Sjoe, die jaar het skaars sy koppie by sy skilpad-kalender-dop uitgesteek, of ons word Februarie ingedwing! Wild my ou.
Kan jy dit glo?
Die winkelmense, ongetroudes, vlerkslepers en verliefdes, is alreeds almal doenig met hul promosie en planne vir Vaaltynsdag! Daai dag wat die Amerikaners ons wil laat glo, net vir die liefde bedoel is.
Dit is juis gedagtig aan die gevlerkslepery en geheime kaartjietjies en bewonderaarsbriefietjies, wat die klawerbord nadergetrek was en die skryfding homself ontbloot het. Moontlik sal die stof tot denke wyer as net my gedagtes swewe, of moontlik sal dit op onvrugbare stokke val en ’n wind baar.
Ieder geval.
In die dae wat verby is en tans, het ek die gerekende voorreg om twee maters te hê vir wie ek kan onderskraag in hul tyd van verlies. Beide het hul lewensmaats verloor. Die een lewendig en die ander na ’n besoek van die doodsengel. Beide is nou saans alleen. Kom alleen tuis. Maak alleen kos. Eet alleen, stort alleen, slaap alleen en staan smorens alleen op. Dis nogal erg.
Veral as jy nie alleen wil wees nie.
Dit dwing my toe tot by die terugdenke aan ’n gesprek vroeër die week.
Hoeveel kere het ons nie al gelees of gehoor dat mense kla oor die “groef” waarin hul verhoudings beland het nie. Die groef waarin elkeen beland en mense dan by mekaar verby lewe. Die een doen sy ding en die ander sy eie.
Die roetine van ’n huislike lewe raak so eentonig soos die “ge-wap-wap” van ’n staanwaaier op ’n somersdag. Eienaardig genoeg, maar na ’n tyd hoor ’n mens later nie meer die waaier nie. Dit is net daar. Totdat iemand na iets wil luister op ’n draadloos of TV, en skielik is die eentonige “ge-wap-wap”, ’n grootse bron van irritasie. Skielik is die waarde wat die waaier gehad het, so verskans, dat dit moet af.
So lyk dit vir my, is dit soms met ons verhoudings.
Maar, berading is egter nie my kennisgebied nie, inteendeel. Die dinkding, is wel.
Dit dwing my terug by die verbrokkeling van verhoudings en die roetine wat so gegroef word. Ook die groewe wat sonder soeke, ’n klomp griewe word.
Die sukses aan die ommekeer hiervan, leer ek toe uit ’n ander mater se doen en late. Maar, ook eers na ek myself die vrae gevra het: wanneer moet ’n mens ophou vlerksleep in ’n verhouding?
Wanneer hoef ek nie meer liefdesspontaan te wees nie?
Wie hou die aan-en-af-knoppie van verliefde optrede vas?
En die ontwykende antwoord is ... Ek ... ek bepaal wanneer en ek hou die “knoppie” vas. Niemand anders nie.
Die ongeluk is, dat so baie van ons die lus en lewe vir vlerksleep en verliefdedaadjies by ons huidige maats laat verlore gaan, net om dit te gaan afstof by ’n nuwe maat. Nadat die een mater uit die gegroefde verhouding gebreek het, sal hy of sy die nuwe glinster-in-die-oog by en vir ‘n ander gaan soek.
Met die op-’n-hoop-jagery en die vooruitsigte van ’n oorwinning van die nuwe liefde, borrel daar hernude energie. En, midde-daarin, voer ons die soeke na daai verliefdheidsgevoel, lekker vet.
Skielik het ons weer vars planne; sal ons weer begin blomme aandra, kersligetes beplan, kaartjietjies met soete woorde optower, koffiehuisgeselstydjies met graagte in die middel van die besige werksdag inpas, en ... moeite doen; moeite waarvoor daar lanklaas, indien ooit, krag, geld of “tyd” was.
Ja, die naïewe veralgemening is waarskynlik van die kol-af, maar gestel daar is geen werklike misdadige redes vir ’n skeiding van ’n verhouding nie; gestel dat die paadjies weggedwaal het omdat “ons onversoenbare verskille het”, of “ons net nie meer mekaar aanvul nie” of ... die voorbeelde is meer as die straatvrouens in Parow!
Daardie vrug wat ’n volgehoue vlerksleepbenadering in ’n verhouding behoort te dra, kan tog nie sterf nie, kan dit?
“Makliker gesê as gedoen” hoor ek een gil daar van vêr-af;
“It takes two to tango”, hoor ek ’n ander skril kommentaar in my eie gemoed. Maar, dan hoor ek ook die ou Jode se sê-ding ...” what have I got to lose?”
Jip, die saamweesding is wild my ou.
------------------------------------------------------------------
Die anderaand lê ek op die bank voor die gesinsvermaaktoestel en alhoewel die vrou en die kind op die bank langsaan sit, kon ek my vir ’n oomblik in die alleenheid na ’n verlies indink. Terugdink. Want verlies, in sy wese en in enige vorm, maak seer en laat ons alleen.
Maar, ongeag van die oomblikke van suiwer frustrasie, of die vooruitsigte van doen-wat-jy-wil-wanneer-jy-wil-waar-jy-wil, wou ek so vinnig as wat my gedagtes ’n boodskap kon dra, myself uit hierdie indink-omgewing terugpluk. Wou ek terug na die saamwees en stilwees. In vrede met groewe, met roetine, sonder blomme, met gediggies en vroetelvatjies ...
Hennie Fritz


Kommentaar
Lekkerlees brief. Dit bring herinneringe terug wat soet-suur is. As jy as man op die testosteroongedrewe stadium van jou lewe is maak jy besluite waaroor jy later in jou lewe baie spyt is of baie bly oor is. Ek praat van myself. 'n Vrou kan alleenheid makliker hanteer as 'n man. 'n Man is 'n tropdier. Jy kan kuier en party, maar om die deur oop te sluit en daar in niemand tuis nie, is nie lekker nie. Jy kan in 'n huwelik of verhouding wees en tog ook eensaam. Dit is wanneer jy vir jouself "please call me's" stuur.