Vooroordeel en subjektiwiteit

  • 3

Ek het eers baie van Amanda Strydom gehou maar vandat sy gedurende ‘n vertoning, vuis in die lug, ‘amandla’ geskree het hou ek baie min van haar.

Ek is ‘n Bloubul-ondersteuner en het altyd baie sleg gevoel as hulle verloor. Vandat hulle egter al hoe meer hulle lystaankodes in Engels uitroep voel ek nie meer so sleg as hulle verloor nie.
Ek is gek na Sarah Theron – daar is iets baie sensueel aan ‘n goedbedeelde mollige vrou en dan kan sy nog mooi sing ook – totdat sy ‘liewe Madiba’ gesing het. Nou’s sy nie meer so oulik nie, glad nie.

Ek is nogal beïndruk met Hannon Bothma, seker oor hy met sy grimeerstories my teorie onderskraag dat daar iets moois in elke vrou is. Hannon weet hoe om dit te beklemtoon en transformeer die vaalste meisies in begeerlike dames. Vandat ek gehoor het Hannon het Cravenweek-rugby gespeel is ek nog meer beïndruk met hom.

Hierdie is natuurlik baie subjektief; die einste goed wat maak dat ek meer of minder van iemand hou sal natuurlik omgekeerd werk in die geval van liberaal-demokrate en bleedin’ hearts; goed wat my afsit is vir hierdie mense pluspunte. En subjektiwiteit en vooroordeel is nie beperk tot die gewone siele soos Joe Soap, Piet Pompies en Jan Rap en sy maats nie; nee dit kom onder die hogeres ook voor, dalk meer so.

Kyk maar byvoorbeeld wat die taalghoeroes en –kokkedore met Annelie Botes gemaak het; skoon ‘n prys teruggevat net oor sy gesê het sy hou nie van swartes nie. Eers hou hulle so van haar werk dat hulle haar ‘n prys gee maar toe sy sê sy hou nie van swartes nie is haar werk skielik nie meer goed genoeg vir daardie prys nie.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jan Rap,

     Amanda Strydom, Die Blou Bulle en Sarah Theron is waarskynlik BAIE VERLIG toe hulle kennis geneem het dat jy nie meer van hulle hou nie. Hulle sou kon sê dat 'n mens aan jou vriende geken word. "Apartheid-was-nie-so-sleg-nie-dit-was-eintlik-wonderlik-gewees" vriende waarmee hulle nie geassosieer wil word nie.

     Die arme Hannon Bothma...hoe gaan hy nou van jou vriendskap ontslae raak?

     Weet jy wat, jy's nes die taalkokkedore: Amanda Strydom en Sarah Theron sing vir jou mooi en jy hou van hulle. Toe sê / doen hulle iets en skielik hou jy nie meer van hulle nie. PRESIES net soos die taalkokkedore gemaak het. Eers hou hulle van Annelie Botes, toe sê sy iets en toe hou hulle nie meer van haar nie...

     Ses van die een en halfdosyn van die ander.

  • Jan

    In al my jare het ek nog nooit iemand, behalwe vir jou en Rooi Daantjie, teëgekom wat so gal teenoor sy eie volksgenote kan afgaan nie.  Ek dink dat jy jou lewe onnodiglik, op 'n gevorderde ouderdom, versuur.

    "Be happy.  Dont be unhappy!"

  • Dirk Rigter

    Weet jy wat, jy's nes . . . . . Dirk Rigter.  Ek het eerste gesê wat vooroordeel en subjektiwiteit betref is die hogeres maar net soos ons komminers (of, overgesetsynde, die komminers is maar net soos die hogeres) en daar kom jy met 'n logika-kragvertoning par excellence en jy sê "weet jy wat Jan Rap jy's nes hulle."  Merkwaardig!

    Hier's vir jou nog ammunisie:
    Ek het eers van Nataniël gehou tot hy gesê het as een mens in die gehoor nie Afrikaans magtig is nie moet die spreker Engels praat.  Dis simpel, so nou hou ek ook nie van hom nie.

    Ek het eers van André Rieu gehou tot ek gehoor het hy het geweier om Afrikaans te praat toe hy hier was (anders as Jim Reeves en Kenneth McKellar) EN dit vir my gelyk het of hy ook een van daardie bleedin' hearts soos jy was en nou kan hy ook gaan doppies blaas.

    Ek het eers van Coenie de Villiers gehou en hy is so 'n virtuoos dat, ten spyte van sy Soweto-ATKV-fees-fiasko, en sy 'etniese' liedjies deesdae, ek nog steeds van hom hou.  Daar is dus gevalle waar talent sodanig is dat dit vooroordeel oorwin.

    Terloops, Amanda, Sarah en die Bloubulle weet nie dat ek nie van hulle hou nie maar moet dit nou nie vir hulle gaan staan en vertel nie hoor; ek wil niemand se gevoelens seermaak nie.

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top