Vir Leon, Angus, Thomas en Brian

  • 4

Dagsê here, ek verwys na julle kommentare onderaan my brief van 27/9 aan Angus.

Leon

Soos jy sê, "... dit is baie onwaarskynlik ... dat enige beskawing wat 200 000 jaar gelede bestaan het ... nie oorblyfsels sou agtergelaat ... [het] nie ... "  Ek stem saam, 'onwaarskynlik' maar ek voeg by 'nie onmoontlik nie'.  En watter p is die kleinste, die feit dat daar nie so beskawing was nie, of die feit dat so een wel bestaan het maar geen rekord nog gevind kon word nie?

Wat die ontdekking van fossiele betref:  Daar is plekke wat nou woestyn is wat eers see was, tektoniese plate het onder ander ingeskuif, kontinente het gevorm en verskuif, die soort van ding.  Daar is nog groot stukke aarde en die hele see, wat nog die seebodem, wat ontdekkings kan oplewer.

Vergelyk byvoorbeeld die kennisversameling van die vakgebiede (enige vakgebied eintlik) argeologie en paleontologie in die 18de, 19de en 20ste eeue; eerder as 'n afplatting groei die kennis, in sommige gevalle selfs eksponensieel.  Dat die kennis ten opsigte van die twee vakgebiede hier genoem nog gaan uitbrei in die 21ste eeu is nie te betwyfel nie.

Wie weet wat dit nie nog gaan oplewer nie?  In die lig hiervan vind ek die idee dat Afrika die wieg van die mensdom is eintlik absurd.  Die feit dat dit die teenswoordige siening is, is slegs uit hoofde van die teenswoordige kennis en dit weer, soos die kennis wat betref ALLE vakgebiede, is gebrekkig.

Angus

Jy praat van grot- en woestynbewoners?  Jy moenie daardie ouens te vlak kyk nie; so 2500 jaar gelede byvoorbeeld het die Antieke Grieke bewys die wortel van 2 is irrasioneel, 'n bewys wat min mense vandag ken en bitter min vandag sal op sy eie daardie bewys kan aflei.

Jy het wel gelyk dat godsdienstige geskrifte vir mense geskryf is wat makliker sal verstaan as metafore, gelykenisse en so meer gebruik word en dit geld vandag nog.  Die hedendaagse mens se intellektuele vermoë is geensins beter as die mens van, sê 3000 jaar gelede, nie; sy kennis is miskien bietjie meer maar ook nie veel nie.

Jou tong-in-die-kies stelling, nommer 4, naamlik dat die mens met 'n ruimteskip hier afgelaai is, is myns insiens, glad nie so vergesog nie.  Hoe sou jy nou hier evoleer het as jy nie eers vir 'n uur in die son kan sit sonder om siek te word nie?  Maar, soos jy sê, dis enigeen se reg om, onder andere, enige van die punte wat jy genoem het te kies; iémand gaan die naaste aan reg wees en om uit te vind wie is dit goed om daaroor te praat.

Brianvds

Jou vanne- en genetika-analoog is 'n goeie verklaring van die mening (teorie?) wat die hoofstroomwetenskap tans huldig.  Noem so'n gebeurtenis A.  Wat, wat die huidige stand van kennis betref, negeer dat A, sê 150 000 jaar gelede, ook kon plaasvind?   Soos jy sê, daar is oorweldigende getuienis van jagter-versamelaarlewenswyse 100 000 jaar gelede maar wat kan Gondwanaland (waar gedeeltes van hom nou ook mag lê) se landskap nie nog oplewer nie? 

Thomas

Kom nou man, wie gaan jy glo, 'n klomp ouens met wit jasse wat elke nou en dan iets moet publiseer omdat sy werksbeskrywing so sê, of 'n ou soos ek wat vir hom 'n dop skink (en later nog 'n paar), sy pyp opsteek en onder sy prieëel gaan sit en oor hierdie soort van goed ure lank dink en met sy Jack Russell bespreek?  Jy kan mos nou nie alles wat die witjasbrigade jou vertel gaan staan en opeet vir soetkoek nie of hoe?

Groetnis

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Jan Rap

    (Glimlag) Jou humor is kostelik! En maak jy my nou baie nuuskierig om te sien wat die ander te sê het. Ek geniet die redenasie en het selfs die vorige brief gaan oplees. Elkeen het 'n standpunt beet! Lekerrrrr leesstof.

  • Jan Rap:

     
    Jammer oor die laat antwoord; my besige skedule het my van LitNet weggehou.
     
    Dit is heeltemal moontlik dat heeltemal ondenkbare dinge nog ontdek kan word: beskawings 100 000 jaar gelede, oorblyfsels van Marsmanne in die Marianas-trog, dinosourusbeendere in Neandertalgrafte... noem maar op. 
     
    Ek dink dit is nogal onwaarskynlik dat sulke dinge ontdek sal word, en daar is tans geen getuienis vir sulke dinge nie, maar wie weet...
     
  • Beste Jan,

    As niemand vandag meer weet dat die wortel van 2 irrasioneel is nie, wys dit net van watter belang dit is vir die samelewing. Vir ons behoud is kennis van die genetika van meer belang. Wat het die spelonkbewoners daarvan geweet?
     
    As die menslike kennis die afgelope eers die laaste  twee eeue elke dag verdubbel het, en ons weet nog amper niks, wys dit jou net hoe karig die grotbewoners s'n was 2500 jaar gelede.
     
    Elkeen kan kies wat hy wil. Ek kies dit wat al nagevors is. Jy kies waaroor jy nog net gespekuleer het.
     
    Groete,
    Angus
     
     
  • Beste Angus

    Almal (wel, meeste) weet dat wortel 2 irrasioneel is maar baie min kan dit bewys, iets wat 'grotbewoners' al 2500 jaar gelede kon doen.  Wat die belang van wortel 2 vir die samelewing behels, of jy dit nou kan bewys of nie, is die daarsyn van die hele tegnologie, van jou tandeborsel en -pasta tot die ruimtestasie.  Sonder wiskunde sou daar geen tegnologiese ontwikkeling gewees het nie en het ons nog in modderhuisies gebly.

    Met jou verdubbeling van kennis per dag vat jy 'n kans want hoe kwantifiseer jy dit?  En al sou menslike kennis per dag verdubbel weet jy nog stees vandag net so veel as wat jy gister geweet het; miskien  minder om die waarheid te sê want jy vergeet gedurig en ek betwyfel dit sterk of jy elke dag studeer.

    Maar in een opsig is jy reg, naamlik dat mens kan kies.  Ek kies om alles met 'n knippie sout te vat, jy kies om als vir soetkoek op te vreet.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top