Vir Jan Rap oor breinspoeling

  • 1

Jan Rap

Dit is ongelukkig waar dat mense toelaat dat hulle gebreinspoel word. Veral in hierdie dae waarin inligting uit alle oorde soos 'n donderstorm op jou neerkom is dit nie altyd maklik om te onderskei tussen feit en fiksie nie. Sommige leuens en verdraaiings is subtiel van aard, maar nie minder gevaarlik as die klippereën van die sonde van apartheid en rassisme nie.

Ek haal aan uit die brief van Christo van der Rheede van die AHI wat in Beeld verskyn het in reaksie op Pieter du Toit se artikel oor Gedienstige Zuma-Afrikaners. Van der Rheede en Theo de Jager van Agri SA het ook die vergadering bygewoon:

“Sulke eenogige waarnemings en karikaturisering van mense wat dit bygewoon het as ‘Zuma-Afrikaners’, spreek boekdele van Du Toit se eenrigting-denke en vooropgestelde idees oor Afrikaanssprekendes wat denkend omgaan met sleutelkwessies in die land.”

Skielik gaan daar toe vir my 'n lig op. Ek verstaan nou beter waarom die AHI en Agri SA en ander Afrikaanssprekendes se vele gepraat en beduie geen snars verskil maak aan die posisie van die Afrikaner in hierdie land nie.

As ek, as Afrikaner, Spaans magtig is kan ek myself Spaanssprekend noem. Dit beteken egter nie dat ek my één voel met die wel en wee van die breë Spaanse bevolking nie. Dat ek passievol is oor hulle probleme met die Baske nie. Dat die armoede tussen hulle mense iets is waaraan daadwerklik aandag gegee moet word nie. Dat hulle politieke en maatskaplike heil vir my van kardinale belang is nie. En my denkende omgaan met sleutelkwessies in hulle land beteken vir hulle niks nie.

Feit is, ons sal diesulkes, nes die armes, altyd in ons midde hê.

Groete

Helmine le Roux

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Helmine, nie-verloopte (dus egte of ware) Afrikaners kan in baie opsigte baie by die Baske leer. Lees gerus die volgende boek: Mark Kurlansky, The Basque History of the World, London: Vintage, 2000, 400p; Amazon Kindle $11.99.

     

    Johannes Comestor 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top