Vir Neef Jannie

  • 0

Jannie, moenie hoeharrie oor daardie krapmerke op my skedonk nie; dit gee die kar net meer karakter en karre wat reeds gekrap is, is minder geneig om verder gekrap te word.

Dankie vir die wenk oor die versekeringsmaatskappy wat ons studente so ondersteun; ek sal beslis werk daarvan maak. Ek probeer juis instansies ondersteun wat nog Afrikaans as saketaal het, al is dit nou saam met 'n ander taal. Daar is byvoorbeeld 'n bekende maatskappy wat gereedskap en masjinerie verkoop; hulle stuur nog so elke drie maande vir my 'n Afrikaanse katalogus. Dan is daar 'n bekende gommaatskappy, Engelse naam maar 'n Suid-Afrikaanse uitvinder en –produk en hulle aanwysings op die produk is in Afrikaans ook.

Ek koop ook nie bier van die bekende brouery nie, te Engels en dit gee hoofpyn; ek koop liewer die bietjie duurder Europese of Namibiese biere. Wyn wil ek dieselfde mee doen maar ek moet erken, Douglas Green het vir my van die beste wyn vir daardie prys so daar oortree ek bietjie – ek koop Douglas Green se wyn.

Nou ja, op die manier dan

Jou oom Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top