Vir Jan Rap oor biljoen en grammatika

  • 6

Beste Jan,

Jy sê ALMAL moet afstand doen van die absurde Amerikaanse gebruik, nl om van ‘n “billion” te praat, en dit met ‘n 1 en nege nulle te skryf.

Die Engelse, en soos ek verstaan, regoor die wêreld aanvaar nou dat biljoen 1 en nege nulle is.

Ek verstaan nou nie mooi wat jy wil hê nie. Moet ALMAL (dis nou Engelse, Franse, Duitsers, Afrikaners, ens) die woord biljoen (of wat die vorm van die woord ook al in hulle taal is) verban? Of moet hulle terugkeer na biljoen wat 1 en twaalf nulle geskryf word omdat dit grammatikaal korrek is?

Dan wil ek weet hoe jy die ALMAL gaan dwing om volgens jou pype te dans?

Wat die grammatika betref: ek kan nogal jou siening van taal en sy oorsprong verstaan, want jy is ? gelowige en nes Christengelowiges, glo jy dat taal onmiddellik, gekompliseerd, ontstaan het. Adam kon Hoog-Galdees of dalk nog Aramees grammatikaal korrek praat, die oomblik toe hy geskape is. Wat meer is, Eva kon hom verstaan, om nie die minste van die slang te sê nie. Jy glo net weer, sonder bewyse, dat tale van ylins afkomstig is. Ek sal graag wil weet waarom jy so absoluut seker daarvan is dat taal nie geëvolueer het nie.

Aan jou skrywe kan ek sommer sien dat jy taal en sy grammatika nie verstaan nie.

Kom, ek verduidelik dit kortliks aan jou aan die hand van Engels en Afrikaans.

Om ? taal te praat, is die kennis van grammatika glad nie nodig nie. Ons huishulp kan Sotho, Zulu, Xhosa, Afrikaans en Engels praat en verstaan, maar moenie vir haar vra wat ? naamwoordstuk, werkwoordstuk, is en hoe hulle aanmekaar skakel nie. Sy was ook nooit op skool nie.

Engels is vir eeue gepraat sonder dat enigiemand daaraan gedink het dat dit moontlik ? struktuur kan hê. Dis eers in die laaste jare van die sestiende eeu dat ? ene William Bullokar, wat ? goeie kennis van Latynse grammatika gehad het, die struktuur van Engels bestudeer het, en so die eerste Engelse grammatika geskryf het. Hy het ook spelreëls vir die Engelse taal gemaak.

Kort na die aankoms van Jan van Riebeeck, het die Nederlands alreeds hier afwykings begin toon om aan te pas by nuwe omstandighede. Spoedig was daar aan die Kaap ? afwyking, bekend as Kaaps-Hollands te bespeur. Vryburgers, Trekboere en Oosgrens-boere het weer ? soort Boere-Afrikaans, of Oosgrens-Afrikaans gepraat. Dan was daar nog Slawe-Afrikaans en Vreemdelinge-Afrikaans. Hierdie mense het almal, sonder die kennis van ? grammatika, en sonder dat hierdie nuwe taal ? geskrewe grammatika het, Afrikaans gepraat. Dis eers in 1875 dat die eerste Afrikaanse grammatika sy verskyning gemaak het.

Die gesproke taal kom eerste, dan word dit geskryf, en eers veel later kom taalkundiges agter dat hierdie gesproke taal ? struktuur het wat nogal baie ooreenkom met die strukture van ander tale.
Jan, die fout wat jy begaan is om Afrikaans te sien binne ? geïdealiseerde taalgemeenskap. Vir jou bestaan Suid-Afrika uit ? klomp mense met almal dieselfde taalgedrag. So ? Bloomfieldiaanse siening van taal laat geen idiolek, streektaal, of dialek toe nie. Taal tree tog op soos ? lewende organisme: dit pas aan by omstandighede en omgewing: dit evolueer gedurig.

Groete,
Angus

Ns. Ek wou hierdie skrywe sommer as kommentaar onderaan jou www.litnet.co.za/Article/brief-vir-angus-oor-biljoene spoeg en plak. My afdruk van die eerste Afrikaanse grammatika wou dit nie toelaat nie; dus skryf ek maar onder ? nuwe opskrif. A

  • 6

Kommentaar

  • Angus, 

     
     Baie dankie vir hierdie uiters ophelderende skrywe! 
     
    Ek kan niks byvoeg nie, behalwe om jou raakvat-opsomming van Jan Rap se versugting na ‘n geïdealiseerde taalgemeenskap te beklemtoon. Sy aanhoudende, knaende kritiek oor RSG en KykNet se aanbieders se taalgebruik, soos weer onlangs in sy ope brief aan Magdaleen  Kruger en Karen Meiring, is sprekend hiervan. 
     
    Dit gaan my verstand te bowe dat iemand soos hy nie die nut daarvan insien dat Afrikaans op hierdie forums in al sy dialekte, streektale en praatwyses blootstelling kry nie. Maar soos jy tereg uitwys, hy wil hê ALMAL moet soos hy praat, want net SY taalgedrag is reg! Suid-Afrika het tans waarskynlik méér Afrikaans-sprekendes (Bruin, Swart en Wit) wat nie “Standaardafrikaans” gebruik nie, en dis juis húlle wat deel is van die gehoor wat RSG en KykNet se kliënte is. Dís die mense wat Afrikaans laat léwe. 
     
    Jan Rap sal homself en sy taal op ‘n eiland isoleer totdat net hyself oor is en dan? Dan sal hy bedroewend huil omdat niemand dit meer wil praat nie.
  • Verskoon die drukfout in die opskrif. Ek kon sweer ek het biljoen getik. 

    (Ek het gedink dit was opsetlik en nogal snaaks. Ek stel dit reg - Webvoet)

  • Beste Dirk,

    Ek kan sommer sien jy het 'n goeie begrip van wat taal is. Sal meer van jou oor die onderwerp ook wil hoor.
    Groete,
    Angus
  • Ek het ook nogal van 'boljoen' gehou, so al asof Angus op 'n manier sê "Jan Rap jy praat bollie .... "

    Dirk Rigter, vekeerd spel en verkeerd praat is nie 'n taalvariasie nie; dis gewoon slordig, verkeerd en onprofessioneel, net soos 1+1=3 nie 'n wiskundevariasie is nie.  Maar, soos jy al moes agterkom, my grootste bekommernis is die verdringing van Afrikaans deur Engels, iets waarmee RSG en KykNet lustig meehelp, tot so'n mate dat dit lyk of hierdie ondermyning van Afrikaans deel van hul missie is.

  • Dirk
    Ek wil nie hê almal moet soos ek praat nie want ek praat nie reg nie, vra maar vir Angus.  Ek wil hê almal moet soos jy, Johannes Comestor, Angus en Thomas praat om nou maar vier op hierdie werf te noem wat my skyn ordentlik te praat.

    Ek het niks teen die 'dialekte, streektale en praatwyses' nie; dit maak die taal interessant en ryk.  Afrikaans wat met Engels gekontamineer is is nie taalvariasie nie.

  • Angus sê daar is absoluut niks met Jan Rap se taal verkeerd nie. Alle mense het 'n taalvermoë, slim dom, arm, ongeletterd, geleerd, ryk en arm, lank, kort, vet, maer, lelik, mooi, welgeskape, gebreklik, doof, blind, oud en jonk, en veral babajonk. 'n Kleuter kan enige taal sommer so ongesiens aanleer, terwyl ek en Jan Rap al daardie taalvermoë verloor het. Ons moes maar Duits en Latyn dmv die grammatika aanleer.  

     
     Breinskade kan taalvermoë kortwiek, maar dan is dit moontlik dat 'n onbeskadigde brein funksies kan oorneem.  
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top