Thomas, ek verwys na jou kommentaar onder aan my brief aan Jaco en Pieter.
By die briewerubriek in Popular Mechanics sê die redakteur, “ ... skryf aan ons, tree met ons in debat ... “. Die opskrif bo-aan die briewerubriek van LitNet lui, “Sê jou sê op die Sê! LitNet se vuurwarm brieweblad oor alles en nog wat.” En nogal in Engels ook (ons Boere is mos so ordentlik, so al asof ons dink die Engelse verstaan nie Afrikaans nie), “Don’t bite your tongue! Turn up the heat and send us your letters and opinions.”Dit is presies waarvoor ’n briewerubriek daar is.
Nou kom jy, ewe vermetel en kordaat, en vertel dat jy al voorheen gekla het dat ek “kak en kerm” op die Sê. En dit nogal ten spyte van die feit dat jy saamstem met wat ek sê soos blyk uit jou stelling, “Die dinge wat jy raaksien is bepaald probleme in ons Suid-Afrikaanse opset maar daar is ook 'n geweldige klomp positiewe goed wat beter is as voor 1994.” Terloops, wat is tans beter as voor 1994?
Nou wat wil jy hê; dat mense die probleme moet ignoreer omdat dit jou ongemaklik maak? Mag net jy mense verkleineer omdat hulle godsdiens, of politieke sienings of wat ook al volgens jou snert is? Dink weer swaer, jy en jou mede-suckers het meegewerk om hierdie gemors te bewerkstellig en julle kan mos nou nie verwag om NIE pak te kry nie; julle deel dan so graag slae uit.
As die kombuis vir jou te warm is, gaan badkamer toe of wees ten minste bereid om in debat te tree; jy dink dalk jy het meegewerk aan die daarstelling van Utopia, so vertel ons daarvan. Om modder te gooi en ad hominem te raak dui net daarop dat jy nie eintlik weet waarvan jy praat nie.
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap
Beste Jan,
Dit spyt my innig dat daar nie meer Afrikaanse- Suid-Afrikaners soos Thomas is nie. Dit was vir my 'n groot voorreg om hom persoonlik te ontmoet, en om met hom kennis te maak. Selde het 'n persoon my so beindruk met sy intellek, oopkop houding en uitkyk oor die lewe. Waarom het Suid-Afrika nie meer van hierdie soort voortgebring nie? Miskien is hulle wel hier en daar maar my ongeluk was dat ek hulle nooit ontmoet het nie.
Thomas is 'n geweldige krediet vir die Afrikanernasie, 'n persoon om oor trots te voel.
Amen!
Pieter Redelinghuys
Thomas,
Het jy dit raakgesien! Jan is op die dwaalweg na "onstandaard-Afrikaans" Hy noem ons "suckers". Is dit nie interessant nie, selfs die taalbulle "gooi Engels" as hulle nie verder weet nie.
Sy opmerking, "...Terloops, wat is tans beter as voor 1994?..." sê eintlik alles: Kerm, kerm, kerm, kla, kla, kla...Jan, hoekom is jy nog nie in Kanada / Nieu Zeeland / Australië / Engeland nie? O, ek het vergeet, hulle praat Ingels daar.
Groetnis
Dirk
Thomas
Onder die beter dinge sedert '94 het jy vergeet om die opswaai in sekerheids- en sekuriteitsveld te noem, ook wat betref die vervaardiging van lemmetjiesdraad, palissadeheinings en diefwering.
Pieter
Ek twyfel nie daaraan dat Thomas 'een fijne kêrel' is nie maar dit vrywaar hom nie van wanopvattings nie; dit gebeur in die beste families, vat jou nou maar. Ek dink jy's net so'n gawe ou maar ongelukkig heeltemal in 'n dwaal.
Dirk
Ek het jou mos lankal gesê ek's nie 'n taalbul nie. Jy's baie meer van 'n taalbul as wat ek is. As jy nie 'Nieu-Seeland' verkeerd gespel het nie, sou ek sê jy's heeltemal 'n taalbul.
Groetnis
Jan Rap