Vir Jaco oor sy brief Afrikaans as onderrigtaal

  • 3

Hallo Jaco, ek verwys na jou briefies van gister.

Die Afrikaner is ‘n heerser se droom ; hy’s ‘n uitstekende onderdaan, maak nie golfies nie, geduldig, gedienstig en gedweë slof hy voort soos die osse van Jan F Celliers. Hy neem verlief met die feit dat Afrikaanse straat- en dorpname verdwyn, dat Afrikaanse universiteite en kolleges verdwyn het, dat aanwysings op SA produkte slegs in Engels is, of in Engels, Frans, Portugees en Arabies maar nooit in Afrikaans is nie, dat spyskaarte net Engels is alhoewel die klandisie hoofsaaklik Afrikaans is, die soort van ding. Die Afrikaner word afgejak en hy vat dit soos ‘n verwaarlose kind; beteuterd, skuldig, verskonend. Wat ‘n verleentheid.

Om die waarheid te sê, die gemiddelde Afrikaner gaan nog verder en verguis die Afrikaners wat wel hul misnoeë met die heksejag op Afrikaans en die Afrikaner uitspreek; dit sou nou polities NIE korrek wees nie, hulle is in erge verleentheid wanneer mede-Afrikaners te kenne gee hulle vang ‘n gly in die teenswoordige administrasie (hulle het hulle dan vir hierdie sirkus beywer; hoe kan hulle nou nie saamstem met wat die base wil hê nie?).

Maar gelukkig is Ons Almal Nie So Nie (59%, jou syfer). Goddank daar is nog mense soos Dan Roodt en dit bring my by jou ander briefie, ‘Moedertaalonderrig vir Jan Rap’. Dit is prysenswaardig, hierdie poging van Afriforum, om moedertaalonderrig te bemark en te bevorder. Dit is tegelykertyd ‘n moerse skande dat so iets nodig is in Suid-Afrika waar die taal ontstaan en gegroei het; wat ‘n aantyging is dit nie teen ons huidige geslag se durf en nasietrots nie. Waar het ons die pad byster geraak?

Jou opmerking van ‘weer eens die verskil tussen DOEN en PRAAT’ is oorbodig, eintlik ook ‘n aantyging want AfriForum moet nou DOEN omdat die Afrikaner sedert die 70’s gods water oor gods akker laat dawer het. Wat ‘n skande, wat ‘n donnerse verleentheid.

Groetnis

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jan

    Jy skryf gereeld: "Goddank daar is nog mense soos Dan Roodt", maar jy sê nooit waarom ons vir hom ooit goddankbaar behoort te wees nie, ook nie wat hy ooit vir die Afrikaanse taal of selfs vir die Afrikaner ooit GEDOEN het nie, behalwe PRAAT, PRAAT en net PRAAT!

    Sy jongste skrywe: “Raiders of a Lost Empire” is in ENGELS geskryf.  Lyk my asof hy nou graag deel van die 41% wil word!!  

  • Jan

    Dit is jammerlik dat jy jou volksgenote so verwerplik aansien.

    Ek sien, in teenstelling met wat jy hierbo aansien, 'n kultuurgroep mense wat aanpasbaar teenoor hulle omstandighede is, die dat hulle vandag steeds 'n dryfkrag agter omtrent alles, behalwe politiek, is. In sport, die ekonomie, die wetenskappe, vervaardiging, op tersiêre vlak, kultureel, ens.

    Ek is op my beurt besonders trots op die Afrikaner, ten spyte van hul diversiteit in sienswyses, welke diversiteit hulle sterk punt geword het.  Vanaf 'n vaal en oninteresante eendersheid van die verlede, tot 'n kleurvolle en interesante andersheid van die hede.

  • George Bekker

    Jan, ek onderskryf alles wat jy vandag sê. Wil ook daarop wys dat dit verkeerd is om waar skoolopleiding in Afrikaans ter sprake is net in terme van taal te dink. Dit gaan oor veel meer as taal. Lewensuitkyk, kultuur, ens is ter sprake en dit is presies dit wat met Engelse onderrig afgebreek word. Afrikaanse skole se onderrig is feitlik deurgaans van hoë gehalte en dit sluit beslis onderrig in Engels in. By die Engelse skole  kry jy dalk dwelms saam met die Engels in! Goed gaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top