Voetverlore

  • 0

Baie min van ons behoorlik uitgegroeide grootmense, kan seker die dae toe hulle drie voet korter was, behoorlik onthou. Vandag praat ek nie van die stories en gebeure van daardie tyd nie, maar die ervaring om so lank, of dan eintlik so kort, te wees. Ongevraag en beslis ongenooid, het my herinneringsbeurt die afgelope week kom kuier ...

Laas Maandag, op die heilige vakansiedag, toe verlos ek my groottoon van die nodigheid van sy nael. Drie inspuitings, 'n doktersbesoek en 'n rol verbande, het gesorg dat my groottoon skielik die middelpunt van die gesin se aandag en die bron van my hinkepink stap en pyn geword het. Skielik was my beweeglikheid sodanig ingekort, dat 'n kierie ingespan moes word. En, vir die langer ente en veral vir my geliefde se kersinkope ... 'n rolstoel. Vir die helfte van een middag het ek iets beleef van die lewe waaraan 'n rolstoelbewoner gewoond moes raak. Met dien verskille, dat dit uit vrye wil was; nie die pyn nie, maar die saamry.

Soos vroutjie deur die winkels wals, op soek na die allerontwykende regpas swembroek, skuif sy my rond van die een "parkeerplek" tot die ander. So asof ek my rolstoelbestuursles met lof geslaag het, het ek gou my eie roetes en parkering tussen die winkelrakke gange begin vind. Dis hier, met die gesit en kyk, dat my gedagtes begin oortyd werk het.

Toe ek so vier- of vyfvoet hoog was, het ek heel waarskynlik dieselfde ontwaking as vandag gehad; ek kan dit net nie lekker onthou nie. Ewe skielik was ek op die sigbaarheidsvlak waar ander gewone mense se heupe is. Mense wat lyfgordels moet dra, en nie doen nie. Eienaardig hoe die jongmanne hul onderklere vir die wêreld wil wys. Ek het my verkyk en aan die einde van die middag, kon ek aan geen beter verduideliking dink as net dit nie: hulle is te klein vir hulle broeke!  (Oupa het altyd gesê ons kinders was te groot vir ons skoene; dis seker maar iets soortgelyks! )

Die meisietjietjies se broekies het hier-en-daar sleg in die was gekrimp. Foeitog, soms het hulle my herinner aan die klompie armoedig meisies wat teen die Oom by die garage se mure geplak was. Die kontras met die seuns was nogal steurend. Ek het nog hieroor gesit en tuur, toe die erge werklikheid van tannies met stywe jannas wat hier knap teen my wang verby skuur, my wou noop om die stoel op te vou en te loop. Genade dames, velvroetelbroeke moet liefs deur skraler skonergeslagmensies gedra word. Die knap gedoentes klim in waar dit nie hoort nie en dit bult, daar waar bulte nie veronderstel is om te wys nie! 

Gepraat van bulte ... manne, manne, manne. Die skeefgetrapte plakkies wat agterna slof, kan nie meer as voetbedekking beskou word nie. Sweetpakbroeke moet liefs vir die oefendag gehou word. Ook eienaardig, hoe die ouens wat ek sien sweetpakbroeke dra het, gewis nie gereeld die regte soort oefening kry nie!

 Nou kon ek sien hoe my hangpensie op 'n ander ou lyk. Sonder om daaroor te dink, het ek instinktief  my oorblywende maagspiere ingetrek en regop in die stoel begin sit. Net vir 'n ruk, tot daar 'n paar knoppemanne uit die sportwinkel geseil het. Dit was oortrek met spiere en bedruip met testosteroon, alles onder hoofde van blink geskeerde kaalkoppe en vars tattoo's. "Eienaardig," dink ek weer so by myself ... "ons mense het darem baie verander, of miskien is dit net ek. Wie weet?"

Die minder komiese werklikheid van hierdie ervaring, was egter minder aangenaam. Hoeveel keer het ek al iemand wat gestremd en uiteraard in 'n rolstoel sit, in die gesig gekyk, gegroet en geglimlag. Nog nooit. Ieder geval, nie wat ek kan onthou nie. Die werklikheid van die verlies van 'n medemens se bestaan, het seergemaak. 

Vandag was dit my werklikheid.

 Die volwassenes, jonger en ouer, het eenvoudig verby my in die rolstoel gekyk. Verby geskuur, sonder 'n blik, en gemaak asof ek nie daar was nie. My vrou, wat 'n entjie verder by 'n ander rak doenig was, was telkemale aan die ontvangkant van 'n glimlag en is selfs vir die verbyskuur  om verskoning gevra. Sy het bestaan; net omdat sy staan. 

Die enigste twee persone uit die letterlik tientalle wat met my kontak kon maak, was twee dogtertjies. Hulle het my op-en-af bekyk, gesien dat my toon punt-in-die-die-wind staan, maar tog beweeg, en net geglimlag. Ja, al was die Oom se toon snaaks, het hulle hom darem raakgesien. 

Na die inkope het ons die stoel aan die gawe sentrumbestuur teruggegee en aangestap om 'n vissie saam met 'n vriend te gaan eet. My rolstoeldae was vir eers verby en ek was terug in die normale be-"staan", daar waar die voetevaste lewe van die langermense, soms met brose kleibene, die aanvaarbare gedragsreëls vir die res van ons mense bepaal. Siek.

Hennie Fritz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top