Vir Wouter oor ontwikkeling

  • 3

Dagsê Wouter

Sies man, hoe sleg laat jy my nou nie voel met jou kommentaar onderaan my brief 'Ontwikkeling' nie.  Maar, ek moet darem sê, ek vermoed jy verstaan nie die brief heeltemal reg nie; ek het nie probeer om "argumente oor eksplorasie in die ruimte", om nou jou woorde te gebruik, te probeer voorlê nie.  Ek het net gewonder oor die stand van ontwikkeling op sekere gebiede en in sekere dissiplines, waar hulle ten opsigte van mekaar staan.

Byvoorbeeld, dink maar aan die volgende:  Die materiale en die vaardighede vir die maak van 'n hangvlieër ('n Rogallovlerk) bestaan al eeue.  Stel jou voor Leonardo da Vinci het al in die 15de eeu een gebou eb daarmee gevlieg – hoe sou dit nie die ontwikkeling van lugvaart beïnvloed het nie!  Dalk sou die mens dan al in die 40's op die maan gestap het.

Van maanbesoeke gepraat, 'n kollega het sy garage skoongemaak en my  'n klomp ou Mechanix Illustraded-tydskrifte gegee.  Een daarvan, 'n 1953-uitgawe, het die program vir die maanlanding uiteengesit.  Daar sou eers verbyvlugte wees, op 'n stadium sou hulle 'n bom op die maanoppervlak laat ontplof om van die stof op te vang en te analiseer en uiteindelik, in die jaar 2000, sou hulle 'n man op die maan plaas.

Soos jy weet kom Kennedy toe in die vroeë 60's kondig aan (eers vir die kongres in Mei 1961 en toe in die openbaar in September 1962) dat Amerika 'n man maan toe sal stuur en veilig terugbring voor die einde van die dekade.  Dit het toe plaasgevind op 20 Julie 1969, 'n merkwaardige prestasie.  So politiek, soeke na aansien, was hier die dryfveer.  Gevestigde belang is dus nie altyd ekonomies van aard nie.

Daar is wel gevestigde belange deur wins gedryf.  Van die olie en motors waaroor jy wonder waar die gevestigde belang sou wees kan ek jou nie sê nie (behalwe dit onder andere oorloë tot gevolg gehad het) maar ek weet van dié in broekiekouse.  'n Kollega het eers vir 'n patentagent gewerk en sy het vertel dat daar baie patente om kouslere te voorkom deur Arwa opgekoop is. 

Jy sluit af met die stelling "Die vraag oor ontwikkeling en vooruitgang of dan nie ... " wat nie sin maak nie; wat sou dan nou die alternatief vir ontwikkeling en vooruitgang wees?  Ek glo nie jy't mooi gedink voor jy daardie sin neergeskryf het nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top