Dagsê menere
Ek antwoord op julle kommentaar onderaan my brief van 9 deser.
Thomas en Jaco, ek is werklik aangedaan dat julle so bekommerd is oor my welsyn met die dat julle nou reken ek moet ophou bitter wees en kerm anders gaan my ‘laaste dae’ en ‘herfsjare’ hel wees, of so iets.
Julle kan ontspan; dit verskaf my groot plesier om julle kassies te skud as julle so twak praat. En ek hoef nie eers te dink nie; ek wys bloot op die status quo, ‘die waarheid’ waarna Jaco navraag doen. Ek het laas in die army sulke sorgvrye dae gehad (die weermag was ernstig, ek het dit gelukkig vrygespring). Buitendien, dis my morele plig om bietjie welsynswerk te doen, om julle ouens bedag te maak op die feit dat julle in ’n trans is, gebreinspoel is. En dit kos my niks, net ’n bietjie elektrisiteit vir my rekenaar. Dink net hoeveel goedkoper dit is as om ’n sopkombuis of ’n huis vir ongehude moeders te bedryf.
Pieter, jy wil weet hoekom ek as gelowige nie ‘berus’ nie. Dit strook ook baie met Dirk Rigter se siening dat ons nou maar moet aanvaar, soos dat die dae van ‘suiwer Afrikaans’ (volgens Dirk nou) vir ewig verby is en dan, by implikasie, die dae van veilige en skoon strate, woonbuurte en parke, die dae van rustige plase, die dae van betroubare polisie, van slaggatlose paaie, van biblioteke en so kan ek aangaan (julle ken die storie, want volgens julle herhaal ek dit tot vervelens toe). Dis van al die aanvaar en berus van julle ouens, vir jare al, dat ons met die huidige gemors sit.
So, Pieter, daar is geen geloof op aarde wat jou maan om maar op jou gat te sit en berus, maar gods water oor gods akker te laat loop nie. Jy as ongelowige moet maar vermy om wat jy as geloofsgoed beskou aan te haal want jy druk net jou voet dieper in jou keelgat af tesame met die sponsdoring waarin jy so gereeld trap.
Ag ou Wouter, daar’s jy al weer met die skuilnaamstorie. Heimlik is jy bly daaroor want ek sien as jy dink jy het ’n saak praat jy, maar wanneer jy vasbrand kom jy uit met “ek gaan nie met jou praat nie want jy eet wurms” of “ek gaan nie met jou praat nie want jy skryf onder ’n skuilnaam” of so iets. Kan jy werklik so naïef wees om te dink niemand herken dit as volstruistaktiek nie?
Nou wonder ek, het julle ook destyds vir Mandela, Breyten, André Brink, Max du Preez, Helen Suzman, oom Bey en nog ’n paar ander (julle ken hulle beter as ek) vermaan om tog op te hou kla en kerm – of kak en kerm soos Thomas dit stel – oor apartheid, om tog maar te berus oor die toedrag van sake? Ek kan met sekerheid sê julle het nie, trouens, julle het saam gekla want, sal julle as rede aanvoer, daardie klagtes was geldig.
Dit beteken dan dat julle dink dat waaroor ek kla nie geldig is nie en dit is natuurlik julle demokratiese reg, maar dan moet julle vir my sê hoekom ék die ou is wat op ’n dwaalspoor is. Deur bloot te sê ‘jy kla,kla, kla’ is nie ’n teenargument nie, eerder ’n aanduiding dat julle saamstem maar nie daarvan hou om aan die werklikheid herinner te word nie.
Groetnis
Jan Rap

