Ek kry nou die dag 'n vonkpos. Jy kan dekking kry teen 'n paar sente per dag en dit dek insidente wat op die strate en paaie van ons land gebeur. Ek dink so bietjie daaroor na en beantwoord deur die regte knoppie op die tablet te druk.
Vanoggend kry ek 'n sms op die loopfoon. Gaaf dink ek, ek sal gou die nommer bel en uitvind hoe waar, hoeveel en wanneer kan ek die aftrekking te wagte kan wees.
Ek begin 12h11 en bel die nommer op die sms.
'n Masjien antwoord. 'n Lang monoloog vind plaas. Ek kry die instruksie om my laaste agt nommers op 'n pindraende kaart in te sleutel. O moer, kaart is in die motor, drie verdiepings af. Sit maar en wag. Die masjien berispe my dat ek nie reageer het op die instruksie nie. Hou maar aan. Op 'n stadium vergewe die masjien my en deel my mee dat ek kan aanhou vir die eerste beskikbare konsultant. Skielik is daar 'n erg irriterende deuntjie wat speel. Uiteindelik antwoord iemand met 'n naam en van en afdeling en "waarmee kan ek u assisteer". Ek praat gou en die persoon deel my mee dat dit nie hulle afdeling is nie en sal my deurskakel na die regte afdeling toe. Koebaai en weg is sy. Ek hou aan.
Die foon begin weer lui. 'n Masjien antwoord. Ek kan sweer dit is die eerste masjien wat met my gepraat het. Hy haal dieselfde rympie aan en vra my weer dieselfde vrae, om die laaste agt nommers van my pindraende kaart in te sleutel. Het die moer nie die eerste keer gehoor dat ek nie die nommers ingesleutel het nie en vra wragtag weer vir my nommers. Ek hou weer aan. Uiteindelik antwoord 'n ander mens. Luister na 'n lang storie oor alles word opgeneem en die persoon se naam en afdeling ens. Begin weer met my storie. Jammer meneer, dit is nie ons afdeling nie. Ek sal u deurskakel na die regte afdeling. Ek maak my mond oop om te praat, en koebaai weg is die mens.
Die foon lui weer. Welkom by....ek sweer dit is weer dieselfde ou met wie ek netnou ook gepraat het. Hy rammel weer 'n klomp goeters af en vra sowaar as vet my laaste agt nommers van 'n pindraende kaart. Ek vervies my sommer en wil net prosedeer toe 'n mens antwoord. Weer word 'n lang relaas gelewer en toe ek uiteindelik aan die beurt kom is dit ook die verkeerde afdeling.
Dit was 12h38 toe ek maar handdoek ingooi, op staan en 'n draai gaan loop.
Wonder net, waar’s al die mense heen.
Reusedwerg


Kommentaar
(Glimlag) Oulik geskryf!