Waar die Bloekombome waghou

  • 1

Indien ek oor ’n meesterlik melankoliese skrywersvaardigheid beskik het, sou ek hierdie vertelling laat wegspring met iets soos ...

“Hoog uit die punt van ‘n indringerboom se tak, het ’n kraai skrillend onder sy skaduwee op die werf toegesak. ‘n Kil, nee, ysere begraafplek van stukkende sierwaens sonder skuld, geskend en bloedloos bevlek.”

Teen die agtergrond van ’n ry Bloekombome in Bellville-Suid, kruip ’n skrootwerf van ‘n anderste aard weg.

Dit is een van vele van ons SAPS-en-seuns se opslagplekke vir die bewaring van herwinde gesteelde voertuie. Gister, in die namiddag se effense sonnetjie, moes ek ’n kollega bystaan om haar onregmatig geleende voertuig uit die opgelegde aanhouding te gaan bevry; dit net sodat die versekeraar se aangestelde paneelklopper die goue kar weer kan gaan haal en regmaak, ná die swernote wat daarmee rondgery het, haar die onguns van ’n nuwe klomp krapmerke aangedoen het.

Dit laat my hardop dink; die woord paneelklopper is eintlik tans oorbodig in ons ryke taal. Die ouens klop nie ’n paneel indien die versekeraar dit herstel wil hê nie; hulle vervang dit. Dus, sou mens kon sê dat by die gebrek aan paneelkloppery, paneelhegtery immers meer gepas sal wees.

Ieder geval, indien my onderkaak nie aan die boonste deel van my tandekas geheg was nie, sou dit beslis tussen my bene op die karretjie se sitplek gelê het nadat ons die bewaarplek binnegery het. Dis net karre, karre, karre en gefrommelde bakkies en bussies sover jy kan sien; ietwat oordrewe maar wel tog tot teenaan die bloekombome. Op die ruite van die wrakke waarby ons verbyry, is daar nommers geverf en kodes wat met “2014” afgesluit word. Die spreekwoordelike kouewateremmer van skok het amper my bo-kaak ook afgeruk: hierdie massa voertuie is almal net uit 2014-sake!

Sommige is gesteel en in Bellville gevind en toe hier afgelaai. Ander is weer gebrandmerk crime vehicle.

Die meeste van hierdie voertuie sal verseker nie weer hier uitgery word nie!

Die vensters is stukkend en die buurt se katte het al verskeie werpsels hier gespeen; ander se wiele het die pad gevat en die kar op sy pan op die grond gelos. Dié staan en wegroes. Doer duskant is daar iets wat soos ’n trossie motorfietse lyk. Die skroot is hier meer werd as die eenheid.

Om ’n draai ry ons gelukkig die speurders se kantoor tussen die lang gras nie mis nie. Die klompie rooibaksteenbuitegeboue, elk met sy eie bloekomboom of twee, herinner aan die tipiese ou spoorwegkantore by ’n kleinerige stasie of rangeerwerf.

Dit laat my dink aan die spoorweghuis-nedersetting waar ’n tante van my destyds in Durban gewoon het. Trotse mense; die inwoners het die rooibaksteenhuisies met hul gepolitoerde stoepies in netjiese boomryke tuine, Hollywood genoem. Ek was daardie jare te klein om te verstaan hoekom dit juis Hollywood was. Eintlik weet ek vandag nog steeds nie.

Die kantoor se eens geverfde vloere is moontlik al sedert die afskaffing van die goudstandaard nerf-af geloop. Die karige meubels in die 4 onderverdeelde kantoortjies herinner aan die posbodes se rusplek by die destydse Ontvanger van Inkomste. Die stoele is gemerk met iets wat soos naellak lyk en nie een sitplekkussing is heel nie. Hier het ’n hele paar onbekendes in die verloop van tyd hul broeke se sitvlakke blink gesit.

Die enigste persoon wat in die kantoor is, is juis die persoon wat ons moet sien. Sy is meesteres oor ’n duisend voertuie; die één persoon wat die magsbevoegdheid het om ’n gesteelde kar se dae te beëindig, of om dit met haar handtekening op die ontslagvorm te verleng.

Presies halfpad, op die middellyn van die kop-aan-kop lessenaars wat die adjudant-offisier met iemand anders deel, staan die rekenaarskerm. Die toetsbord vir die rekenaar kan, so lyk dit vir my, met moeite heen-en-weer- aangegee word, afhangende van wie die rekenaar gebruik. Sjoe.

Bokant die afdrukmasjien is ’n handgeskrewe kantoorinstruksie skeef opgeplak, “ as jy copies maak gebruik jou eie papier”.

Die geboutjie se vensters is met staaldraadhokke bedek; ek is nie seker of dit inbrekers uit of sielsgefrustreerde werknemers juis binne moet hou nie. Tussen die enjinblokke en vertrapte ruitveërs waar ons geparkeer het, was iemand so vriendelik gewees om houtpalette as voetpad tot by die voordeur te pak. Nou kan die onkruid ongesteurd groei. In ‘n terugflits moet ek erken dat selfs te midde van die hartseer rommel, die werf nogal groen is.

Gepraat van vriendelikheid. Die enigste sprankel hoop in hierdie swaarmoedige plek, was egter die adjudant-offisier. ‘n Vrou wat, en hier staan ek as vooroordeelaar skamend skuldig, met die gesag van ’n straatvegter by die kantoor uitgestap het en so in die beduie, ’n goedkoop sigaret uit sy pakkie laat opwip het, om met een vuurhoutjietrek brand te steek. Terwyl die rookding weerloos in die hoek van haar mond rondhop, nooi sy ons saam na daar waar die goue kar soos ‘n prinses tussen die varke staan. Sy help ons geduldig en bied aan om dit en dat sommer gou aan te spreek. Toe die insleepvoertuig vertraag is, maak sy ‘n plan en laat die hekke na die spertyd van 15:00 oopbly. Sy reël sleutels en teken die allerbelangrike papiere sonder ’n gekla.

Met haar wegstap en met die oorpak se kreukels wat na langer as die dag se dra wil-wil lyk, skiet sy die stompie met styl tot binne-in een van die Kaapse wintersreënpoele op die modderpad. Sy groet vriendelik en met die terugkyk, onder die grootraam-sonbril, glimlag die gesig van ’n vrou wat baie mooier is as die lewensuitrusting waarmee sy met geboorte ge-issue was.

Op pad terug na die lugversorgde netjiese kantoor van ons voorstedelike werkie, was daar maar min gesels; want ‘n lied van een van my gunsteling kunstenaars, Rian Malan het steurend in my gedagtes aanhou speel ...

Alien, ook inboorling
Hy’s nes ek, my bloekomboom
Hy hoort nie hier, maar hy sit wortels neer
Doer onder in die land se donker are

Daar staan ’n bloekomboom
Op elke plaas se werf
Hoe gaan dit lyk as hy uitsterf?
Net stof en sand
En die son wat weerloos brand ...

  • 1

Kommentaar

  • Baie dankie Hennie vir hierdie verflenterde prentjie wat jy so lewensgetrou geskilder  het.  

     
    Enjee
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top