Voorspelling oor die posisies van Jupiter se Galileaanse mane vir Kobus

  • 32

Kobus,
Ek heg vier afbeeldings van Jupiter en sy 4 Galileaanse mane aan, wat ek met behulp van die astronomie-programmatuur “Starry Night Pro Plus 7” saamgestel het. Daarop verskyn Jupiter en die vier mane soos wat dit deur ’n 4-duim (10cm) teleskoop met ’n 10 mm oogstuk gesien sal kan word om 22:00 op elk van die volgende vier aande: 10, 11, 13 en 14 April 2015. Ek dui die mane met C, G, E en I vir Calisto, Ganymede, Europa en IO onderskeidelik aan. Ek het doelbewus 12 April, die 1ste dag van die week, weggelaat omdat dit dalk kan bots met ander aktiwiteite van jou.

Ek het ook spesifiek ’n beskeie 4-duim teleskoop uit die verskeidenheid beskikbaar in die simuleerder gekies, omdat dit waarskynlik in die klas val van die ‘goedjies’ waarna jy soms verwys. Ek vermoed dat Thomas se teleskoop heelwat kragtiger is en ek skat jy sou ook nie geld verkwis op iets swakker nie.

Nou hierdie is natuurlik ’n voorspelling omdat dit nog moet gebeur. Indien die ‘stippels’ wel op die spesifieke tye te sien gaan wees op die posisies soos in die voorspellings aangedui word, sal dit bevestiging wees dat dit niks anders as die mane van Jupiter is nie en daarmee die sigbaarheid van die mane bevestig. Indien die voorspellings nie bewaarheid word nie het jy mos jou bewys dat jy reg is en dat Galileo en derduisende ander in die vier vergange eeue sedertdien hulle vergis het.

Die ander stippels in die afbeeldings is sterre in die verafgeleë agtergrond. Hulle posisies behoort net in die mate te verskuif wat Jupiter in sy wentelbaan gedurende die vyf dae van 10 tot 15 April aanskuif. Hulle posisies sal ook nie tov mekaar verander soos Jupiter se mane nie. Die helder ster onder is Pollux van die konstellasie Gemini met ’n magnitude van 1.15 en wat 34 ligjare vanaf die son geleë is. Pollux se deursnit is 10 keer die van die son en hy het ook 1 ekso-planeet.

Gemeet aan die reaksie in die vorige polemiek oor hierdie aangeleentheid ’n tyd gelede sal talle SêNetters waarskynlik hierdie voorspellings noukeurig dophou en veral jou reaksie na afloop daarvan.

Panda

  • 32

Kommentaar

  • Regstelling: Die ster op die vier afbeeldings is nie Pollux nie maar TYC1397-459-1 in die konstellasie van Cancer. Sy afstand vanaf die son en sy magnitude is ongelukkig nie beskikbaar in my bronne nie. Die inligting tov Pollux is korrek behalwe dat dit nie op die afbeeldings wat ek geplaas het verskyn nie.
    Panda

  • Kobus de Klerk

    Panda,

    Ek waardeer die moeite wat jy hierbo gedoen het hoewel ek weet jy dit nie gedoen het om my te plesier nie maar om my te probeer oortuig dat ek 'verkeerd' is.

    Ons sal sekerlik die sterre en -konstellasies se lig sien – hulle is na alles massief en straal inherent lig (radioaktiewe bestraling) uit.

    Maar ek dink as jy my besware en proposisies mooi verstaan, sal jy besef dat, wat jupiter en die mane aanbetref, die inligting wat jy verskaf, nie enigsins die saak verder neem nie.

    Soos jy self uitwys, het Galileo alreeds gedurende die 16de eeu die vier groter mane van jupiter waargeneem. Natuurlik het die Sjinees Gan De al 364 vC die aanspraak gemaak dat hy een van hulle kon sien. Natuurlik het die Babiloniërs al ongeveer die 8ste eeu vC aanspraak gemaak daarop dat hulle jupiter kon sien.

    Jy sal seker met my saamstem dat Galileo se toerusting, 'n antieke 20x teleskoop, nie naastenby so gesofistikeerd was soos selfs die 4 duim teleskoop in jou simulasie of Thomas se R11 000-glasie, nie. Thomas se toerusting vergelyk natuurlik glad nie met die professionele sterrekykers se toerusting nie. En tipies is daardie stukkie toerusting van hom boonop outomaties en fokus vanself wat beteken dat dit geprogrammeer is met die standaard sagteware.

    Dit is natuurlik juis die probleem. Dit is nie jy of Thomas wat jupiter en sy mane self uitken en opspoor teen die wemelende digbevolkte skitterende naghemel nie (jou simulasie gee vir ons so 'n indrukkie daarvan en soek gerus ook digitale beelde wat vanaf New Horizons ontvang is wat die van-ligstippel-volgepakte hemel horison vertoon) – julle (net soos al die amateurs) is aangewese op die sagteware om outomaties die fokus en uitkenning te doen. Tewens, as daar na die New Horizon beelde gekyk word, kan mens sien hoe belaglik die aansprake is om spesifieke objekte uit te ken tussen die biljoene ander ewe skitterende ligstippies... Daardie skitterende stippeltjies se afstande is nie op sig so bepaalbaar en en ook nie hul identiteite nie. Wat my hinder van die sogenaamde foto's wat Thomas en ander plaas, is die skone, swart agtergrond waar net jupiter en sy gesogte vier maantjies as stippels uitstaan. Skielik poseer hulle vir die fotos en die ander hemelliggame wat skitter moet padgee vir die okkasie. Dit beteken egter net een ding – die foto's is geredigeer en die beeldkwaliteit is versterk en is dus kunsmatig en onbetroubaar – en ergste nog, gedoen om 'n teoretiese posisie gestand te doen wat sedert Galileo al in gebruik is. Of Thomas se glasie is blind vir die ander objekte... maar ek dink dit is eerder eersgenoemde – dit is alles gesimuleer.

    Niemand doen (of kan) die moeite doen om te probeer verifieer wat gesien word nie. As mens na New Horizons se digitale beelde kyk, besef mens hoe belaglik die aansprake op uitkenning is en hoe pertinent die kanse vir totale verwarring in die besige hemelruim is.

    Hoe kom die sagteware se data tot stand? Sedert Galileo volg almal sy 'bevinding' na. Vir die afgelope bietjie meer as vier eeue volg almal hom klakkeloos na. Almal soek vir stippels waar hy sê dit gesien word en praat hom dan na wanneer hulle wel sulke stippels sien. Wat Gang De en Galileo nie kon sien nie, is die massa ander wentelende objekte. Intussen is daar, sedert die 20ste eeu, nog ten minste 63 ander mane ook na bewering opgespoor. In die laaste tyd is daar nog ongeveer 16 ander objekte of 'satelliete' wat na bewering daar ronddwaal wat nog nie eens geïdentifiseer is nie.

    Daar heers ook vermoedelik onder die geledere van die vermeende mane van jupiter, redelike orbitale wanorde,aangesien die 'mane' in verskillende rigtings orbiteer en sommige so naby is dat dit slegs ongeveer sewe ure neem (selfs vinniger as wat jupiter vermoedelik om sy eie as sou draai) en ander weer so ver verwyderd is van jupiter dat dit ongeveer drie aarde-jare neem om 'n 'wentelbaan' te voltooi. Sommige (die vier grotes) is deur Galileo in 1610 ontdek en sedertdien word daar nog steeds tot so onlangs as 2011 ontdekkings gedoen en waarskynlik nog meer onlangs, ongesertifiseerde ongeïdentifiseerde 'mane' of satelliete ontdek. Dit, terwyl die planeet sedert Galileo feitlik elke dag deur waarnemers soos valke dopgehou word...

    Hierdie wys vir ons daarop dat daar massas objekte in die ruimte rondbeweeg wat in die pad kan kom vanaf die aarde tot wat gemeen word, jupiter te wees. Instede dat die teorie aangepas word om die waarskynlikheid van talle ander verklarings vir die sigbaarheid van wat sedert ongeveer vier eeue gelede beskou word as as jupiter en sy mane en dat dit heel waarskynlik ander van die wemelende objekte kan wees, word daar steeds klakkeloos aan Galileo se observasies gevolg gegee. Nie omdat dit noodwendig wetenskaplik korrek is nie, maar omdat hy vir die hedendaagse ruimte-wetenskaplike 'n held en 'n ikoon is (hoofsaaklik vanweë sy wedervaring met die boefagtige katolieke kerk van die tyd) en sy bevindinge van ongeveer vier eeue gelede heilig-status bereik het. Dit vorm die basis van die standaard model of teorie.

    So weerspieël die sagteware dan ook daardie standaard model of teorie.

    Hierdie wentelende objekte is tussen ongeveer 40 km (metis) tot ongeveer 23,5 miljoen km vanaf jupiter, soos vermoed word. Selfs callisto is amper 2 miljoen kilometer vanaf jupiter... Pasiphae met 'n beweerde gemiddelde deursnee van slegs 36 km is na bewering 23,5 miljoen km vanaf jupiter en neem na bewering ongeveer 735 aard-dae om 'n omwenteling te voltooi. Tog word hulle almal as mane van jupiter geklassifiseer – dit maak absoluut geen sin nie. Hoe op aarde kan dit bewys word? Meeste mense eet dit eenvoudig vir soetkoek op.

    Maar hierdie praktyk dui verder daarop dat bykans enigiets wat tussen aarde en jupiter aangetref word summier as mane van jupiter geklassifiseer word, ongeag, maar baie onwetenskaplik, word die waarskynlikheid van verwarring nie eens aangespreek nie. Maar nee, elke keer as iemand van julle na jupiter wil kyk, dan poseer hy en sy vier seuntjies vir die kyker en die res gee pad uit die beeld uit... hier gerieflik!

    Ons weet almal jupiter en die mane is nié lig-emitterende planete (sterre of sonne) nie. Tog het hulle na bewering verbasende beweerde illuminasie-kwaliteite. Weereens die uitgesoekte gunsteling seuns van jupiter wat mos darem weens hul ikoonstatus helderder moet skitter as die swetterjoel ander afgeskeepte objekte in hul omgewing. Maar vergeet nou van die ikoonstatus van die vier outjies. Wat verleen daardie skitterende hoedanigheid aan daardie vier objekte? Die enigste manier is tog weens die refleksie van die bestraling van die son, ongeveer 770 000 000 km vanaf jupiter en die mane af. Waarom is die ander beweerde mane, wat darem 'n paar honderd kilometer in deursnee is, nie so skitterend sigbaar nie? As julle reg moet wees, maak dit nie juis saak nie en behoort die refleksie in ieder geval maklik sigbaar te wees, maar dit is nie, want dit is gewoon te ver. Wat verleen aan jupiter en sy mane daardie veronderstelde luminositeit? Hoe word dit bewys?

    Hoekom is die ander kwansuis nie sigbaar nie? Hulle is mos daar...

    Een van die voorbeelde van hierdie tipe fenomeen is die 'maan' themisto, wat in 1975 gesien is, maar toe 'verdwyn' het tot dit weer eers opgemerk is in 2000, kwansuis weens onvoldoende waarnemingsdata. Hierdie bewys die fenomeen dat dit so maklik is vir bestaande ruimte-objekte om versluier te raak en dan skielik weer sigbaar te raak vir menslike observasie, weens die gebrekkige vermoë van navorsers (weens ontoereikende toerusting) om behoorlik uitkyk te hou en betroubare observasies te doen. So is daar ook gedurende 1999 tot 2003, sommer 34 nuwe 'mane' geïdentifiseer, wat nog altyd daar was, maar nog net nooit as sulks raakgesien is nie of vir iets anders aangesien was... dalk as ruimte rommel of nuttelose brokstukke (waarvan daar klaarblyklik massas is) en nou tot maan status verhef is?

    Dit ten spyte van 'besoeke' van ruimtetuie soos Pioneer 10 en 11, Voyager 1 en 2, Galileo, Cassini, Ulysses en New Horizons (2,3 miljoen km verbyvlug vanaf wat gemeen word, jupiter was en het al klaar twee ligstippies tussen letterlik biljoene ander ewe skitterende ligstippies op sy wentelbaan koers geïdentifiseer en afgeneem wat dit op 14 Julie vanjaar gaan afneem as die gemiddeld ongeveer 6 biljoen km ver piepklein pluto en sy maan) en Juno wat blykbaar in aantog is.

    Daar is natuurlik ander probleme ook.

    Nou kom ons by jou illustratiewe voorspelling. Jy gebruik, soos ek tevore reeds uitgewys het, maar net weer die ou klassifikasiestelsel en die data wat daarin geprogrammeer is. Hierdie inligting is waarnemings wat gedokumenteer is van sigbare ruimte-objekte wat vanaf die aarde sigbaar is. Hulle volg 'n vaste wentelpatroon vir baie langer as wat jou sagteware oud is, en is altyd sigbaar relatief tot hulle posisie tot die son en die aarde sodat die refleksie van radioaktiewe bestraling (die lig) vanaf die son hier op aarde sigbaar is. Daarom kan hulle gekarteer word in die ruimte en daarom sal ons hulle maar net weer op die gegewe datums heel waarskynlik weer sien.

    Vir jou en ander soos Thomas wat na daardie objekte loer asof daar niks anders is om mee besig te bly nie, lyk dit asof die objekte progradeer en dan weer retrogradeer en dan vorm julle 'n teorie daaromtrent, soos wat jy vir ons getrou hierbo weergee. Volgens die gewilde teorie (niks meer as dit nie) is dit omdat die 'maan' om jupiter orbiteer. Maar ons weet (of weet ons werklik) dat daar ander 'mane' miljoene kilometer vanaf jupiter wentel in 'n retrograde-wentelbaan relatief tot jupiter se vermeende wenteling orbiteer. Jy kan dus nie bewys dat dit juis daardie ligstippeltjie is wat so pas vroeër nog 'n prograde-wentelbaan aangedui het wat nou retrogradeer en of dit 'n ander ligstippeltjie is wat in die gesigsveld kom (terwyl die eerste een uit die gesigsveld verdwyn) maar in die teenoorgestelde rigting beweeg en dan die optiese illusie skep dat dit die eerste objek is wat bloot maar net retrogradeer nie.

    Op dieselfde manier kan jy (en die aanvanklike opstellers van die gegewens waarop jou sagteware en die sagteware voor daardie) ook nie bewys dat nie ander objekte veel nader en dus meer sigbaar, aan die aarde is wat jy/hulle telkens raaksien (hulle volg mos vaste wentelbane) nie maar vir jou die optiese illusie skep dat dit noodwendig een van jupiter se andersins onsigbare mane is, nie. Objekte wat weens hulle posisies relatief tot die aarde en die son, sigbare lig sal reflekteer of nie – dus om die beurt sigbaar en onsigbaar word terwyl ander op dieselfde óf teenoorgestelde koers maar in 'n ander wentelbaan, dieselfde doen, maar op die tyd dat jy meen, dieselfde objek steeds sigbaar behoort te wees en jy só 'n optiese illusie te beurt val, nie. Jy kan dit net eenvoudig nie bewys nie. Daar is gans te veel veranderlikes op die meer as 700 miljoen km koers tussen hier en jupiter wat jou/julle teorie kan en sal verongeluk.

    Jou probleem is, daar kan geen in-situ toetsmodel opgestel word om die inligting te kontroleer of te verifieer nie. Gestel mens sou per ruimtetuig 'n ligbaken soos 'n ligboei oral op die vermeende maan gaan plant wat dan met geprogrammeerde tussenposes ligstrale van 'n sekere frekwensie emitteer en so ook op jupiter (sal effe moeilik wees, ja...) en dit dan van die aarde af dophou. Dan sal mens kan kontroleer met die bestaande data. Dit kan dan as kontrole en verifikasie dien. Maar ons beskik nie oor sulke tegnologie nie.

    Dan is daar nog 'n verdere kwelling. Daar word vermoed dat jupiter 'n gasplaneet is, waarvan slegs die kern van die ongeveer 143 000 km deursnee planeet uit saamgeperste rots en metaal bestaan maar die res is waterstof gas en -vloeistof, Dus nie 'n rotsplaneet, soos die aarde nie. Waar kom die talle rotsagtige mane vandaan? Is dit werklik mane? Die teorie is dat dit ruimte-puin of oorblyfsels of meteoriete is wat vasgevang is in die sleur van die skyf rondom jupiter. Maar dan moet jupiter se omgewing oor 'n tamaaie sleurkrag asook die intense bestraling beskik wat sal verhoed dat ruimtetuie 'naby' kan kom sonder om vernietig te raak en uitsending van radioseine onmoontlik maak. Is dit dus werklik jupiter wat deur die ruimtetuie afgeneem is?

    Ergste van alles is, geen mens weet wat daardie ruimtetuie wel fotografeer nie – enige objek in die kamera se lens op die vooraf-geprogrammeerde tyd wat gereken word, die tuig die planeet sou moes bereik. Hoe op aarde kan bewys word dat die beeld wat teruggesein is, wel dié is van die objek wat van die aarde af as ligstippie sigbaar is tussen al die ander biljoene ligstippies? Vir die redes hierbo na verwys, blyk dit dat die spulletjie boonop swaar geredigeer en versterk word om die gewenste punt te bewys, baie dieselfde metodiek wat die evolusioniste volg met hulle nuttelose eksperimente om evolusie te bewys. Daar is eenvoudig geen manier om dit te verifieer of bewys nie.

    Daar is dus geen manier om te bewys dat die ligstippies wat as jupiter en sy mane geklassifiseer word, wel die objekte is wat in beeld deur die ruimtetuie teruggesein is nie.

    Dit beteken ook dat daar vir miljoene der miljoene kilometers rondom jupiter in alle rigtings heen massas sulke soms skitterende (afhangende van hul posisies relatief tot die aarde en die son) maan-agtige rommel rondswerf in wentelbane en vir Thomas sal en kan lyk soos sy gunsteling ruimte-vreugdes... jupiter en sy mane. Om nie eens van die gevaarlik en verraderlike asteroïde-gordel te praat nie.

    Maar skielik bestaan hierdie objekte in die pad nie wanneer julle na die astronomies ver jupiter kyk nie?

    Jy kon dus steeds nie vir my bewys wat bewys moes word nie, omdat jy nie weet (en kan bewys) vir die redes hierbo genoem, of dit wat wel op die tyd en datums gesien sal word, iets anders is waarvan die gedrag maar oor die eeue heen gesien en as jupiter en mane aangesien word en of dit werklik jupiter en mane is, nie.

    Kobus de Klerk

  • George Bekker

    Kobus,
    wat jy nie weet nie is dat as iets gedurende die 1600's gebeur het,
    is dit bekend as die 17de eeu (16 volgens jou).

    Wat
    my eintlik pla is jou onvermoë om jouself uit te druk. Jy het 2 323
    woorde nodig om Panda te antwoord en ek vermoed dat hy steeds
    probleme gaan hê. Jou opleiding as prokureur moes darem minstens een
    gevolg gehad het, nl jou in staat gestel het om jouself in minstens
    een taal uit te druk. As hulle nie al dood is nie sal jou vroeëre
    leermeesters hulle koppe in skaamte laat sak.

  • Beste Panda

    Dankie vir jou inligting.Sal almal nou asb ophou om Kobus te oortuig want hy sou presies dieselfde argumente gebruik  het tov die aarde se maan indien hy sy waarnemings vanaf Jupiter gedoen het.

    Dit sou 'n ligspikkel gewees het.Baie interessante inligting kan verkry word van die volgende webblad:https://solarsystem.nasa.gov/planets/profile.cfm?Object=Jupiter&Display=OverviewLong

    Hoeveel mane het Jupiter?  Daar is 50 (vyftig) wat reeds name het en 17  wat wag op bevestiging
    en dus voorlopig genommer is.

    As Kobus oortuig is dat Jupiter glad geen mane het nie sal die inligting soos water van 'n eend se rug afrol.

  • Kobus,

    Ek het nou heerlik gelag vir die wye jakkalsdraaie en kleitrappery van jou wat
    volgens my rekenaar se ‘word count’ meer as 2 300 woorde lank is.

    Die argument het van meet af spesifiek oor die Galileaanse mane gegaan. Dié
    vier mane tel onder die 6 grootste mane in die sonnestelsel en Ganymede is
    selfs groter as die planeet Mercurius. Nou sleep jy sommer die ander maantjies
    ook by.

    Vir meer as 400 jaar word daar nou al waargeneem hoe die vier ‘spikkels’ in
    voorspelbare formasie vir Jupiter in sy wentelbaan om die son vergesel.
    Nou  wat maak dit nou saak of die voorspellings van die posisies met
    behulp van rekenaar programmatuur gemaak is?  Indien hulle op die vier
    aande waargeneem kan word in die posisies soos ek in die  voorspelling
    aangedui het. dan is dit klinkklare bewys dat Jupiter se galileaanse mane en
    niks anders is nie wat wel deur Thomas en duisende ander gesien word. SêNet
    se lesers sal dan oordeel.

    Wag tog nou eers tot ná 14 April voor jy
    jouself al dieper ingrawe.

    Panda

  • Kobus de Klerk

    Panda,

    Jy lag, maar ek dink dit is uit frustrasie omdat jy my nie kan weerlê of bewyse verskaf nie. Jou antwoord is uiters teleurstellend. Maar ek dink dit kan ook wees omdat jy heel uit die veld geslaan is - jy verstaan ook nie die relevansie van die vermelding van al die ander wentelende objekte nie ...

    Wat sal mense die paar dae voor 14 April sien? Hulle sal wonder ... en jy ook.

    Jy veral, glo sonder bewyse en dan verwyt julle gelowiges daarvoor ... Of hulle vra bewys en kyk of dit gegee kan word, of hulle sal dieselfde ou storie wat sonder bewys en sonder kontrole vir meer as 400 jaar opgedis word, vir soetkoek opeet ...

    Moet ons dit aanvaar net omdat dit vir 400 jaar gepropageer word? Jy dring daarop aan sonder bewyse. Ons glo in God omdat HY al vir duisende jare verkondig word ... en ons sien die werke van SY hande as bewyse - ook die hemelliggame waaraan jy jou vergaap.

    Kobus de Klerk

  • Kobus,

    Jy is byna in die kol met jou opmerking in die eerste paragraaf van jou kommentaar van 29 Maart, behalwe dat ek nie probeer om jou verkeerd te bewys nie. Jy het tog self by geleentheid geskryf dat jy weet waarvan jy praat en dat niemand jou nog verkeerd kon bewys nie alhoewel baie al probeer het. Ek probeer maar net vir die ander lesers op hierdie forum uitwys wat waar en wat vals is.

    Ek is seker daar is baie gelowiges ook wat Jupiter en sy Galileaanse mane kan sien. Angus het reeds vir jou hieroor ingelig. Dis jammer dat jy nou die kring al wyer trek en ruimterommel en Jupiter se klein maantjies en nou tot geloof en God ook bysleep. Die argument het mos aanvanklik oor die Galileaanse mane se sigbaarheid gegaan. Kom ons hou dit daarby.

    Ja, en nou plaas jy selfs ook die programmatuur waarmee teleskope gerig word onder verdenking. Hier kan ek jou bietjie help want ek het al baie rekenaarprogramme geskryf. Dit werk basies so: Jy verskaf ’n databasis wat spesifieke bewese en bevestigde feite bevat (programmeerders verwys na die feite as data) wat vir die rekenaar toeganklik is, bv die groottes en afstande en ander besonderhede van belang van Jupiter se Galileaanse mane sowel as van Jupiter. (“Garbage in garbage out” is die wagwoord en slagspreuk wat hier van toepassing is.) Jy skryf dan ’n stel opdragte wat ook toepaslike formules insluit deur die gebruikmaking van ’n programmeringstaal bv. BASIC, COBOL of FORTRAN om enkeles te noem, wat die rekenaar in staat stel om die data so te verwerk dat dit vir jou nuwe inligting in die formaat wat jy verkies gee, bv teks, oudio of die voorstellings soos die wat ek gebruik het by die voorspellings wat ek geplaas het. Die stel opdragte word dan met behulp van ’n kompileerder omskep in sg masjientaal wat behels dat die hele spulletjie oa omgeskakel word na die binêre getalstelsel.

    Dus: DATA —> VERWERK —> INLIGTING. ’n Rekenaar is dus basies maar eintlik ’n elektroniese feite-verwerker. Daar bestaan glad nie ’n databasis met miljoene der miljoene voorstellings van die posisies van die mane vir enige moontlike tydstip in die verlede of toekoms wat gebaseer is op Galileo en latere sterrekundiges se waarnemings nie. Galileo se bydrae is bloot geskiedkundig en enige data wat hy dalk kon versamel sou vir seker so onakkuraat en onvolledig wees dat dit van geen waarde vir eksakte programmeringsdoeleindes is nie. Die toekomstige posisies van die Galileaanse mane wat ek in my voorstellings aangedui het, is dus wetenskaplik bepaal. Die werklike toets is natuurlik nou om te sien of dit so gaan gebeur? Dit is waarom ek dit vroegtydig geplaas het sodat daar nie agterna beweer kan word dat dit gekook is nie.

    Ek stem ook nie saam dat daar wanorde onder die mane van Jupiter heers nie. Die blote feit dat elkeen van hulle, selfs die kleinstes, se toekomstige posisies voorspelbaar is bewys afdoende dat jou stelling vals en uit die lug gegryp is. Ek wil nie die kommentaar onnodig uitrek nie maar jy gebruik hier en daar baie vreemde en onbekende terme wat ek nog nooit in artikels en boeke oor astronomie teengekom het nie. Ek wil jou nog graag daaroor uitvra. Verskoning vir die lang kommentaar.

    Panda

  • Beste Panda en Thomas,

    Sal dit nie maar beter wees om Kobus te laat glo wat hy glo nie?

    Hy glo dat die son, die maan en die sterre maar net ligte is, soos sy wetenskapboek, die Bybel, hom leer. Hierdie ligte is deur God gehang aan 'n soort van 'n koepel. Hierdie koepel of gewelf kan nie te ver van die aarde af wees nie, want dit draai om die aarde in presies 24 uur en so 'n bietjie.

    Groete,
    Angus

  • Beste Kobus,

    Soos 'n goeie Christen, maak jy maar soos alle Christene maak: hulle maak of hulle weet wat hulle nie weet nie. Hoe weet jy dis Jupiter waarna jy met jou bifokale brilletjie loer? Kan jy sien dis 'n gasagtige planeet soos jy beweer? En hoe weet jy daar swerf maan-agtige rommel om hom? Hoe weet jy van die asteroïdegordel waaroor jy nie wil praat nie? Hoe weet jy daar is biljoene ligstippeltjies? Het jy hulle getel? Dink jy God het tyd gehad om in een dag al daai ligte en ligstippeltjies aan die gewelf te hang? Dis mos sy handewerk, en die arms waaraan die hande vas is moes mos bleddie moeg geraak het. Ek moes nou die dag vier gloeilampe vervang in my huis se plafon, en ek kan jou verseker my skouerknoppe wou naderhand nie meer nie.

    Iemand het my so 'n paar dae gelede gesê dis nie ligte wat God so aan die hemelkoepel gehang het nie. Hy beweer God het met 'n hamer en 'n spyker sulke gaatjies in die koepel geslaan, nou skyn die hemelse lig so deur die gaatjies. Dink jy ook so? en kan jy bewys dat dit waar is of kan jy bewys dis nie waar nie?

    En wie sê vir jou die aarde is 'n planeet? Kan jy asseblief sê waar in die Bybel word van planete gepraat? Jy kan mos nie nuwe klassifikasiesisteme gebruik wat direk met die Bybel se klassifikasiesisteem indruis nie? As dominee dit hoor, gaan jy sowaar in kamer 101 beland.

    En dan: hoe durf jy, hier waar ons suiwer Afrikaans besig, om van sagteware te praat? Die woord is programmatuur. Ek hoop nie Jan Rap lees hier nie, want dan klassifiseer hy jou onmiddellik onder slapgatafrikaners.

    Groete,
    Angus

  • Kobus de Klerk

    Panda,

    Lyk my jy het nog nie agtergekom nie, maar ek het dit juis teen die databasis waarop die sagtewarepakket (dit is 'n erkende alternatief vir programmatuur, Angus...) geprogrammeer is, wat nie die probleme wat ek vermeld het oplos nie, maar bloot dit wat hier van die aarde se kant af sigbaar is, boekstaaf. Dit op sigself bied geen bewys dat die interpretasie wat julle daaraan koppel korrek is nie want julle kan dit nie bewys nie - dit geld natuurlik ook vir die vermeende mane van jupiter se wentelbane.

    Dit help nie ons herhaal onsself nie - julle het geen bewys kon verskaf nie, en poog om die interpretasie van wat miljoene en selfs biljoene kilometer van hier af in die ruimte plaasvind, as bewys voorhou terwyl daar op hierdie stadium geen manier is om daardie interpretasies te verifieer nie. Dit is bloot 'n geloof wat julle het en 'n teorie wat daarop gebaseer is.

    Jou persoonlike siening oor die relevansie van Galileo se teorie, hou nie tred met die werklikheid en die invloed wat sy teorie op die navolgers daar het nie.

    Hier in ons familie is daar soos dit is, ervare en bekwame rekenaarsagteware-programmeerders - en dan sal jy weet dat Basic werklik nie aanwending vind in die tipe sagteware waarvan ons praat nie. Ons het destyds Basic gebruik toe daar nog nie vir (persoonlike) rekenaars wat nog met magnetiese bandjies gewerk het om te stoor en toe 64kb ram geheue waffers was, om programmetjies te skryf vir die besigheid om eenvoudige rekenkundige takies te verrig, ens. Maar Visual Basic is mos die weergawe wat vandag gebruik word veral vir OS-koppelvlakke.

    Maar dit het werklik niks te make met die kwessies wat ons bespreek nie.

    Jou databasis se integriteit is maar so goed soos die feite wat gebruik word om dit mee op te stel of te skryf.

    Angus,

    Jy kan somtyds werklik so simpel optree, veral wanneer jy in 'n hoek is. Kan jy nie beter doen nie?

    Kobus de Klerk

  • Kobussie,

    Moenie so jaloers op jou maatjie Thomassie se speelgoed wees, deur te gaan Google wat dit kos nie. Naywer is 'n lelike ding wat in god's woord verbied word en pas nie by 'n onderdanige dienaar nie.

    Laat oom Thomas nou vir jou raad gee. Glo enigiets wat jy wil, selfs dat die hele wêreld se sterrekykers besig is met 'n komplot teen jou. Eendag gaan hulle almal in 'n groot vuur brand en jy gaan lekker harpmusiek luister en op goue strate loop. Hulle is eintlik net jaloers op jou. Die feit dat hulle nou allerhande lekker goed doen en uitvind beteken absoluut niks want dis sommer gou-gou verby. Jy gaan vir lank saam met Trienie en ander goeie mense wees en niemand gaan jou naam gat maak nie. Die feit dat almal nou dink jy is nie lekker nie is sommer niks nie. Eendag, o eendag gaan jy vir ewig die finale sê oor alles hê.

    Hulle is sommer 'n nare spul rakkers en maak lelik met jou.

    Groetnis
    Oom Thomas

  • Angus,

    Net so man, net so‼ En as ek sê die verskynsel word vir meer as 400 jaar 'waargeneem' dan verdraai Kobus dit netjies na '400 jaar gepropageer'.

    Panda

  • Beste Kobus,
    In watter hoek is ek nogals? Dis nie ek wat so simpel sal wees om te beweer dat Jupiter se mane sommer net ligstippels is geskep deur Kobus de Klerk se parallaksfout nie.
    Groete,
    Angus

  • Kobus de Klerk

    Thomas,

    Jy dwaal steeds heeltemal af. Jy kan eenvoudig maar blykbaar nie insien waaroor die gesprek gaan nie. Hoe meer snedig en katterig jy raak, hoe duideliker is dit - jy het geen idee hoe om die probleem op te los nie - want daar is vir julle nie so 'n oplossing nie.

    Ek wil weet - hoe bewys die sterrekundiges dat dit wat hulle sê hulle sien, wel dit is wat hulle sê dit is. Nie een keer het julle probeer om die bewyse voor te lê nie. As die bewyse beskikbaar was, sou julle dit tog kon voorsien. Jou probleem is heelwat erger. Jy moet nog boonop bewys dat jy met jou glasies hoegenaamd die objekte kan sien wat jy sê dit is. Ek wys weer uit - jou snedigheid en katterigheid is nie sodanige bewys nie dit is wel bewys vir jou hulpeloosheid in die situasie en dat jy glad nie weet hoe om dit ter hanteer nie.

    En dan is ek baie dankbaar dat ek nie, soos jy, in die slaggat geval het waarin jy is nie. Dit is pure Godsgenade ... Ek wil eenvoudig nie so materialisties en so egosentries soos jy wees nie. Enigeen van ons het die geleentheid om so te wees. Dank God dat HY my daarteen beskerm. Ek is jammer vir jou daaroor - dit is soos 'n ballon wat jou sinne en visie benewel en wat vir jou die werklikheid is want dit is wat jy in die plek van God stel - dit is jou afgod (wel, daar is ander ook ...) Maar soos met enige ballon, gaan joue ook verseker bars. En dan ... sit jy met jouself en die besef dat jou opinie van jouself en die grootte van jou bankrekening slegs 'n vlietende ballon was en nie die werklikheid nie. Maar ek bid vir jou daaroor, of jy dit nou wil glo of nie (ek weet, jy sukkel om enigiets te glo wat jy nie kan sien nie, al is jy stiksienig en in sommige opsigte, blind).

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Jy weet nie jy is in die hoek nie? Die hoek waarin jy jou bevind saam met die ander wat nie vrae wil vra nie (bang vir die antwoorde?) is dit - julle kan juis nie bewys dat daar nie parallaksfout of dergelike optiese illusies insluip wanneer julle met jul glasies na objekte wat na bewering meer as 600 000 000 km ver verwyderd is, kyk nie - dit, terwyl sulke optiese illusies aan die orde van die dag is in baie, baie minder veeleisende kyk-toestande.

    Bewyse asseblief? Is dit nie 'n eenvoudige genoeg versoek nie? Ek het vir julle weergee net sommige van die dinge wat baie waarskynlik sal of kan skeefloop wat julle aannames omtrent wat julle meen julle sien, baie direk sal beïnvloed. Julle moet bewys dit is nie so nie ... en dusver kon julle geen sodanige bewys lewer nie - net onbewysbare en onbewese teorieë (nes julle met die darwinistiese tipe evolusieteorie wat julle klakkeloos aanhang, doen).

    Kobus de Klerk

  • Beste Kobus,

    Vir 'n prokureur redeneer jy darem soos hond se stert.

    As jy beweer dat daar in 'n berekening 'n parallaksfout was, dan is die onus op jou om die foutiewe berekening te bewys. As jy beweer dat dinge skeefloop wanneer iemand iets gesien het, is die onus op jou om die skeeflopery te bewys.

    Jy is die een wat in 'n hoek gedryf is, en nou wil jy met ek kul jou hier, ek kul jou daar uitkom.

    Groete,
    Angus

  • Kobus

    Jy moet aandag gee as ons die moeite doen om op jou bog te antwoord.

    Die mane van Jupiter se afstand vanaf die aarde is aanvanklik met driehoeksmeting bepaal en later bevestig met radar. Die feit dat hulle vir tydjies agter Jupiter verdwyn word verklaar deur die feit dat hulle om Jupiter wentel. Daar is ons bewyse.

    Klim af van jou heilige troontjie en bewys wat jy beweer. Jy verwys na my teleskoop se prys (wat ek terloops as geskenk vir my 60e verjaarsdag gekry het) en dan braak jy gal oor ek kwansuis materialisties is. Kobus jy moet dringend by 'n psigiater uitkom - jy het dringend hulp nodig.

    Groetnis
    Thomas

  • Kobus de Klerk

    Swak poging Angus... Ek het op 'n oorwig van waarskynlikheid vir julle verskeie bewyse gegee dat julle waarskynlik verkeerd is. Nou is die weerleggingslas op julle om die teendeel aan te dui en al hoe julle dit kan doen, is met bewese feite. Jy verstaan nie jou bewysreg nie en ook nie die skepping nie. Kyk byvoorbeeld, na Thomas se snert weereens - kan jy glo dat hy na al die gesprekke steeds nie weet wat die probleem is wat hy moet oorkom nie?! Magtig, hy sukkel verskriklik ...

    Kobus de Klerk

  • Beste Kobus

    Jy maak in jou opstel die volgende stelling: "Die enigste manier is tog weens die refleksie van die bestraling van die son, ongeveer 770 000 000 km vanaf jupiter en die mane af. "Nou wil ek graag by jou weet deur wie en hoe is die afstand bereken?

    Thomas , Angus en Panda is besig om met jou te mors maar jy hou aan neul soos 'n stout kind wat nie sy/haar sin kan kry nie.

    Besoek gerus die volgende webblad .http://hubblesite.org/the_telescope/hubble_essentials/. Jy sal dan leer waaroor dat dit in teleskope gaan.

    " "People often mistakenly believe that a telescope's power lies in its ability to magnify objects. Telescopes actually work by collecting more light than the human eye can capture on its own. The larger a telescope's mirror, the more light it can collect, and the better its vision. Hubble's primary mirror is 94.5 inches (2.4 m) in diameter. This mirror is small compared with those of current ground-based telescopes, which can be 400 inches (1,000 cm) and up, but Hubble's location beyond the atmosphere gives it remarkable clarity. Once the mirror captures the light, Hubble's science instruments work together or individually to provide the observation. Each instrument is designed to examine the universe in a different way."

    Jy besef nie dat jy besig is om die Evangelie groot skade te berokken want as jy nonsens kwytraak oor bewese wetenskap, soos in hierdie geval, is daar geen rede vir enige ateïs/ongelowige om te aanvaar dit wat jy oor die evangelie kwytraak die waarheid is.

    Laat dit met jou goed gaan.

  • Kobus de Klerk

    Boot,

    Jou onkunde en jou fopbaarheid is jou ondergang. Jy moet ook meer oor aanwending en relevansie van analise van ligspektra te wete kom alvorens jy sulke irrelevante opmerkings soos hierbo maak. Ek verseker jou Thomas se glasie het in elk geval nie daardie vermoëns nie - en dit is mos waaroor die gesprek eintlik gaan. En dan sou jy ook maar iewers in jou verstand moet probeer kry dat Hubble se sporing- en analitiese sagteware juis ook op die standaardmodel se parameters gebaseer is, wat die spulletjie juis verdag maak, want so word enige fout net eksponensieel in die sisteem ingewerk en gegroei.

    Maar in jou waas van kundigheid verskaf jy so onwetend en sonder dat jy wou, juis besonder goeie ondersteuning met jou aanhaling vir wat ek heeltyd weergee - die feit dat rommel en ander fenomene soos die atmosfeer ens, juis aanleiding kan gee tot onduidelikheid en optiese illusies. Maar so papegaai jy klakkeloos sonder om te besef waaroor dit gaan.

    Jy weet werklik nie die implikasies van wat jy so papegaai nie.

    Natuurlik sal dit dan vir jou lyk of iemand met my 'mors', maar komende van jou, beteken dit niks.

    Kobus de Klerk

  • Beste Kobus,

    Nee, wat! Ek kan sommer sien jy het nie die vaagste benul wat bewysreg eers beteken nie. Jy moet eers die parallaksfoute in sterrekundige berekeninge bewys voor ons verder gaan, en jy moet eers jou bewering bewys dat dit wat sterrekundiges as mane van Jupiter uitwys, sommer ander ligstippels is, soos jy beweer.

    Tot jy met bewyse kan kom, is ek bevrees, sit jy in 'n hoek.

    Eintlik is hierdie kastige gestryery van jou oor parallaks en Jupiter se mane maar net strooipoppe. Jy wil die aandag weglei van jou eintlike hoeksittery: daardie slang wat sommer so skielik Hoog-Galdees vlot kan praat, Adam wat volwasse uit 'n hopie grond, en Eva van sy ribbebeen, met al hulle irreducible complexities so binne 'n ommesientjie kompleet geskep, en wat daarop volg.

    Kom nou Kobus, ek wag vir jou bewyse.

    Groete,
    Angus

  • Kobus

    Jy is delusioneel as jy dink enigiemand moet jou hersenskimme verkeerd bewys.

    Vir die laaste maal: jy, en niemand anders nie, moet bewys wat jy beweer. Deur te beweer dat jy "bewyse" gegee het dat ons waarskynlik verkeerd is, is nie genoeg nie. Jy moet empiries bewys dat ons verkeerd is en dat jou model die beweging van Jupiter se mane, wat Panda heel eksak voorspel het, die waarnemings wat ons sien, beter verklaar. Jy het nog tyd om jou voorspellings te maak oor die posisies van Jupiter se mane op Panda se datums.

    Indien jy nie Panda se voorspellings kan weerlê en vervang met beter voorspellings nie, bevestig jy hier voor almal op die Sê dat jy die resident wetenskaplike analfabeet is, soos geopenbaar deur die wetenskaplike klei wat jy kwytraak.

    Neem kennis dat FC Boot selfs reken dat jy julle evangelie skade aandoen met jou hansworsstreke. As jou eie mense teen jou begin draai het dit uiters laat in die dag geword.

    Groetnis daar in Kammaland.
    Thomas

  • Beste Kobus,

    Ek kan nie onthou of ek jou alreeds geantwoord het, as ek het, lees hierdie by: As jy sê: "Swak poging Angus" laat dit my dink aan 'n bokser wat so 'n kishou tussen die oë gekry het, dat hy net parallaksfoute en Jupiter se mane sien. Dan maak hy asof hy nie voel nie, en wink sy opponent nader om nog so 'n hou te slaan, want daardie een het hy kwansuis nie gevoel nie.

    Afgesien daarvan dat die bewysreg nie aan my behoort soos jy sê nie, is jy die een wat dit nie verstaan nie. Jy wil sommer met 'n klomp gissings (wat jy bewyse noem) die onus op iemand anders plaas om met bewyse te kom. Dit werk net nie so nie, en jy behoort te weet.

    Wat parallaks betref: jy het destyds gehoor sterrekundiges maak parallaksberekeninge om die afstand van hemelliggame e bepaal. Al wat jy geweet het van parallaks is parallaksfoute, en toe neem jy aan dat sterrekundiges parallaksfoute maak in hulle berekeninge. Jy het niks bewys om die "weerleggingslas" na my te verskuif nie.

    Wat die Jupiter se mane-storie betref, weet ek nie, maar soos dit vir my lyk het Thomas gesê hy het Jupiter se mane deur 'n verkyker of teleskoop gesien. Toe beweer jy dis nie Jupiter se mane wat hy gesien het nie, maar sommer ligstippels. As Thomas jou 'n kishou geslaan het, moet jy dit nie vir my sê en maak of jy nie gevoel het nie. Gaan sê dit vir hom dat hy jou bloedneus kan slaan.

    Groete,
    Angus

  • George Bekker

    De Klerk, jy sal seker nie beswaar hê teen die aanspreekvorm nie, want met 'n ander nota begin jy eenvoudig met: "Boot". Het jy niks in die hof geleer nie?

    Jy kan ook iets by die ANC-politici leer: hulle praat nonsies en in plaas van stil te bly, reageer hulle weer en weer. Een van die eerste dinge wat 'n politikus, wat wil oorleef, moet leer is dat as jy in 'n gat is hou op met grawe! Dis in die geval onder bespreking hopeloos te laat maar onthou dit gerus in die toekoms.

    Net nog die volgende oor jou en Boot: moenie jouself opblaas as jy 'n man antwoord nie. Jy weet tog wat met die brulpadda gebeur het!

  • Beste Kobus de Klerk

    Jou kommentaar tov hierdie onderwerp is verstommend.Hier is vir jou 'n uitdaging: Stuur jou bevindinge na die volgende adres:http://hubblesite.org/about_us/contact_us/Jy vertaal dan eenvoudig jou kommentaar in Engels en pos dit in die aangewese ruimte.

    Almal op hierdie forum sal dan hul reaksie daarop kan lees deur net die skakel te volg.Sien jy kans of is jy nog steeds besig soos Don Quixote windmeulens storm te loop?

    Laat dit met jou goed gaan.

  • Daar is 'n ontsettende ironie verborge in hierdie storie. (Jupiter se mane)

    In die Bybel lees 'n mens in Handelinge 17 van Paulus se preek op die Areopagus.Dr Kobus de Kokbeskryf dit pragtig as " die dag waarop onsigbare God sigbaar geword het "Deur Paulus se prediking is God geopenbaar aan die mense van Atene.

    'n Mens lees dan verder -met dank aan Dr de Kok:

    "Act 17:18 En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode - omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.

    Act 17:19 En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?

    Act 17:20 Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.

    Act 17:21 Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.

    Act 17:22 Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.

    Act 17:23 Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.

    Act 17:24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.

    Act 17:25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.

    Act 17:26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,

    Act 17:27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;

    Act 17:28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.

    Act 17:29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.

    Act 17:30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,

    Act 17:31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.

    Act 17:32 Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.

    Act 17:33 En so het Paulus van hulle weggegaan."

    Die leergierige mense het aandagtig na Paulus geluister want hul wou leer en alles was nog tot op 'n punt aanvaarbaar maar opstaan uit die dood was vir hulle een stap te ver - en dit nogal deur 'n Onsigbare God.

    Wat het dit nou met Jupiter se mane te doen?Op 7 Januarie 1610 maak Galileo Galilei 'n ontdekking wat die wetenskaplike wêreld in beroering het. Hy ontdek naamlik dat daar ' drie vaste sterre' in 'n reguit lyn
    by Jupiter is - hulle is feitlik onsigbaaar.

    Daaropvolgende obervasies veroorsaak nog meer ongeloof - nee die 'sterre' is nie vas nie, hul verander van posisie - hulle beweeg.

    Party het hom geglo maar ander nie.Sy ontdekkings het regstreeks gebots met wat vanaf die kansels van die tyd verkondig is en die kerk het sy rug op hom gedraai soos die mense van Atene hul rug op Paulus gedraai het.

    Beide Paulus en Galileo se geloofwaardigheid was kapot. Beide sou 'n prys betaal vir dit wat hul verkondig het.Paulus beland in die tronk en Galileo onder huisarres.Maar nie een wyk van hul standpunte af nie.

    Wat gebeur nou meer as 400 jaar later? Mense verwerp nog steeds die Evangelie en bly die opstanding uit die dode deur 'n onsigbare God steeds onaanvaarbaar en moet Christus eerder bly waar hy was - in die graf en dood.

    Maar dan is daar die teenoorgestelde, die Evangelie word deur biljoene mense aanvaar -'n Onsigbare God kan mense uit die dood laat opstaan.En in die opsig word die getuienis van mense wat daar was gelowig aanvaar.

    Maar onder die gelowige mense is daar mense, wat Kobus de Klerk insluit. wat die sigbare in die die natuur verwerp en Galileo en talle wetenskaplikes daarna tot leuenaars maak en soos die kerk van 1600 onder huisarres wil plaas - en liefs hul snater moet hou ( De Klerk teenoor my - in 'n ander onderwerp).

    Dit is dus die ironie dat De Klerk aanvaar die werk van 'n Onsigbare God maar verwerp die sigbare wat deel is van die Onsigbare God se skepping en maak die hele wetenskaplike wêreld in die opsig tot leuenaars.

    En net soos die kerk van 1600 naderhand bygekom het omdat dit geloofwaardigheid begin verloor het en erken het dat Galileo reg was en dus nie 'n ketter nie, wonder 'n mens hoe lank dit de Klerk gaan vat voordat hy tot dieselfde insig sakl kom.

    In ander kommentaar nog nie geplaas nie rig ek 'n uitdaging aan Kobus De Klerk. Wag in spanning om te sien hoe hy daarop gaan reageer.

  • Kobus de Klerk

    Boot,

    Dit is tipies jy wat Paulus se bediening aan die Grieke sal gebruik om hier iewers in te wurm - heeltemal buite konteks en niks met die onderwerp onder oë te make nie, natuurlik - nie dat jy dit sal kan insien nie.

    Jou uitdaging is kinderagtig. Ek sien geen nut om NASA of enige ander organisasie te nader met die versoeke tot verklaring nie. Ek glo ook nie ek is die enigste wat al sulke aspekte uitgelig het nie. Dan moet jy ook besef dat hulle antwoorde stereotiep sal wees ooreenkomstig die standaard modelteorie wat hulle propageer en probeer bewys - let wel, probeer bewys. Watter insiglose uitdaging om dus van iemand bewys te gaan opvorder vir iets wat die persoon of instansie self nog poog om te bewys. Hulle kan slegs hulle huidige persepsies en teorieë voorhou, wat Panda al vir ons min of meer in hoofsaak uitgewys het. Dus, jy besef nie hoe onsinnig jou versoek is nie.

    Hierdie gesprek gaan oor 'n man wat beweer dat hy jupiter en sy mane 'duidelik sien' met sy amateur glasie en selfs sy verkyker. Ek het verskeie aspekte genoem wat dit baie onwaarskynlik maak. Dit is nou vir hom en vir julle almal wat sê julle kan dit met julle glasies sien, om dit so te bewys deur die waarskynlike probleme wat ek daaromtrent uitgelig het, te weerlê. Ek sal dus reken julle moet dit doen, of laat begaan.

    As jy kon verstaan wat ek sê, sou jy besef dat ek nie ontken dat hulle hemelliggame sien nie, maar ek betwyfel of dit wat hulle sien, en sê wat dit is, werklik ooreenstem. Ek soek die bewyse. Om dit op jou sinnelose analogie met Paulus toe te pas - hulle is waarskynlik soos die Grieke wat iets agterkom, en dan sommer name daaraan toeken om in te pas by hulle verwysingsraamwerk wat nog nie uitgebreid genoeg is om die werklikheid in te sien en erkenning aan te verleen nie.

    Is jy te lui om jou eie huiswerk te doen?

    Ek dink, tensy julle met iets nuut of oorspronklik (gegewe dit is relevant en nie onsinnig soos jou Paulus probeerslag) vorendag kan kom, is ons besig om net elke keer standpunte te herhaal en gebruik julle die geleentheid om te probeer afkraak terwyl dit my nie in die minste raak of skeel nie, want dit weerlê glad nie my besware nie. Dus, andersins is die gesprek op 'n end.

    George,

    Jy kan my noem wat jy wil - dit is op jou gewete. Terloops, die howe is nie 'n etiket afrondingskool nie - gelukkig vir jou weet jy blykbaar maar bitter min van howe ... Ek is ook nie 'n brulpadda nie, maar jou brulpadda voorbeeld is so uit plek uit - jy ken blykbaar ook nie brulpaddas nie - daar gebeur niks negatief met hulle as hulle hul opblaas nie - as hulle hul nie opblaas nie, kan hulle nie kommunikeer nie ...

    Die konklusie is dat julle almal glo in iets wat julle nie kan bewys nie, maar verg bewyse van ander omtrent hul geloof (terwyl bewyse van God se betrokkenheid in die natuur natuurlik volop is). Dubbele standaarde.

    Kobus de Klerk

  • George Bekker

    Daar was eendag 'n trotse ma wat haar seun se uitpasseringsparade bygewoon het. Haar kommentaar was: kyk net so, almal is uit pas uit behalwe Kobus!

  • Kobus de Klerk

    Boot,

    Aaa, nee wat, dit is mos veel eerder 'n geval dat jy nie weet wat om te antwoord nie. Duidelik... en jou skakel (wat jy mos al tevore geplaas het ook) wat absoluut niks tot die gesprek en die oplossing van die probleem bydra nie, demonstreer dit.

    Ek kan jou verseker dat Thomas met sy glasie nie dieselfde beelde sal kan waarneem nie. Maar jy is so insigloos in hierdie probleem dat jy dit nie nie eens besef nie. Vraag is, in die lig van al die variante en waarskynlikhede wat ek weergee het, hoe bewys hy of jy dit? Julle sê sleg, maar kan nie bewyse lewer nie.

    George ek het nie geweet jy is ook 'n skaap wat in gelid loop agter die ander aan sonder meer, al stuur jy dalk op 'n put af, nie...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top