Werkers is altyd geïrriteerd as hulle vir die kersparty moet bydra. Hier is 'n uitstekende idee vir RSG om 'n fonds op te bou vir hulle jaarlikse kersparty en dan sommer terselfdertyd hulle omroepers te skaaf, verder op te lei kan jy maar sê.
'n Kietie word daargestel en die bydraes daartoe is in die vorm van boetes waar omroepers foute – taalfoute, historiese foute en dies meer – maak. Op die manier word hulle gedurigdeur opgelei (niemand is perfek nie) en terselfdertyd groei die kietie vir die jaareindfunksie en niemand hoef dan by te dra aan die einde van die jaar nie.
Daar word 'n boete gehef van R10 wanneer 'n omroeper/–ster die term "... ek weet nie wat die Afrikaans hiervoor is nie ..." gebruik. Die tweede keer wat die omroeper of omroepster hierdie term gebruik is die boete R20 en die stasiehoof s'n R40 want hy/sy het ooglopend 'n onbevoegde persoon aangestel.
Daar is 'n boete van R50 wanneer 'n omroeper die woord 'doen' op die Engelse manier gebruik soos byvoorbeeld "... ek hoop nie jy sit in die verkeer vas nie maar as jy doen ..."
Indien hierdie fout 'n tweede maal deur dieselfde persoon gemaak word is die boete dubbel en die stasiehoof, om dieselfde rede as hierbo, betaal R200.
Wanneer 'n inbeller of gas dieselfde foute as hierbo maak en die omroeper/omroepster help nie die persoon reg nie (dit kan op 'n diplomatiese manier gedoen word), word boetes soos hierbo, maar gehalveer, gehef. Wanneer dit egter 'n derde keer gebeur word die omroeper/-ster verplig om 'n kursus in taal en diplomasie by te woon en die boetes word verdriedubbel.
Wanneer 'n omroeper/-ster 'n gas nooi wat nie Afrikaans kan praat nie is die boete R100 tensy die omroeper/-ster elke keer wanneer die gas gepraat het alles in Afrikaans vertaal. Wanneer dit 'n tweede maal gebeur is die boete R200 en die stasiehoof s'n R500; RSG behoort nie daar te wees om Afrikaans te ondermyn nie.
Wanneer 'n omroeper/-ster 'n feitefout maak, soos byvoorbeeld om na 'afsonderlike ontwikkeling' as 'apartheid' te verwys is die boete R10 vir die eerste keer, R50 vir die tweede keer en R500 vir die derde keer en die stasiehoof s'n elke keer dubbel die van die omroeper/-ster; hy/sy moet seker maak hy/sy stel kundige mense aan.
Daar is nog baie gevalle van wanneer boetes gehef kan word maar die personeel kan maar self verder daaroor besluit. Die beginsel is Afrikaanse omroepers/-sters moet hulle eie taal ken en sorg dat Afrikaans nie ondermyn word nie soos deur swak uitspraak, klem op die verkeerde lettergrepe en die bevordering van Engels.
Weer eens, soos met die wenke wat ek al voorheen gegee het, hoef ek nie betaal te word nie. Hierdie wenke is egter baie geld werd en dit sal goed wees as RSG dan 'n donasie aan 'n instansie maak wat hom beywer vir die behoud van Afrikaans, soos PRAAG byvoorbeeld.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan Rap,
Angus !!
Bly jy's terug; jy stry darem sonder om geniepsig te wees. Wat 'kietie' betref; jy't my uitgevang! Ek wag ook dat iemand my gaan pakgee oor die toutologiese 'Kerspartymakietie'. Blink 2014 vir jou ook en ek stuur uiteindelik jou boek.
Groetnis
Jan Rap
NS Dirk Rigter en Jaco Fourie is baie lelik met my.
Jan
Ek vra om verskoning indien ek lelik teenoor jou voorkom. Dit is werklik nie my bedoeling nie. Ek is net uiters krities teenoor sekere van jou politieke sieninge, wat hierdie forum geleenthede voor vergun.
As Afrikaner het ek altyd 'n hoe agting vir jou as mede Afrikaner, want jou hart is heel duidelik in die regte plek, alhoewel ek en jy seker nooit om dieselfde politieke vuur gemaklik sal kan sit nie.
Ek sal werklik poog om meer gematigde kritiek te lewer.
Jaco Fourie
Beste Jan,
Jaco, ek's nie ernstig nie; dis maar 'n grap en jy was nog nooit lelik nie ... lelik lelik nie. Dirk Rigter egter kan geniepsig raak maar dis reg so want hoe meer 'n ou modder gooi hoe sekerder weet jy hy's uitgevang. Selfde met Wouter.
Angus ja ek het Poerr! gelees. Eienaardige boek. Die boek wat ek vir jou gestuur het het iemand by my geleen en nooit weer teruggebring nie (kortverhale; jy't mos gesê jy lees nie eintlik nie). Ek het toe gelukkig weer een by 'n tweedehandse plek raakgeloop en dié vir jou gestuur. Hy behoort nou enige tyd daar by jou aan te kom.
Groetnis
Jan Rap