In ’n skrywe van my so tydjie terug, wat gehandel het oor die aandrang van ’n christengroep dat Duiwelspiek se naam moet verander, het die gesprek uiteindelik in allerhande rigtings ontwikkel. Wat bedoel was as ’n tong-in-die-kies geskerts oor die lawwe gedagte dat Duiwelspiek se naam moet verander omdat die duiwel kwansuis so ’n nare figuur is, het uiteindelik die fundamentalistiese gelowiges hier op die Sê genoop om die saak tot by hulle geliefde onderwerp te voer – die goeie god en die nare duiwel. Tussen FC Boot en Cornelius Henn het daar opmerkings gekom wat heel kenmerkend is van hulle (en natuurlik alle ander fundamentalistiese gelowiges) se totale oorgawe aan die midde-oosterse skeppingverhale en mites. FC Boot het uiteindelik die vraag aan my gerig: “Hier is dan jou kans om te verklaar wat die OORSAAK van die oerknal was". Omdat ons nou heel weg van die aanvanklike bespreking van die verandering van Duiwelspiek se naam beweeg, dink ek ons moet dalk ’n nuwe gesprek aan die gang sit.
FC Boot maak die geldige stelling in een van sy skrywes dat alles ’n begin het (en per implikasie dus ook ’n einde). Sy vraag wat die oorsaak van die oerknal was, is dus ’n heel billike vraag. Die wetenskap is gedurig besig om antwoorde op allerhande vrae te vind en soos die tyd aangaan stoot die wetenskap die grense van onkunde terug. Dieselfde kan ongelukkig nie van godsdienstiges en die godsdiens gesê word nie omdat hulle doel nie is om uit te vind wat hulle nie weet nie, maar om te verhoed dat hulle troetelgelofies bedreig word. Die blote feit dat FC Boot die woord OORSAAK met hoofletters skryf impliseer dat hy ’n vooropgestelde idee het van die skepper van die oerknal en dit waarskynlik aan sy god koppel – ’n kleinsielige entiteit wat voortdurend van sy (ja dis beslis ’n man) belangrikheid herinner moet word deur alles aangaande hom met hoofletters te laat skryf deur sy onderdane. Kyk maar na ons spirituele kabouter hier op die Sê se skrywes – dis besaai met die hoofletters sodra daar van sy god gepraat word. Dit lyk vir my of die “Caps Lock” sleutel op die rekenaar se toetsbord, ingebring is om godsdienstiges se tikwerk te vergemaklik!
Om egter regtig ernstig die vraag te beantwoord oor wat die oorsaak van die oerknal was moet ons ons na die wetenskap wend. Die oerknalteorie konstateer kortliks dat die uitspansel (ons universum) soos ons dit waarneem ongeveer 15 miljard jaar gelede vanuit ’n oneindige digte deeltjie (of ’n singulariteit) ontstaan het. Die deterministiese wette van die fisika is nie geldig in ’n toestand van oneindige digtheid nie. In leke wiskundige taal beteken dit dat daar aanhoudend deur nul gedeel moet word waarvoor daar nie ’n wiskundige oplossing bestaan nie. Die begrip tyd soos ons dit vandag verstaan het dus met die oerknal begin. Omdat die wette van die fisika tydens die ontstaan van die singulariteit opgehef was kan ons dus nie met sekerheid sê dat dieselfde wette of selfs dieselfde hoeveelheid materie voor die oerknal bestaan het nie. Die gebeure voor die oerknal het geen waarneembare gevolge nie en dus kan ons bloot spekuleer en hipoteses daar stel oor wat die oorsaak van die oerknal was. Die hipotese dat daar ’n god is wat voor die oerknal bestaan het en dat dié god die oerknal sou laat gebeur het, is nie ’n geldige hipotese nie. Dit bring ’n nuwe onbekende in die vergelyking in wat niks bydra tot die oplossing van die vraagstuk nie omdat die oorsaak van die nuwe onbekende dan net weer gesoek moet word. Die wetenskap het ongelukkig nie sulke maklike oplossings as ons dinge nie verstaan nie. Ons kan nie sommer ’n god ontdek en alles aan die god toeskryf nie, want almal sal wil weet waar die god vandaan kom. Godsdienstiges het daardie gerief om alles aan hulle god toe te skryf – die probleem vir hulle is dat hulle blote geloof dit ongelukkig nie waar maak nie.
Dis natuurlik nie te sê dat die wetenskap nie wonder oor die toestande en gebeure wat aanleiding gegee het tot die oerknal nie. Daar is etlike hipoteses en ’n hele klompie heel waarskynlike voorstelle wat ek met my skamele Wiskunde en Fisika 3 ongelukkig nog mee worstel om behoorlik te verstaan. Ek is oortuig daarvan dat hier SêNetters is wat ons hieroor meer breedvoerig kan inlig.
FC Boot, om dit dus kort en kragtig te stel, ek weet nie wat die oorsaak van die oerknal was nie. Dit het in elk geval 15 miljard jaar gelede gebeur en dit pla my nie geweldig baie nie. Die spesie waarvan ek lid is, het maar so ongeveer 200 000 jaar gelede evolusionêr ontstaan. Ek het met my drie seuns darem verseker dat ek ’n nuttige oorlewingsmasjien vir my gene was. Ek is nou so in my vroeë sestigs en daar lê dus maar ’n beperkte aantal jare voor wat ek nog allerhande interessante goed wil doen en beleef. In die afwesigheid van enige bewyse het ek gelukkig die hipotese dat daar ’n god is ontgroei en hoef ek dus nie my laaste jare te slyt in kerkdienste, bybellees en bidsessies om my voor te berei om na my dood in ’n imaginêre hemel iewers vir ewig te gaan lewe nie. Ek gaan so besig wees die volgende paar jare dat ek die ewige dood wat op my wag, uiters nodig gaan hê.
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Die oerknalteorie/hipotese gee slegs die waarskynlike eerste oomblikke van dié gebeurtenis 13.8 miljard jaar gelede en die algemene evolusie van die heelal vanaf daardie punt vorentoe en is allermins ’n alternatiewe model vir enige van die talle skeppingsverhale van die onderskeie wêreldkulture en gelowe.
Aangaande FC Boot sy uitdaging aan jou om te VERKLAAR wat die oorsaak van die oerknal was, is my indruk dat hy nie regtig die teorie/hipotese begryp nie en moontlik die gebeurtenis aan ’n god wil toeskryf en dalk meen dat dit kan bydra om op een of ander wyse meer geloofwaardigheid aan een van die talle skeppingsverhale soos dié in Genesis te gee. Anders begryp ek nie wat agter so ’n uitdaging sit nie.
Dit is tog insiggewend dat sommige Christene deesdae die oerknalteorie/hipotese omhels en verklaar dat dit die skeppingsverhaal van Genesis vir hulle bevestig.
Ek haal die volgende aan uit die tydskrif Science: “Although the big bang theory is famous, it's also widely misunderstood. A common misperception about the theory is that it describes the origin of the universe. That's not quite right. The big bang is an attempt to explain how the universe developed from a very tiny, dense state into what it is today. It doesn't attempt to explain what initiated the creation of the universe, or what came before the big bang or even what lies outside the universe.”
Groete
Panda
Beste Thomas,
Waarom hierdie uitstekende intellektuele kragtoer wanneer dit so maklik sou wees om net te gló dat die mees wetenskaplike outoriteit op die gebied van die kwantumfisika en astronomie, en die definitiewe antwoord op hierdie knellende vraagstuk, in 'n stukkie antieke Midde-Ooste- mitologie gevind kan word?
Soos ons gelowiges mos almal weet is die aarde en hemelruimte binne 'n tydsbestek van 7 dae geskep deur die stamgod van die Israeliete, Jahweh. Dit is só eenvoudig as dit - want die Bybel sê mos só.
Groete,
Pieter Redelinghuys
Die antwoorde van Thomas, Panda en Pieter Redelinghuys dui op totale onkunde van wat in die Skeppingsverhale van Genesis staan.
Daar staan nêrens in Genesis hoe daar geskep is nie.Trouens dit val totaal buite die bestek van die skeppingsverhale.
'n Mens kan dit baie maklik vastel deur net na te gaan wanneer die verhale geskryf is.Net soos Thomas op 'n manier probeer verduidelik wat die oorsaak van die oerknal was, maar dan moet toegee, dat hy nie weet
nie, so erken die skrywers van Genesis ook dat hul nie weet nie.
Die hoe was dus vir hulle van sekondêre belang. Al wat hul wou beklemtoon dat daar net een OORSAAK( EEN GOD) was en nie talle oorsake (baie gode nie).Die eerste skeppingsverhaal dui darem daarop dat die skepping
op 'n ordelike wyse plaasgevind het.Die OORSAAK het dus sistematies te werk gegaan.
So wanneer is die verhale geskryf?.
EERSTE Skeppingsverhaal.Die verhaal is geskryf tydens die Babiloniese ballingskap, dus tussen 586-539 vC. Die verhaal is geskryf waarskynlik as 'n teenvoeter teen die baie skeppingsverhale wat in omloop was.
Baie gode (oorsake) dus.
Dit is duisende jare na die 'skepping' van Adam en Eva geskryf.
Die TWEEDE skeppingsverhaal is geskryf as aanvullend tot die eerste skeppingsverhaal en speel af in 'n landbougemeenskap in die tyd van die Konings. Dus ook baie later as die skepping van Adam en Eva en die totstandkoming van die heelal.
Is hierdie skeppingsverhale uniek? Geensins, trouens in ons eie land is daar skeppingsverhale onder die oorspronklike inwoners wat veel ouer as die Bybelse skeppingsverhale is en wat duisende jare
voor die Genesisskeppingsverhale ontstaan het.
Soortgelyke verhale word dwarsoor die wêreld aangetref. Al wat ek reken 'n mens hiervan kan aflei is dat die mens instinktief weet dat daar iets groter as hyself daar buite is.Dit word ondersteun deur die feit dat daar gedurig gesoek word na ander 'lewe' in die heelal, meer ontwikkeld as ons eie.
Uit die wetenskap weet ons dat die 'singularity' (is daar 'n goeie Afrikaanse word hiervoor? Enkelvoudigheid?) altyd daar was in 'n 'tydlose dimensie' wat ons nie verstaan nie Die OORSAAK wat gelei het tot die oerknal was dus ook tydloos en daarom bely ek dat die OORSAAK (GOD) ook tydloos en ewig is, sonder begin en einde.
Dit is dan ook so dat die Jode ook nie die gedagte van 'n 6000 jaar oue aarde en skepping onderskryf nie,maar dit eerder as 'n lang uitgerekte proses sien, waarin die een gebeurtenis die ander opvolg.Die feit dat dit so in talle kerke as 'n feit aanvaar word en so verkondig word, is myns insiens een van die baie redes waarom mense die kerk verlaat.
Die Rooms Katolieke kerk was dan oor die eerste wat probeer het om 'n brug te bou tussen die wetenskap en die Christelike geloof. Op 10 Augustus 2004 het biskop Robert H Brom dan ook 'n volledige verklaring vrygestel
onder die titel Adam,Eve, and evoltution. Ek is nie seker of die verklaring nog op die internet beskikbaar is.
Uit die talle aanhalings onder die vorige artikel is dit duidelik dat die totstandkoming van die heelal 'n besondere gebeurtenis was.Die vraag is dan: was dit alles toevallig en is die totstandkoming van die planeet aarde
een groot gelukskoot uit die hand van moeder natuur?
Een wetenskaplike wie se naam my ontgaan, het gesê, dat as 'n mens die hele Amerika vol munstukke pak en 'n berg bou wat tot by die maan strek en dan vir iemand sê, kry die een muntstuk wat van al die ander verskil
wat feitlik onmoontlik is, so groot is die kans dat die planeet aarde ,is wat dit is, op die regte plek in die heelal om die unieke fauna en flora te onderhou.
Wat nou van die ou testament (ou verbond)met sy baie verhale en die nuwe testament (nuwe verbond)?
Waar die ou testament dus die geskiedenis van die Jode is waarin God hom slegs met een volk bemoei en 'n verbond stig, is die nuwe testament die geskiedenis van die Christene, waar God hom deur die werk en versoening van Jesus Christus Hom met alle mense bemoei en so die gebreekte band tussen Skepper en mens en tussen mens en mens wil herstel en die binne bereik van alle mense is, wat Jesus Christus as hul enigste Verlosser en Saligmaker aanvaar.
Nee ons word nie sondeloos hierop aarde nie, dit is 'n dwaalleer. Die enigste sondelose mens was Jesus Christus.Christene is loop-en-val mense wat uiteindelik die wedloop voltooi en dan aansluit by die miljoene wat voor hul in dieselfde geloof gelewe en gesterwe het.
Kan ek God se plan en besluite in my lewe altyd verstaan? Nee dikwels is dit soos 'n wag-'n- bietjie-bos, wat my haak en steek en op my knieë dwing, want my oortredinge in woord en daad en gedagte is menigvuldig,dat ek soms wonder of my geloof sterk genoeg is om my tot die einde te dra.
Dit is dan ook slegs die wete dat slegs diegene wat die wedloop voltooi die prys sal ontvang wat my laat opstaan en verder laat gaan.
Daar kan nog baie oor die onderwerp geskryf word en dit sal dus goed wees as ander lesers ook bydraes lewer.
Hallo FC Boot,
Jy beweer dat Thomas, Panda en Pieter Redelinghuys se antwoorde op totale onkunde dui van wat in die skeppingsverhale van Genesis staan omdat daar nêrens in Genesis staan ‘hoe daar geskep is nie.’
Nie een van ons drie het sodanige bewering gemaak nie. Trouens in Thomas se bydrae en in Pieter Redelinghuys se kommentaar kom die woord ‘Genesis’ glad nie eers voor nie. In my kommentaar het ek wel na oa die skeppingsverhale in Genesis verwys maar jy kan my maar aanhaal as en waar ek aangedui het dat dit in Genesis staan ”hoe daar geskep is.” Die aantyging is bloot uit die lug gegryp. Al weer ’n geval van 'n selfopgestelde strooipop waarop dooierus aangelê kan word?
Wat ek probeer beklemtoon het, is dat die oerknal en die skepping twee afsonderlike gebeurtenisse is en dat die oerknal na die skepping plaasgevind het.
Waaroor ek vrek nuuskierig is, is hoekom jy vir Thomas uitdaag om te VERKLAAR wat die oorsaak van die oerknal was. As jy enige verklaring het — laat ons bietjie hoor! Ek het ook ’n hipotese daaroor maar gee toe dat dit seker nooit tot die status van ’n teorie sal vorder nie. Ek is nietemin bereid om dit te oorweeg om dit met jou te deel as jy bereid is om ’n verklaring vir die oorsaak van die oerknal op die tafel wil sit.
Groete
Panda
Thomas, die groot meerderheid Christene sal met jou saamstem as jy beswaar maak teen die verandering van Duiwelspiek se naam. Die yweraars vir die naamsverandering is skynbaar 'n klein groepie wat geïgnoreer kan word.
Jou opgewondenheid oor Boot se gebruik van hoofletters is onnodig. Soos jy sal opmerk skryf ek jou naam ook met 'n hoofletter. Die enigste “probleem” by Christene is dat hulle die tradisie het om as hulle voornaamwoorde gebruik wat na God verwys ook van 'n hoofletter gebruik te maak. Dis 'n ou en mooi tradisie wat jy gerus net kan miskyk. Om egter na "'n kleinsielige entiteit" te verwys is verregaande en godslasterlik. Dit beteken natuurlik niks vir jou nie maar jy kan gerus, ordentlikheidshalwe, ander se gevoelens in ag neem. As jy so gelukkig met jou “wetenskaplike” en materialistiese sienings van alles is, waarom maak jy 'n punt daarvan om jou idees feitlik aan ander te probeer opdwing? Jy is tog nie 'n sendeling nie? Bedoelende iemand wat vroeg en laat presies die teenoorgestelde as die bybelbeheptes moet verkondig. Is jy, as wetenskaplike, nie veronderstel om onemosioneel jou saak te stel nie?
Toevallig het ek 'n antwoord vir jou. Die man wat dit geskryf het was, na my mening, die grootste sielkundige van die vorige eeu. Hier is sy woorde: “I have treated many hundreds of patients. Among those in the second half of life - that is to say, over 35 - there has not been one whose problem in the last resort was not that of finding a religious outlook on life.” Carl Jung. Dit sal vir jou rus gee.
George B
FC Boot
Beste Panda
Natuurlik moet die naam van 'n persoon met 'n hoofletter geskryf word. Die hoofkarakter van die Bybelse storie se naam is God. Hy is natuurlik nie die enigste god nie; ander gode is Zeus, Thor, Jesus, Ra, ens.
Beste Thomas
Jy praat van bewyse. Kan jy bewys dat God nie bestaan nie.? Wat ek herhaaldelik sê is, dat die 'oerknal' 'n oorsaak gehad het en dat in die Joodse en Christelike geloof die Oorsaak, GOD genoem word.
Nou staan dit jou natuurlik vry om een of ander monster as die Oorsaak van die Oerknal te aanvaar.
As jy 'n volgeling van een of ander monster is is dit ook jou saak.
As Christene is ons volgelinge van Christus. Volgens die Bybel, 'n geloofsboek, waarvan daar meer as 6 Biljoen verkoop is, was Christus betrokke by die onstaan van die heelal.Hoeveel van jou wetenskapboeke is al verkoop, of het hul na 'n paar jaar verouder geraak en moes jy nuwes aanloop om op hoogte van die jongste verwikkelinge te kom?
Natuurlik sal sommige die bestaan van Christus verwerp, in teenstelling met sommige Joodse Rabbi's wat na duisende jare, Christus nou as een van hul groot profete begin aanvaar en jaloers is op Christene, wat Hom ten volle omhels het, as nie net die grootste profeet van alle tye nie, maar as hul enigste verlosser en saligmaker.
Beste FC Boot
Beste FC Boot,
Nes Kobus de Klerk, sal jy wel vind dat eksplisiete ongelowige misantrope ewe min belang in enige logika het.
Thomas, nes menige ander spotter van andere se hart, beeld homself uitdruklik as 'n godslasteraar uit.
Daar is 'n hemelsbreë verskil tussen iemand wat hulself duidelik in die een of ander rigting verklaar en diegene wat berustend hul werklikhede leef.
Dit sou verkeerd wees om 'n gelate ateïs te daag om sy ongeloof te bewys - nes dit verkeerd is om 'n lydsame gelowige se ervaring om waarheid te roep.
Anderhaters (gelowig en ongelowig), skoei in die reël hul sogenaamde bewyse op mekaar se ewe enge en redelose onderdrukking.
Lees Thomas se kommentaar weer rustig deur hierbo en sien self hoe subtiel hy sy ateïstiese bravade op 'n strooipop soos Kobus de Klerk se onvermoë om God as iets werklik bluf.
Geloof is presies dit - geloof ... duur genade verniet in die liefde en genade van ons almal se Skepper.
Opregte ongeloof is ewe vreedsaam ... geduldig op wag vir God se liefde en genade in hul eie hart.
Alleen sinici skoei hul haat op bewyse en/of die gebrek daaraan.
Ek is ewe lief vir Thomas, Kobus de Klerk ... en al die fundamentele dwepers.
Kom ons bid vir mekaar ...
Mag Jesus Christus ons almal vergewe en self die bewys in 'n ieder se hart word - en wees.
Nederige groete,
Cornelius Henn
Beste Thomas
FC Boot,
Ek verwys na jou stelling: ...die koninkryk van God, wat niks te doen het met die verlossing of saligmaking van dinge in jou aardse bestaan nie, maar direk verband hou met die lewe na die aardse lewe.
Kan dit heeltemal korrek wees? Ek dink tog dat saligheid voordeel inhou alreeds hier op aarde.
1. Salig is die wat arm (nederig) van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. (Hierdie een bevestig jou stelling) Mark 3:13 maar,
2. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. (Jes 57:18)
3. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. (Ps 37:11)
4. Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
5. Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. (Ps 24:4)
6. Salig is die vredemakers want hulle sal kinders van God genoem word.
7. Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. (Rom 8:17)
Miskien verskil ek en jy in siening: Waar is die koninkryk van God en waar is die koninkryk van die hemele?
Volgens my kan ons al hier in die koninkryk van die hemele inbeweeg (soos in die hemel, net so ook op aarde) - wat nou weer vervat is in die koninkryk van God?
Jammer ek is op ander onderwerp. (Verskoning Thomas) Sal net vinnig graag FC Boot se siening hier wil hoor ...
Maw, volgens my dan waarom ek nou al behoeftig is aan 'n Verlosser en Saligmaker, alreeds hier op aarde.
'n Eenvoudige voorbeeld: As ek hier op aarde sukkel met 'n humeur wat my lewe hel maak, en ek behoeftig verlossing daarvan, behoort dit voordeel vir my in te hou hier op aarde?
of kan ek dit nie so stel/sien nie?
Thomas, jou reaksie van 2014-07-02 @10:32 verwys.
Wanneer ek na “'n ou en mooi tradisie” verwys bedoel ek die gebruik om voornaamwoorde soos “Hy” met 'n hoofletter te begin, wanneer daar na die Skepper verwys word. Boot het weer sy hoofletters met 'n ander doel gebruik, nl om die belangrikheid en betekenis van 'n woord te beklemtoon sodat ons hom nie misverstaan nie. Jy noem dit “taalkundige bog”. Nogtans skryf iemand soms iets soos: Ek sê vir jou, dis NIE WAAR NIE.
Verder skryf jy: “Wanneer godsdienstiges waarheidsaansprake sonder enige bewyse maak moet hulle aanvaar dat hulle aangevat gaan word – veral op ’n openbare platform soos hierdie.” Jy gaan van die standpunt uit dat die ENIGSTE benadering (ek gebruik nou die hoofletters nes Boot!) wat geldig is jou wetenskaplike siening is. Daar is bv talle kunsvorms en nie 'n enkele deskundige van enige kunsvorm gaan jou benadering aanvaar nie. Om die waarheid te sê jy gaan 'n gek van jouself maak as jy “wetenskaplik” reageer. Religieuse mense vind dit ook onaanvaarbaar as, wat vir hulle diepe waarhede is, met jou tipe “wetenskap” verdoem word. Natuurlik het jy die reg om met hulle te verskil, mits jy jou uitgangspunt ERKEN en aan gewone basiese ordentlikheid voldoen.
Dit is my oortuiging dat wetenskaplikes (sonder aanhalingstekens) en gelowiges oor die algemeen goed kan saamwerk. Die uitsondering is die kreasioniste en hulle moet eerder geïgnoreer word as om met hulle te baklei. Vir my is die samewerking tussen wetenskaplikes en oopkop gelowiges 'n belangrike saak, selfs vir die toekoms van ons beskawing. Daarom het ek 'n artikel geskryf met die naam: Evolusie en die kerk. Dit behoort binnekort gepubliseer te word. Volgens hierdie artikel is daar min verskille tussen gelowiges en wetenskaplikes. Die probleem lê by kreasioniste (hulle is ook gelowiges), terwyl ander gelowiges aanvaar dat geloof en wetenskap langs mekaar kan bestaan. Immers die wetenskap is met die fisiese werklikheid besig, terwyl geloof vrae vra oor die oorsake en betekenis van dinge en die lewe. As jy kwaad word vir kreasioniste kan ek jou nie kwalik neem nie, want hulle raak dikwels onsinnige dinge kwyt. Dis nogtans hoogs onwetenskaplik van jou om emosioneel te reageer.
Ons wêreld se mense is erg materialisties en ongevoelig teenoor die ellende van hulle naaste. Die vraag is of ons nie met ons houding tot hierdie toestand bydra nie? Dis al lank dat ek ateïste se bydraes hier lees en tussen twee soorte onderskei. Dié wat uit-en-uit materialiste is en dié wat vir ander mense omgee. Daar is van hulle wat ek graag 'n drukkie sal wil gee en ek is nie 'n moffie nie.
Jy vra my spesifiek oor die oorsaak van die oerknal. 'n Stukkie geskiedenis wat jy ken en seker nie oor sal skryf nie: Gedurende die 1920's het wetenskaplikes nog geglo dat die heelal en die aarde altyd daar was en vir altyd sal bestaan. Die oerknal-teorie het die idee van 'n begin en 'n einde in die wetenskap gevestig. Dit is 'n Rooms Katolieke priester, Georges Lemaître, wat met die oerknal-teorie gekom het. Aangesien 'n kerklike betrokke was wat dinge soos filosofie en geloof ook ter sprake bring was sekere wetenskaplikes aanvanklik kopsku, maar die teorie is mettertyd deur feitlik alle wetenskaplikes aanvaar. Pous Pius XII was 'n geesdriftige ondersteuner van die teorie. Gee 'n slag 'n bietjie krediet aan 'n gelowige!
Om nou by die oorsaak van die oerknal te kom: is dit die taak van die wetenskap om in só 'n geval na 'n oorsaak te soek? (Waar die oorsaak duister is en die eksperimentele metode nie toegepas kan word nie.) Self glo ek aan God (met 'n hoofletter) as die Skepper wat die oerknal bewerkstellig het. Die groot verskil tussen 'n gelowige en 'n ateïs gaan nie oor die skeppingsproses nie, maar oor uitgangspunte, nl dat die gelowige dit as 'n beplande proses sien, terwyl die ateïs glo dat dit toevallig gebeur het. As 'n mens eers op al die toevallighede ingaan, wat tog reg geloop het, kan ek nie anders nie as om saam te stem dat 'n ateïs oneindig meer geloof nodig het as 'n gelowige. Hoop jy word nie kwaad hieroor nie, want hoe anders kan jy reageer?
Beste George B
Par excellence George B ... dankie vir jou besondere insig en feite hierbo!
Beste Trienie
Dankie vir jou bydrae
.Oor wat die koninkryk van die God presies beteken is daar meningsverskil.Jy kan bv. "Adrio König Bevraagteken Nou Sekere Aannames van Calvinisme" google en Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2010) se artikel lees, deur dit te Google.
As ons van 'n koninkryk praat bedoel ons in die gewone sin dat dit 'n ryk moet wees waaroor 'n koning regeer.Jesus het dit egter duidelik gemaak dat Hy nie mens geword het om 'n aardse koninkryk te vestig nie en daarom lieg die Jode as hulle Hom daarvan beskuldig as sou Jesus 'n mededinger wees vir veral die Keiser in Rome en beheer oor die volk Israel met geweld en dus met aardse wapens oorneem..
Nee Jesus se geveg is nie teen dit nie.Jesus is in direkte konfrontasie met Satan ,die teenstander, wat veral in die ou testament aktief is en toe hy, wat 'n gevalle engel was, nog toegang tot God het en dan die kinders van God verkla en dan God uitdaag om Job 'n bietjie in sy hande te laat, om te demonstreer hoe lg vinnig teen God sou draai en Hom verlaat.
In Lukas 4 meet Jesus en die Duiwel ( in die geval kwaadprater) kragte.Satan (teenstander) erken dat God hom soos met Job tydelik mag gegee het om die volkere van die aarde te versoek.Dit is dan ook so dat die Jode nie glo in die bestaan van die duiwel nie, maar wel Satan Google http://www.jewishanswers.org/ask-the-rabbi-2566/the-jewish-view-of-satan/?p=2566
Toe Jesus mens geword het was Hy dus nie net in 'n stryd met Joodse leerraars betrokke nie maar ook met Satan.Deur Jesus se prediking, lewe en sterwe en opstanding en hemelvaart het Hy ook Satan se houvas oor die volkere van die aarde verbreek en veral die valse leerstellinge waarmee satan van die begin af die mens probeer verlei deur te vertel as hul sekere dinge doen sal hulle net soos God word, hulle sal alles weet, as onwaar bewys.
DIe Koningkryk van God staan dus in direkte opposisie teen die koningkryk van Satan.In openbaringe 12kan 'n mens lees van die geweldige stryd waarin satan God probeer onttroon en hoe hy uit die hemel
gegooi word.
In vers 9 lees ek:"Ek praat nou van die slang van wie ons lank terug al in die Bybel lees.Sy ander naam is duiwel en Satan.Hy het al die mense wat op die aarde bly heeltemal op die verkeerde pad gelei.Juis hy is saam met sy engele uit die hemel (woonplek van God) gegooi.10.Ek hoor toe iemand wat hard praat sodat almal dit kan hoor"Nou het God ons gered.Nou het hy sy krag bewys.Ons God heers oor almal en sy Messias het al die mag. "Kyk net, die een wat gedurig God se kinders oor hul foute aangekla het, is uit die hemel gegooi.Ja, hy het mos God se mense sonder ophou,dag en nag,voor God beskuldig. 11.Hulle het hom behoorlik gewen.Hulle wapens was die bloed van die Lam en die boodskap wat hul met soveel oortuiging aan ander vertel het.Alles het nie net om hulself gedraai nie.Hulle was bereid om tot die dood toe met hierdie wapens te veg."
Satan het hierdie nederlaag swaar gesluk en sal alles in sy vermoë doen om gelowiges, onderdane van die koninkryk van God, te vervreem en onderdane van sy koninkryk te maak.
Daar kan nog baie oor die onderwerp geskryf word en ek hoop dat die aanhalings in jou skrywe in die lig hiervan duideliker sal word.
Beste Trienie,
Net 'n enkele gedagte ter byvoeging tot die geheel sinvolle antwoord deur FC boot hierbo; harte wat daarna uitsien om die see te sien, kan nie met 'n bakkie water getroos word nie ...
In hierdie lewe is die keuses wat ons maak die enigste werklike waarde en vreugde - dis nooit die Hemel nie!
Nederige groete,
Cornelius Henn
Beste Thomas, ons stem minstens op een punt saam, nl dat elkeen die reg het om te glo wat hy wil. Nogtans is jou enigste toets die wetenskaplike een. As jy besef dat daar ander brille ook is om na die lewe te kyk sal dit al help. Jou bewering dat God kleinlik is, is verregaande.
Al het ek nie die soort "bewyse" gelewer wat jy verlang nie, was daar insigte, waarop jy liewer nie wil reageer nie. Wat dink jy van die idee dat jy meer geloof as 'n gelowige nodig het?