Wat is dit om Springbok te wees?

  • 1

Nou weet ek ook hoe oud jy naastenby is. Ek kan ook die Springbokke van daardie tyd onthou. Dawie de Villiers en Gert Muller was name wat by my vasgesteek het alhoewel ek hulle in my lewe nooit sien speel het nie. Ons het net op die draadloos geluister hoe die manne speel. Ek kan die 1972 Engelse toets op Ellispark onthou. Wie sal ooit die 1974 Britse Leeus toer ooit vergeet? Ek kan die 1976 All Black en die meeste ander internasionale toere daarna onthou.

Die hardste rugby het ek in Pretoria gespeel. Ek was op daardie stadium by PW en Seuns. Woensdae het jy intereenheid- en Saterdae klubwedstryde gespeel. Maandae en Donderdae het jy geoefen. Die ander dae het jy in elk geval nooit geloop nie maar net gehardloop.

Na die weermag het ek klubrugby gespeel, twee spanoefeninge deur die week en Saterdag 'n wedstryd. Jy het gespeel vir die liefde vir die spel. Ek was 'n paar keer as "man of the match" aangewys en is met 'n bier en klop op die skouer beloon. Daardie jare was daar nog "onthale" na wedstryde. Daar was gebraai en gekuier. Ek het op 'n stadium vir die "Noordelike Suidwes Magte se span" gespeel. Ons is met 'n bussie van die grens af karwy, rugby gespeel, geparty en laat of vroeg die volgende oggend weer terug.

Ek persoonlik is beslis nie meer so opgewonde oor rugby soos vroeër nie. Daar is na my mening te veel rugby. Ek as toeskouer is nou lekkerbekkig. Ek is baie selektief na watter wedstryde ek kyk. Ek mag ook nie by vreemde mense waar daar kinders en vroumense is rugby kyk nie. Ek het al van die sofa af opgestaan en uitgeloop.

Ek verstaan dat dit deesdae 'n professionele spel is. Dit is 'n voltydse beroep. Die rugby van vandag verstaan ek ook nie so lekker nie. Die rugby van vandag lyk soos stampkar rugby. Mens sien min individuele briljante ondernemingsgees onder spelers. Daar is te veel wedstrydplanne, bewegings, aanvals- en uitvalshoeke. Daar is ook te veel skeidsregters en beamptes.

Ek leef nie in die verlede nie. Mens moet met die tye verander. Ek sal maar berus dat rugby vir ewig verander het. As ek jonger was sou ek beslis nie rugby gespeel het nie.

As ek reg onthou, is dit dr Danie Craven wat gesê het dat geld die ondergang van rugby sal wees. Hy was nie verkeerd nie.

Lank leef rugby.

Reusedwerg

  • 1

Kommentaar

  • Helena Graham

    Reusedwerg, ek stem volkome saam met jou.    Ek is 'n vrou, maar vrek oor rugby en ken die reëls beter as waarvan my manlike vriende hou.  My eie man en twee seuns het rugby gespeel en ek mis nie 'n game nie.  Wat is 'n wedstryd... dis mos 'n game.

     
    Groetnis
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top