplaag het alreeds juis die tipe reaksie ontlok wat daarby pas - 'n invloedryke Britse Islamiet het dit as oorlogsverklaring teen Islam en meer in besonder hul profeet Mohammed verklaar en nou weet ons wat dit beteken, en wat voorlê ...
Dus, die gewetenlose spottery Charlie Hebdo-styl het geen, maar geen, positiewe resultate nie. Dit bring die slegste in mense uit - uit hulself, want dit wat hulle publiseer is maar die spieël van hulle siele, asook die gewelddadige neiging van sommige van hulle prooi wat na ekstremistiese optrede neig.
Die Charlie Hebdo-tipe joernalistiek het geen plek in 'n gesofistikeerde, opgevoede en gebalanseerde demokrasie nie. Dit is die werk van Goddeloses, dit is satanswerk...
Kobus de Klerk
Kobus
Kobus dis lekker om te meld dat ons skynbaar 'n slag 100% saamstem.
Leopold Scholtz werp nuwe lig op die saak (http://www.netwerk24.com/stemme/2015-01-16-banaliteit-mag-nie-tot-bloed-lei). Die Franse en Britte neem skynbaar nie mense se gevoelens in ag nie, terwyl die Duitsers en Nederlanders meer sensitief is. Volgens Leopold sal die Duitsers nie voorstellings duld van Angela Merkel op die toilet nie.
Net nog dit. Elmar Swanepoel lewer die volgende kommentaar: "Het iemand al werklik Charlie se spotprente bestudeer? Dis op die internet vir almal met Engelse vertaling van die Frans. Ek walg as ek daarna kyk, of dit nou die Pous, Mohamed of die Goddelike Drie-eenheid uitbeeld."
Seënwense vir jou.
George B,
Baie dankie vir die seënwense - wat jou ook toegewens word. Vir my is die grootste seën die persoonlike verhouding met die HERE. Dit is volmaakte seën met wydlopende vertakkings...
Jaco,
Net interessantheidshalwe - 'n regeringsvorm onder die direkte outoriteit van God as die hoogste gesag, word genoem 'n Teokrasie.
Jy sê demokrasie is nie die uitvloeisel van enige geloof nie, maar die ondervinding van verdruktes wat in opstand teenoor hulle verdrukkers opgestaan het.
Maar nee, dit het alles met geloof en God te make - die inherente gevoel van geregtigheid is direk 'n gawe van en invloed van God want God is Geregtigheid. Die proses wat jy beskryf, is bloot maar net die manifestasie van daardie inherente Godgegewe behoefte aan geregtigheid en medemenslikheid en dit word meestal bewerkstellig deur vreedsame prosesse in teëstelling met gewelddadige afdwinging van outokrate. Dit is wanneer mense van God verwyderd raak dat hulle in selfsug en ten koste van hul medemens begin funksioneer.
Dus, 'n ware Teokrasie (nie die pagan tipe nie), waar God as Opperheerser erken en gedien word, sal die perfekte demokrasie tot gevolg het met toepassing van SY twee Gebooie in sosiale verband - dit kan nie anders nie. In so 'n Teokrasie/demokrasie, sal mense net hulle rieme op regverdige manier styfloop op die basis ook van wat jy saai, sal jy maai, as hulle die twee Gebooie doelbewus verbreek.
Kobus de Klerk
Kobus
Net om hare te kloof.
Met 'n demokrasie kan 'n regeringshoof demokraties van sy pos onthef word. Selfs in Engeland, kan demokraties van die koningshuis ontslae geraak word sodra die meerderheid Engelse moeg vir die amp is.
In die geval van 'n outokraat, soos in Noord-Korea, en Swaziland, kan regeringshoofde nie demokraties onthef word nie. Bv in die afgelope week het die Swazi-koning skole vir 'n week toegehou sodat kinders onkruid en bossies op sy gronde kon uittrek en uitroei.
'n Teokrasie is ook 'n godsdienstige outokrasie, want God kan nie demokraties van sy pos onthef word nie. Wette is onderdanig aan die voorskrifte van die Heilige geskrifte, soos Sharia in die Koran onder Moslems.
Demokrasie kan alleenlik seëvier wanneer die staat en godsdiens van mekaar absoluut geskei word.
In Uganda het ons 'n onlangse voorbeeld waar Amerikaanse fundamentalistiese evangeliste die regering aangehits het om die doodstraf vir homoseksualiteit in te stel. Die wetgewing is toe nie deurgevoer nie, want Westerse lande het gedreig om nie meer "foreign aid" te verskaf nie, asook om nie handel met hulle te dryf nie. Die doodstraf is toe vervang met ten minste 10 jaar tot lewenslange tronkstraf. Intussen as gevolg van die publieke debat daaroor in die land, is gay leiers vermoor, en ten minste twee gays lewendig in die straat aan die brand gesteek wat op Liveleak te besigtig is.
Ja, onderling en binne eie geledere staan dit die Christen en Moslem vry om hulle eiesoortige geregtigheid toe te pas, onderhewig, in die Westerse geval aan menseregte standaarde.
Jaco,
Dit is so dat niemand van God as Hoof ontslae kan raak in 'n ware Teokrasie nie...
Maar dan ook weer, waarom sou enigiemand wou? As mense God se twee gebooie onderhou sal die voorspoed en Vrede allesoorheersend wees en wie sal wou kom peuter met so 'n bestel waar mense gelykwaardig geag en behandel word en na mekaar se belange omsien op 'n voortdurende grondslag (die Tweede Gebod) en hulle Opperheerser ag en respekteer (die Eerste Gebod) Wie vir hulle al hierdie voorspoed en Vrede besorg? Net kwaaddoeners en uitvaagsels sal daaraan wil kom peuter vir al die verkeerde redes. Dit is wat God vir die mens voorhou - lees gerus weer in daardie konteks deur die sosiale wette van die Pentateuch en vergelyk dit dan hoe dit aansluit by die HERE Jesus se Bergpredikasie.
Glo my, in 'n ware Teokrasie sal die sharia-wette nie inslag vind nie - wel God se Twee Gebooie (Mattheus 22:37-40).
Uganda is dus nie 'n voorbeeld van 'n Teokrasie of van Christelikheid nie, net so min soos die homoseksualistiese praktyke wat hulle probeer uitroei dit is... Oor die doodmaak van mense oor oortredinge van Godsdienstige aard, het die HERE Homself baie duidelik uitgespreek daarteen - lees dit gerus weer in Lukas 9:54-56; 19:10; Johannes 3:17; 12:47. HY Alleen sal aan einde van dae daaroor oordeel en oordeel vel, as dit nie end gekry het nie (Johannes 5:22; 12:48-50).
Kobus de Klerk
Kobus
Ek verstaan dat jy na goedheid mik in 'n Goddelike teokrasie. Maar sodanige teokrasie kan alleenlik slaag met die Wederkoms.
Ongelukkig, die mens soos mense is, Christene ingesluit, sal sodanige utopia (en nie sleg daarmee bedoel nie) nie voor die wederkoms kan handhaaf nie. Die dat dit nodig is om godsdiens en die sekulêre staat streng van mekaar geskei te hou.
Uganda is nie 'n teokrasie nie, maar godsdiens, net soos in die geval van die Fillipyne (altwee nominale demokratiese lande) speel 'n groot rol in besluitnemings, en in baie gevalle sodanige besluite tot nadeel, indien nie vir die hele bevolking nie, wel vir 'n minderheid. Wat die saak vir Uganda nog erger gemaak het, was die vurige aanhitsing van gefrustreerde Amerikaanse Protestante evangeliste wat nie hulle sin in die VSA mbt gays gevestig kon kry nie. Hulle het vir die regering in Uganda propagandies gewaarsku dat indien hulle nie drasties teenoor gays gaan optree nie, hoef hulle net na die VSA te kyk om te besef wat van hulle land se morele waardes gaan word. Nou indien hierdie evangeliste deel van 'n teokrasie sou wees, is hulle optredes nie anders as die van die Islamitiese teokrasie van Iran nie.
In die Fillipyne se geval, is die Katolieke kerk se invloed so sterk, dat toe die regering voorbehoedmiddels gratis wou verskaf het, het die plaaslike Aartsbiskop gedreig om die president, ook 'n Katoliek, te ekskommunikeer, dws volgens hulle kerkleer, toegang tot die hemel te ontsê. Dit is hierdie tipe optredes van die Katolieke kerk wat veroorsaak het dat omtrent alle Katolieke lande, veral Meksiko, Brasilië, Ierland en selfs Italië wetgewing deurgevoer het dat kerk en staat streng van mekaar geskei word, tot so 'n mate dat priesters en predikante nie volksraadslede mag word nie.
Jaco,
Ek moet ongelukkig met jou saamstem dat mense maar baie swak rentmeesters is van hulle Godgegewe gawes, voorregte en korresponderende verantwoordelikhede en verpligtinge in hulle rentmeesterskap van die aarde en dit wat daar gebeur.
Maar die Goddelike Wette soos ek dit aan jou voorhou, is bepaald iets om na te streef. Niemand kan daarmee stry dat, as mense daardie Twee Gebooie van God sou gehoorsaam, dit met die mensdom baie goed sou gaan nie.
Maar om 'n sekulêre bestel voor te hou, waar sogenaamde demokratiese regte deur sommige as absolute regte en eenrigtingstrate beskou en beoefen word, is juis die kern van die probleem. Sekulêre demokrasie is inherent geskoei op die individu as primêre reghebbende waar die eie-ek vooropgestel word ten koste van ander se regte. Op die ou end lei so 'n demokrasie na 'n polisiestaat omdat daar so baie wetgewing gepasseer moet word om selfs net 'n sweem van orde te probeer handhaaf - hier ter plaatse is dit besig om te gebeur. Dit is dus 'n klug waar geen vryheid bestaan nie. Niemand voel hul veilig en gelukkig in so 'n bestel nie en hulle gee nie werklik om vir ander nie.
En dit raak al erger met die tyd.
Dus, om te sê Godsdiens en staat moet geskei word is mos ou nuus en is die bestel wat ons nou al vir etlike eeue het regoor die wêreld en die vrug daarvan is afskuwelik - ons beleef dit immers elke dag van sien en hoor, en dikwels voel ook. So, nugter gesproke, is dit baie beslis geen oplossing nie. Hulle het van die Middeleeuse Katolieke kerk se vergrype ontslae geraak en iets erger het mettertyd begin posvat - sekulêre liberale demokrasie.
As ek na Godsdiens verwys, verwys ek na die ware Christelike Godsdiens waar die lede daarvan die nakoming van die HERE Jesus Christus se voorbeeld en SY Gebooie ernstig as riglyn vir hulle lewens eer en uitleef. Toegegee, baie wat hulself Christene noem, doen dit nie so nie.
So ja, miskien is dit in die huidige tydsgewrig effe Utopies om dit as die werkbare bestel voor te hou, maar een ding is seker - dit is haalbaar. As mense hulle vooroordele opsyskuif en ernstig besin oor die voordele wat gehoorsaamheid aan die HERE Jesus Christus in die onmiddellike en in die hiernamaals vir algar inhou, kan dit nie anders as om spontaan nagevolg te word nie. Hierdie tipe lewenswyse is juis die een wat nie deur legio wette afgedwing kan word nie, maar iets wat uit die hart moet kom en dan sal dit werk.
Die Goddelike bestel is sekerlik iets vir algar om ernstig na te streef.
Kobus de Klerk
Kobus
Net 'n baie kort opsomming.
Paulus het Christene aangemaan om onderling hulle struwelinge self uit te sorteer, deur middel van die kerklike gesag, en as gevolg van sy eie persoonlike ondervinding, waar non-Christene betrokke is, op die staat se gesag staat te maak. Christus het ook te kenne gegee betaal God wat Hom toekom en die keiser wat hom toekom. Met laasgenoemde lees ek daarin 'n Goddelike opdrag dat kerk en staat geskei hoort te wees. Aan die eenkant dat die kerk nie in staatkundige sake betrokke raak nie, en aan die ander kant dat die staat nie in kerklike sake inmeng nie.
Beide Paulus en Jesus was nie voorstanders van enige teokrasie voor die wederkoms nie, want albei was heel bewus dat Christene, weens hulle vleeslike neigings in gemoedere en gesindheid, nie die mas gaan opkom nie, inteendeel, soos geskiedenis dit reeds bewys het, om die Christendom in 'n swak lig te plaas.
Die opdrag van Jesus was eerder om die evangelie te verkondig aan die hele mensdom, 'n vrywillige aanvaarding van God, en dan sal die wederkoms plaasvind, tesame met die daaropvolgende volmaakte teokrasie.
Jaco,
Die HERE Jesus se Woord oor dit wat die keiser toekom en dit wat God toekom, is nie soseer 'n goedkeuring van die geskeie bestel nie, maar eerder 'n bevestiging van die feit dat dit wel bestaan en terwyl dit bestaan en God dit goedvind om dit so te verdra (Johannes 19:11; Romeine 13:1), elk gegee moet word wat hom en Hom toekom - want God is juis regverdig, sien ... Maar eintlik is God se bedoeling dat HY die Opperheerser is (Jesaja 33:22) en duld HY wêreldse regerings vir 'n bepaalde tyd en doel.
Dit beteken dus ook glad nie dat daar nie 'n Teokrasie tot stand kan kom nie, want sulke mense regeer, maar met God as Oppergesag. Ons moet ons juis beywer daarvoor ...
Dit is 'n interessante uiteensetting wat jy gee hierbo en nogal goed deurdag. Dit is so dat die ou vlees maar swak is en die mensdom dit as kruis het ...
Maar ons mag juis nie daaraan toegee nie - Mattheus 16:24-26; Romeine 6:13; 8:13; Kolossense 3:5-17.
As mens juis die laaste opdrag wat jy vermeld in jou kommentaar neem en dit wat dit werklik bedoel, en wat die implikasies daarvan is (saamgelees met, onder meer Mattheus 11:28-30 en talle ander tekste veral in die briewe van die apostels waar die verskil tussen die wêreldse koninkryk en die hemelse koninkryk bespreek word en hoe eersgenoemde nou reeds afgelê moet word ter wille van laasgenoemde) dan sien mens die beroep word indringend op algar gedoen om NOU daarna te streef en so te begin leef (Johannes 12:25) - sien byvoorbeeld Mattheus 16:24-27, veral 27 wat wys hoe belangrik die strewe na heiligheid hier en nou is en nie gewag kan word op die wederkoms nie - Bergpredikasie, Mattheus 6:19-21.
Die Wederkoms is die poort (portal) na die hiernamaals en sal die oprtede van mense nou en hier 'n baie groot rol speel in hul disposisie daar (sien weer Mattheus 16:27). Dit kom daarop neer dat mense - almal - nou moet streef en leef ooreenkomstig dit wat jy Utopia noem of die gevolge daarvan in die hiernamaals dra, na die Wederkoms. Dit is ook waarom die HERE Jesus Christus se gawe van vergiffenis so ingrypend genadig is, want anders sou niemand aan SY kant in die hiernamaals op die Oordeelsdag kon opdaag nie. Al wat nodig is, is opregte belydenis aan die HERE Jesus Christus en die vaste voorneme en doelgerigtheid om die sondige gedrag af te lê (met die krag van die HERE - Johannes 15:5 gelees met Filippense 4:13).
Kobus de Klerk
Kobus
In aansluiting van wat jy hierbo gese het.
In terme van die Bybel, was, is en sal daar altyd 'n teokrasie wees, maw soos jy tereg gesê het, het die Bybel dit dat sekulêre heersers mag het, weens die toelaatbaarheid daarvan deur God.
'n Direkte teokrasie het bestaan vanaf die uittog tot die aanstelling van Saul as koning, toe die volk teen 'n direkte teokrasie gerebbeleer het en 'n koning wou hê. Nieteenstaande, deurgans in die Ou Testament, het konings en heersers van Israel as "proxy heerser" vir God (die Teokraat) gedien, met die profete as God se mondstuk vir die koning. Met die kruisiging van Jesus, het die teokrasie-vervulling bekom waar Jesus vir die hele mensdom Koning geword het, gelyktydig met sy "intercessionary" amp as Hoërpriester.
Die Nuwe Testament het dit duidelik dat die kaf en korrels saamgevoeg gaan bly tot die wederkoms, wanneer die twee finaal van mekaar geskei gaan word.
'n Ekstrapolasie van onmiddellik hierbo is dat weens die feit dat die kaf en korrels nog nie van mekaar geskei is nie, 'n direkte teokrasie nie gewens is todat hulle wel ten tye van die wederkoms geskei is, die dat die Nuwe Testament nêrens 'n direkte aardse teokrasie bevorder nie, maar wel dat Christene onderling daarna behoort te smag (soos jy hierbo uitgewys het).
Om my argument verder uit te brei. Die Nuwe Testament maak onderskeid tussen God se uitverkore volk, heidene en sodanige Christene wat 'n gedaante van goddelikheid toon maar wat die krag daarvan verloën. Nou die heidene se rol in die Bybel is ondubbelsinnig asook hulle uiteindelike lot. Die rou seer in 'n voor wederkoms se teokrasie, is die ingevlegtheid in die gemeentes van die uitverkore Christene en die Christene met 'n gedaante van Christelikheid. Laasgenoemdes gaan die hele uitvoerbaarheid van 'n aardse teokrasie heeltemal opvoeter tot almal se nadeel, soortgelyk wat ten tye van die middeleeue plaasgevind het. Die middeleeuse gedaante van Christene het ware Christene soos die Annabaptiste, die Waldense en uiteindelik die Protestante tesame met die heidene in die naam van die Teokraat, met 'n sataniese ywer vervolg.
Direk as gevolg van hierdie middeleeuse ondervinding, het Christelike lande wat 'n teokrasie logies behoort te bevorder, eerder verkies om staat en godsdiens heeltemal van mekaar te skei.
Jaco,
Weereens nogal 'n weldeurdagte kommentaar van jou. Enkele opmerkings vir perspektief oor dit waaroor ons gesels...
Onder die begrip 'Teokrasie' verstaan ons die regering deur God, dmv heerskappy en regering deur die priesters, die kerklike gesag van ’n staat en is afgelei van die Grieks Theos = God en kratos = mag. Die voorvereiste van so 'n Teokrasie is dat die regeerders, wat mense is, hulle leiding van God sal verkry en dit dan toepas in die praktyk van die alledaagse werksaamhede en sosiale strukture van die volk.
Dus was die regerings van Israel almal veronderstel om Teokrasieë te wees, aangesien al die konings veronderstel was om hul leiding van die profete/priesters te verkry, maar weens die afvalligheid van die priesters en/of die konings van tyd tot tyd, was dit korrup en nie werklike Teokrasieë nie. Die volk wou 'n koning hê soos die volkere om hulle heen - vandaar Saul.
'n Baie belangrik en welbekende kenmerk van so 'n Teokrasie is dat God Self so 'n regeerder/koning aanstel, soos wat HY met Saul gedoen het (1 Samuel 10:1).
Gedurende die Vyftiende en Sestiende eeue het die Katolieke kerk homself die mag van 'n teokrasie opgeëis en die pous het homself die persoonlike titel as persoonlike verteenwoordiger van God toegeëien. Dit was 'n korrupte spul van die begin af wat die uitgebreide kerklike magte misbruik het op politieke gebied op alle vlakke van die samelewing. Van ware Teokrasie was daar geen sprake nie. Vandaar ook die gruwelike vergryp en wanpraktyke van die pouslike heersers. Dit is eers met die reformasie na Luther dat daar van so 'n korrupte bestel ontslae geraak is - maar 'n ware Teokrasie was dit nooit. Dit was 'n bedrogspul.
So is dit dan sedertdien tot vandag dat die ware Teokrasie nog nie weer deur God ingestel is nie. Dit is ook so dat daar duidelik onderskeid te tref is tussen God se volk en ander - dit is die feitelike status quo, ja.
Maar dit is nie hoe God dit wil hê nie, want die HERE het gekom vir algar - Niemand is by voorbaat verdoem nie - almal word dus na die tafels toe genooi (die gelykenisse in Lukas 14:7-24 gaan baie spesifiek hieroor, gelees met Romeine 1:16-17 en veral Galasiërs 3:25-29). Die Teokrasie kan nie gebeur indien God nie Self die Teokratiese heerser/s aanwys nie, anders is dit weer 'n korrupte non-Teokrasie soos gedurende die Middeleeue. Maar voor God dit sal doen, moet die volkere eers ontvanklik wees daarvoor. Ter voorbereiding daarvoor, het die HERE Jesus Christus die evangelisasie opdrag gegee (Mattheus 28:18-20), sodat alle nasies van die aarde voorberei word vir die instelling van die ware Teokrasie.
Die Woord-gedeeltes wat ek vir weergee in die vorige kommentare, is algar daarop gerig en word van alle mense verwag om dit met ywer na te jaag en uit te leef, want die HERE wil hê dat alle mense, nie net sommige nie, tot bekering sal kom - Prediker 12:13-14 gelees met Titus 2:11; Handelinge 17:30; 2 Petrus 3:9.
Dit is nie die geval dat die aarde heeltemal vernietig sal word na die Oordeel nie, want God vernuwe die aarde en die hemel en die aarde sal daarna steeds bewoon word - Jesaja 65:17-18; 66:22; 2 Petrus 3:13-14; Openbaring 21:1-8; Jesaja 29:19; Psalm 37:11; Mattheus 5:5; Romeine 4:13.
Die voorbeeld wat jy noem van die kaf en die korrels (gelykenis van die onkruid en die koring - Mattheus 13:24-30) is baie interessant. Dit dui egter nie soseer op die goedkeuring van God van 'n sekulêre aardse regering nie, maar waarsku eerder teen die voortydige veroordeling van mense wat die skyn het dat hulle onkruid is en andere wat nog nie sterk staan in die geloof nie. Jy sal bemerk die Woord verwys na spruitjies en die onkruid tussenin. Dus, elkeen moet kans kry om tot wasdom te kom, en dan sal die HERE die snoeiskêr laat inlê. In die proses sal die ware onkruid duidelik onderskei kan word van die ware koringkorrels - sien veral in hierdie verband die baie belangrike onderrig vir ons in Johannes 15:1-6. Dit is egter 'n aaneenlopende proses wat gaandeweg plaasvind, want gaandeweg sal die wat oorbly na die onkruid/dooie lote gesnoei is, beter vrugte dra (vers 5) wat daarop aandui dat dit reeds besig is om plaas te vind en dan sal dit 'n finale skoonmaak wees wat ook op die Oordeelsdag finaal plaasvind. Sien veral ook Mattheus 15:13, waar daar verwys word na die verwydering van dwaalleraars en ketters. Hieronder meer oor die proses van skeiding tussen onkruid en koringkorrels.
Dit is alles ter voorbereiding van die vestiging van die ware Teokrasie.
Die Wederkoms dui op die finale vertrek na die ewige destinasie - vir getroue gelowiges by God (Johannes 14:3) en vir volhardende ongelowiges, die vernietigende en grusame lewe sonder God, wat ook Hel genoem word.
Jy is natuurlik reg dat die advent van die Wederkoms vir diegene wie saam met die HERE vertrek, noodwendig die voortsetting van 'n permanente en perfekte Teokrasie sal bewerkstellig. Maar dit word uitgestel (2 Petrus 3:9-13), want die mense moet intussen eers gereed gemaak word vir die Goddelike koninkryk, die perfekte Teokrasie, deur beywering vir en sover deur God toegelaat, onder meer, die vestiging van ware Teokrasieë op aarde - dan is daar die lewe op (die nuwe) aarde ook na die wederkoms en die Oordeel. Hieronder meer daaroor.
Hoe meer mense dus wêreldwyd ag slaan op die Evangelie van die HERE Jesus Christus, hoe meer ontvanklik is die mensdom vir die instelling van die ware Teokratiese regeringsvorm op aarde. Dus is die oogmerk om soveel as moontlik Teokrasieë te probeer vestig. En dit sal bepaald gebeur. Op hierdie stadium baljaar die satan nog onder die mense en voel nie bedreig nie want hy meen stellig hy rokkel genoeg mense af en doen dus geen grootskaalse offensief nie. Maar soos die ware Teokrasieë in die nie te ver toekoms begin vestig, sal dinge straks verander. Ons weet dit kom... As dit 'n sekere punt van ontwikkeling en instelling bereik het, sal die satan en sy trawante sekerlik te bedreig voel en dan wil toeslaan en vandaar die finale suiwering by Armageddon vir die vestiging van die permanente Teokrasie.
Ons leef dus juis nou in die tyd waar die onkruid van die koringkorrels besig is om geskei te word. Mense word deur die onsienlike Mag van God gedwing om standpunt in te neem - vir of teen God.
In die wetenskappe - die kosmiese sowel as die biologiese - kry niemand dit meer reg om net sommer 'wetenskap' te beoefen nie - alles word toenemend gedoen met die vraag op die lippe - waar kom dit alles vandaan? Vanself of deur God geskep? Gedurig moet wetenskaplikes hul daaroor uitspreek en word draadsitters en loues net eenvoudig nie meer geduld nie en word verneder - Wetenskaplikes hou selfs openbare debatte - nie oor hul vakgebied nie, maar oor God - vir ure aaneen en die debatte word wêreldwyd versprei op die internet vir algar om te sien en te besluit. Iemand soos Dawkins is so betrokke daarby dat mens sou dink dat hy verwronge teologie bedryf eerder as biologiese wetenskappe. Sy publikasies oor God is veel meer bekend as vakgerigte publikasies, ens.
Lou kerke loop eenvoudig leeg, maak nie saak wat hulle probeer nie. Nuwe dinamiese doelgerigte kerke vir die HERE spring oral op en floreer soos goeie blomtuine - hoofsaaklik jongmense - dinamies, oopkop, geleerd, ywerig, doelgerig, ingelig, wit swart, geel, bruin regoor die wêreld... Oral. Hulle is die regerings van more - die nuwe Teokrasieë.
Daarteenoor raak ateïste meer uitgesproke teen God... hulle stry verbete teen God (Wie hulle sê, nie bestaan nie, hoe ironies). Stry hulle dan teen niks? Natuurlik nie...
Dit is die tyd dat God op almal se lippe is, wêreldwyd, in die openbare debatte, besighede, universiteite, huise, om die braaivleisvure. God is op een of ander manier die spilpunt waarom alles draai vir almal - vir of teen... En dit neem by die dag in intensiteit toe.
Dit is die tyd van skeiding... voor die snoeiskêr ingelê word.
Kobus de Klerk
Kobus
Indien ek jou reg lees, sal sodanige Theokrasie eers 'n werklikheid kan word gedurende die millenium (1000 jaar vredestydperk).
Daar is verskeie vertolkings van sodanige tydperk.
Een is dat ten tye van die eerste wederkoms 'n 1000 jaar vredestydperk ingehuldig word waar die ontslapenes in Jesus opgewek word, en die oorblywendes wat nog nie bekeer is nie tyd vergun word om tot bekering te kom, Dan na die einde van die millenium, met die tweede wederkoms word die onslape verdoemdes opgewek, en tesame met diegene wat nog nie bekeerd was nie, veroordeel en tot die hel verdoem word. Jesus sal op die nuwe aarde dan as heerser heers.
'n Ander vertolking is dat met die eerste wederkoms die lewende onheiliges vernietig word en die heiliges in Jesus wat lewe en die heiliges wat weer opgewek word saam met Hom hemel toe gaan, en Satan is vir 'n 1000 jaar aan 'n leë aarde vasgeketting om oor sy dade te besin. Met die tweede wederkoms keer Jesus met die heiliges terug aarde toe om die ewige koningkryk op die nuwe aarde te vestig. Alle onheiliges word opgewek, veroordeel en hel toe gestuur. Die Bybel het dit geluksalig is diegene wat deel het aan die eerste opstanding.
Kobus. Dit is jammer dat dit nie jy en FC is wat oor hierdie dinge as Christene saam besin nie, eerder as jy en ek as ateïs, en nieteenstaande ons lekker gesels, bly ek steeds 'n ateïs.
Dit bring my weer tot die punt hoekom 'n aardse Teokrasie nie uitvoerbaar gaan wees nie, weens die ingevlegtheid van ware Christene en ouens wat hulself as Christene noem, selfs in dieselfde gemeentes. Laasgenoemdes is juis die gevaarlike Christene vir die mensdom, Christene wat yweriger as God self is om "sondaars" te wil vervolg en te wil vernietig, alles in die naam van God.
Om af te sluit. Ek kan jou as Christen verstaan, want jy het 'n Bron, nl die Bybel as jou Goddelike openbaring wat jou motiveer. Christene wat die Bybel verguis het geen Goddelike openbaring nie. Hulle kan net sowel ateïste wees. Hulle is nie Christene in my oë nie, wel Teoiste, glo in 'n god, maar kan hom nie definieer nie. Sodanige mense doen skade aan beide die Christelike leer asook die mensdom per se.
Jaco,
Ware Teokrasieë kan en sal te enige tyd ontstaan - gesuiwer van ketters - maar die universele Teokrasie eers in die volgende Eeu, wat ons die hiernamaals noem - die tyd van die nuwe aarde en die nuwe hemele en die Nuwe Jerusalem. Vroeëre Teokrasieë sal voorlopers van die universele Teokrasie wees. Dit is hierdie eerste ware Teokrasieë wat aangeval sal word en wat aanleiding sal gee tot Armageddon.
Wat jou finale paragraaf aanbetref, tragies genoeg, is jy reg.
Wat jou as ateïs aanbetref (nadat ek jou in die laaste tyd hier in aksie gesien het, wil ek sê, what a waste ... ), is jy in my gebede en is daar nog tyd en belangrikste van alles, is die Vrede en Genade van die HERE Jesus Christus bo enige menslike begrip ...
Kobus de Klerk
Kobus
Baie dankie vir 'n insiggewende en indiepte gesprek. Ek het bykomstig van jou meer oor die Bybel geleer.
Kobus
ISIS van Irak en Sirië gooi gays van die 7de verdieping van 'n toring; een in Des, 2 in Jan, en nou onlangs in Feb. Laasgenoemde (in sy 50 jare) het die val amper ongedeerd oorlewe, om onmiddellik daarna deur omstanders dood gestenig te word. 'n Jordaniese vliënier (nie gay nie) is in 'n hok lewendig aan die brand gesteek en verfilm.
http://www.dailymail.co.uk/news/article-2937217/Killed-gay-Man-blindfolded-thrown-tower-block-Syria-stoned-death-SURVIVED-fall.html
ISIS het talle mense lewendig onthoof; begrawe; gestenig; gekruisig; aan die brand gesteek; ledemate afgesny, ens. Alles in die naam van "God" (God is groot = Allah Akbar)
Nou ek weet dat wêreldwyd die oorgrote meerderheid Christene en Moslems sodanige optredes ten sterkste veroordeel, maar dit wys net weereens tot wat 'n fanatieke minderheid onder godsddienstiges in staat is in hulle ywer om God te wil behaag, veral wanneer hulle 'n magsposisie bekom het. En ongelukkig word sodanige fanatieke onder godsdienstige deur 'n minderheid fantatieke priesters, predikante en Imans opgesweep, en in die proses om dit reg te kry om groot skade en leed aan die mensdom te verrig.
Jaco,
Ons is bewus van die skokkende gebeure. Ons is ook bewus van ISIS en soortgelyke se uiterste Goddelose ekstremisme.
Maar ons is ook bewus van die ekstremistiese Goddelose ekstremisme van ateïste in die verlede, wat talle grusame moorde en dies meer gepleeg het op ongekende skaal - mense soos Stalin, Lenin en Pol Pot met sy Khmer Rouge en verskeie meer - ook in die naam van ateïsme en die onverdraagsame lewensfilosofie wat dit voorstaan. Sommige van hulle selfs in die naam van die kerk (gelukkig nie God nie), soos Hitler.
Ek sien nie dat ateïste daardie gedrag veroordeel nie - maar ek sien dat massas gelowiges sulke gedrag van die ekstremiste veroordeel...
So, as jy God wil verban oor 'n klein groepie vervalle mense gruweldade in SY Naam wil pleeg - iets wat Hom sekerlik walg, dan trek ons hierdie maatstaf sekerlik deur - dit is mos regverdig - en verban ons ateïste omdat 'n klein groepie (of dalk nie so klein nie) van hulle op groot skaal sulke gruwels in eie naam pleeg...
Of hoe?
En as jy ateïste wil probeer verontskuldig met allerlei eierdanse, sal ek nie eens daarop wil reageer nie. Die geskiedenis is duidelik genoeg.
Kobus de Klerk
Kobus
Jy het my te vinnig gelees.
Ek het NIE die breër Christendom of gelowiges in enige God veroordeel nie, maar uitgewys die skade wat hierdie MINDERHEID ekstremiste en hulle ('n MINDERHEID) geestelike leiers aan hulle onderskeidlike godsdienste doen. ISIS is tans 'n "topographic" onderwerp. Die oorgrote MEERDERHEID Christene en Moslems ondersteun geensins hierdie fanatiese optredes nie. Voorbeelde is juis ander Moslemlande wat die stryd met ISIS opgeneem het, en ISIS se optredes as on-Islams aangesê het.
Mbt. genoemde ateïste, is ek met jou 100% eens. Het ek in sodanige lande gewoon, sou ek saam met die gelowiges aktief deelgeneem het om sodanige regerings te wil omvergooi; nie weens hulle ateïsme nie, maar weens hulle geweldadige dwang wat hulle wil en sieninge op 'n onwillige bevolking toegepas het. In hulle geval het ateïsme 'n alternatiewe "godsdiens" vir 'n politieke agenda geword.
Selfs Voltair, ''n ateïs, het die belangrikheid van godsdiens in die samelewing besef en geskryf:
" If God did not exist, it would be necessary to invent him."
Hy het ook geskryf:
"Let us therefore reject all superstition in order to become more human; but in speaking against fanaticism, let us (ateïste) not imitate the fanatics: they are sick men in delirium who want to chastise their doctors. Let us assuage their ills, and never embitter them, and let us pour drop by drop into their souls the divine balm of toleration, which they would reject with horror if it were offered to them all at once."
En ja. Jy kry die onverdraagsame ateïste. Ek sien hulle selfs hier op SêNet. Ek vereenselwig my nie met enige vorm van onverdraagsame ateïstiese optredes nie.
Jaco,
Goed, ek aanvaar jou uiteensetting hierbo, dankie.
My kommentaar gaan maar daaroor dat meeste ongelowiges God verwerp weens die optrede van mense wat beweer dat hulle in God glo. Dalk glo hulle in God - die duiwel doen ook - maar hulle doen nie wat HY verlang nie - die duiwel ook nie. Dan kan hulle maar netsowel, soos jy tereg opmerk, ook maar ateïste wees, wat is die verskil werklik. Om lippediens aan die HERE te bewys is erger as om Hom eerder openlik te bevraagteken. Vir laasgenoemde is daar meer hoop op bekering mettertyd.
Maar ek is onder die indruk dat Voltaire nie heeltemal 'n ateïs was nie - so half deïs, tipe van ding. Het na bewering ook op sy sterfbed gesê, toe die priester hom besoek het en gevra het dat hy die duiwel (satan) afsweer, "there is hardly any wisdom in making new enemies now..." of so iets dergeliks. Nogal 'n man met 'n interessante sin vir humor, die Voltaire.
Kobus de Klerk
Kobus
Jy is reg. Eerder as ateïs, was hy blykbaar 'n deïs.
Voltair, mbt tot godsdiens, was 'n weersprekende figuur. Ten tye glad nie in God geglo nie, ander tye 'n uitgesproke gelowige in God.
Van sy aannames van God:
"What is faith? Is it to believe that which is evident? No. It is perfectly evident to my mind that there exists a necessary, eternal, supreme, and intelligent being. This is no matter of faith, but of reason."
"It does not require great art, or magnificently trained eloquence, to prove that Christians should tolerate each other. I, however, am going further: I say that we should regard all men as our brothers. What? The Turk my brother? The Chinaman my brother? The Jew? The Siam? Yes, without doubt; are we not all children of the same father and creatures of the same God?"
"I die adoring God, loving my friends, not hating my enemies, and detesting superstition."
Dankie vir die geleentheid om 'n regstelling te kon maak.