Die gebeurlikheid van die vier seuns gaan nog 'n ruk lank 'n wrang smaak nalaat. Nie net vir hulself nie maar in die land as geheel. Ek het nie die saak in diepte gevolg nie. Ek het my ook nie aan hul wel en wee gesteur nie. Ek weet net dat twee van die vier knape op 'n stadium vrygelaat is en toe weer opgesluit is.
Ek weet ook dat die vier toe almal vrygelaat is en dat twee manne hul aan ergere "wangedrag" voor hul vrylating skuldig gemaak het. Die media hardloop lekker met die storie.
Ek het net 'n paar vrae en wil my eie gewaarwording van die gebeure weergee.
Wat laat vier seuns besluit om 'n hawelose man aan te val en hom om die lewe bring? Waar kom die vier knape vandaan? In watter omstandighede het hulle grootgeword? Hoe is die familiesamestelling van die vier. Hoe figureer die ouers en ander lede van die familie in hul lewens? Hoe het die kinders in hul onmiddelike omgewing aangepas en opgetree?
Wat die meeste mense grief is die argwaan en houding van twee van die knape. Nie net is dit 'n duidelike bewys dat twee van die manne nie juis reabiliteer het nie, maar dat daar iets ernstig met ons regstelsel verkeerd is. 'n Saak het mos gewoonlik drie kante. Myne, joune en die waarheid. Ek persoonlik dink die grootste faktor tot enige landbestel is dat die staat afwesig raak. Onbetrokke regeringslui en geen standvastige wetstoepassing nie. Daar sal nou baie "bevrydes" onder ons die wapens teen my wil opneem.
Ek glo dat ons demokrasietjie se rooi ligte begin flikker. Ek glo nie mens moet in vrees vir die staat/owerheid leef nie, maar moet respek betoon vir jou regering. Ek het tot die besef gekom dat dit nie in die landjie die geval is nie. In my jongdae het jy respek aan die plaaslike sersant, predikant en onderwyser betoon. Die spesie wat ons mens noem, moet nie net op aarde losgelaat word nie. Jy moet reëls en regulasies implimenteer en waarvolgens jy as mens/samelewing leef. Die "anti lyfstraf"-en-dissipline-brigade sal ook nou opspring. 'n Kind het dissipline nodig. Ek sê nie jy moet jou kinders loop en slaan vir elke ding nie, maar gesag moet by 'n kind ingeboesem word. Jy kry nie respek nie, jy verdien respek. Ek sien die ouers van vandag. Mammie en pappie het ander sake wat belangriker is. Gaan sit op 'n pawiljoen by 'n rugbyveld. Kyk na die gedrag van die mense. Kyk hoe verskyn mense in die openbaar. Kyk na padgedrag. Kyk na sosiale vaardighede van mense. Dit is skokkend, onrusbarend en kommerwekkend. Die teenpool is ook waar. Daar is mense in ons samelewing wat ook met moord en ander wandade wegkom. Dit is nie my bekommernis nie. Wat my ontstel is dat die vier manne op die oog af niks finansieel kortgekom het nie. 'n Onbesonne daad is gepleeg. Dit is onverskoonbaar. Hulle sal eendag rekenskap daarvoor moet gee. Dit is nie my reg om te oordeel nie. Ek glo en hoop net dat die twee manne een of ander tyd tot die besef sal kom waaraan hulle aandadig was.
Ons kan net op ons knieë gaan staan en smeek vir vergifnis, leiding, genade en barmhartigheid. Ek lees nou die dag, moenie die samelewing blameer nie, jy is die samelewing.
Reusedwerg


Kommentaar
Waar 'n wandaad teenoor 'n ander opsetlik gepleeg is, was die outydse "oog vir 'n oog, en tand vir 'n tand" die juiste strafmaatreël.
Reusedwerg, dit is goed dat jy hieroor skryf. Dit lyk of twee van die manne reeds op die regte pad is. 'n Mens kan net hoop dat die twee wat "teruggeroep" is ('n lekker ANC woord!) ook mettertyd sal verander.