Vir Reusedwerg oor Boereverguising

  • 1

Dankie vir die stille teregwysing; 'Boereverguising' in plaas van die 'Boerebashing' wat ek gebruik het.  Dit pas ook beter want Boerebashing is 'n tipies Engelse praktyk en ek het gepraat van óns mense wat óns mense verguis.  Soos ek sê, die Engelse doen dit al van Majuba se dae af en dit het afgevryf op 'n paar van ons mense.

Ek het reageer op jou kommentaar waar jy Deon Opperman verdedig het en mense as 'bokste' uitgemaak wat hom kritiseer.  Jou reaksie hierop was jou brief van 27 deser wat hoofsaaklik daarop neerkom dat jy dit haat as Boere of Afrikaners hulself in die voet skiet deur vir die verguisers ammunisie te gee. 

Ek verstaan nie mooi nie; bedoel jy nou dat ek onder andere hierdie ammunisie verskaf het deur te kenne te gee dat ek nou NIE so mal oor Deon Opperman nie (en Jans Rautenbach en ek voeg sommer nou ook al die ander 'verligte' heilige koeie by soos Piet Croukamp en Pierre de Vos en al die ander wat hulself bevuil het oor Annelie Botes se uitlating en nog 'n klomp ander ook wat ek liewer nie wil noem nie op die gevaar heen dat my brief nie geplaas sal word nie)?

Indien wel, dan, soos ek jou gesê het, die een se heilige koei is die ander ou se teiken; wees maar te wagte dat die koeie gekritiseer gaan word.  Indien nie dan vra ek om verskoning dat ek jou verkeerd verstaan het, vertel dan net vir my wat beskou jy as die ammunisie waarmee die verguisers verskaf word.

Jou beskrywing van die ware Afrikaner is goed en mooi, blink skoene, onberispelike lewenswyse en die soort van ding.  Dit is natuurlik nastrewenswaardig en sou die ideale Afrikaner, Fransman, Rus, Engelsman of wat ookal wees maar ongelukkig is ons of hulle Nie Almal So Nie.

Dit is egter geen definisie nie en 'n definisie is ook nie nodig nie want almal weet wie en wat 'n Afrikaner of 'n Boer is.  Vra maar ouens soos Jason Lloyd, wat sê hy is nie een nie so hy moet weet wat dit is wat hy nie wil wees nie en Kobus Faasen, lees maar sy digwerk hier.  Indien jy die Afrikaner wil uitken (raad aan 'n uitlander byvoorbeeld); dit is daardie deel van die Afrikaanssprekende bevolking wat spesifiek en doelbewus deur regstellende aksie benadeel word.

Nou-ja, op die manier dan

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Ek is eerlik ek het nie die regte reaksie gekry wat ek wou gehad het nie. Soos genoem is die definisie van die Afrikaner/Boer nie 'n onderwerp wat ligtelik bespreek kan word nie. Die hoofseuns (de Vos en Croucamp) staan my regtig nie aan nie. Die seuns het seker hul gehoor maar pla my regtig nie. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top