Vir Thomas en Pieter

  • 2

Dagsê here

Thomas se briewe ‘Ockham se lem’ en ‘Godsdienstige kaperjolle’ met Pieter se kommentaar daaronder, verwys.
Julle praat alweer van ‘die wetenskap’ asof dit een of ander orakel is wat iewers in ’n grot of ’n paleis of ’n tempel of ’n ding sit en uitlegte gee oor allerhande goed. Dit is nie so nie; die wetenskap is bloot ’n groeiende versameling kennis. Die feit dat hierdie versameling gedurigdeur groei soos bydraes gemaak word (meestal deur navorsing maar ook per ongeluk), skep die indruk dat die wetenskap binnekort alles gaan verklaar en teenswoordig byna alles.
Dit is nie so nie; daar is valse goed, weliswaar min maar tog, en nog baie tot nou toe nog onverklaarde goed wat dan gewoonlik deur wetenskapdwepers afgemaak word as snert. Ironies genoeg, dis selde dat wetenskaplikes self wetenskapdwepers is; hulle, juis uit hoofde van hulle ondersoekende aard, besef hoe min die mens eintlik weet. Hierdie besef hou hulle nederig en maak hulle baie versigtig om, wat die wetenskap nog nie kan verklaar nie, snert te noem.
Nou weet ek julle sal my dadelik brandmerk as van dáárdie ouens wat dink die aarde 6000 jaar oud en plat is en nie draai nie (oor die 6000 jaar stem ek saam met julle, dit is wel snert; volgens my berekeninge is hy ten minste 7439 jaar en 8 maande oud). My kennis, soos die hele mensdom s’n, en definitief julle s’n ook, is baie beperk en niemand van ons behoort so voor op die wa te wees om sulke wilde stellings te maak nie.
Ek het byvoorbeeld met my eie oë op televisie gesien dat dokters goed uit mense uitsny wat deur vresens (kort vir ‘vreemde wesens’, nog nie in die woordeboek nie) in daardie betrokke mense ingeplant is SONDER dat daar enige beduidenis van snymerke is. Die feit dat ‘die wetenskap’ dit nog nie kan verklaar nie is nie te sê dat dit nie waar is, of kan gebeur, nie. Gebrek aan bewys is geen bewys van gebrek nie. En wat laat julle dink die mense van 4000 jaar gelede was ongeletterd?
Ek sou ernstig aanbeveel dat julle twee here bietjie meer wetenskaplik optree, julle moet bietjie meer oopkop wees. Julle bekyk die wêreld deur ’n bril wat julle ‘die wetenskap’ noem waarvan, blyk dit, julle nie veel van weet nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Jan Rap

     
    Jy skiet nou lekker uit die heup uit. Verduidelik vir my waar ek en Pieter beweer dat die wetenskap al die antwoorde het en waaruit bleik ons onkunde van die wetenskap so erg?
     
    Thomas

     
  • Pieter Redelinghuys

    Beste Jan,

     

    Ek stel voor dat wat jy op televisie gesien het skoon bedrog is, en ek staaf my stelling as narkotiseur  wie die afgelope 40 jaar in 'n operasiekamer deurgebring het. Daar is soveel snert op televisie deesdae soos die reeks oor "Aliens" (op Discovery Channel)  wat glo veratwoordelik was vir die bou van die piramiedes in Egipte. Die Jode vandag loop en vertel dat hulself die piramiedes gebou het, terwyl mense eenvoudig nie WIL aanvaar dat dit die Egiptenare en hulle slawe ( miskien die Jode oa ) was. So ook met ander argitektoniese wonders van die verlede. So vêr het die groot muur van China en Angor Wat in Kambodja gelukkig vrygespring van die "Aliens-teorie!"  

     

    Thomas en ek het nooit voorgegee dat die Wetenskap die Alfa en Omega van alles is nie maar dit is meer vertroubaar as die Bybel wat fundamentaliste voorhou as bron van die "Heilige  Waarheid".  

     

    Groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top