Hallo Jaco
Ek verwys na jou kommentaar op my brief in die verband van 23 deser.
Jy reken om klagtes oor vergrype teen die grondwet “... hier te plaas, gaan jy in elk geval niks bereik nie, behalwe om jou naam bollie te maak.”
Dis nie my werk, of enige ander gewone landsburger s’n, om te sorg dat die grondwet toegepas word nie. Buitendien, ek het nie gekla nie; my vraag was of Piet Croukamp nie dalk spekskiet as hy sê ons “ ... het nog nooit buite die perke van die grondwet geswaai nie”, nie.
‘n Antwoord hierop deur sogenaamde liberaal-demokrate en ander lede van die Piet-Max-Antjie-brigade kon wees dat hierdie goed wat ek genoem het NIE gebeur nie (wat natuurlik ‘n leuen sou wees), of dat dit wel gebeur maar dat dit binne die perke van die grondwet is (wat vir seker dan ook ‘n leuen moet wees). Ipso facto, dus, derhalwe und also, die prof skiet spek.
Jou aanbeveling dat ek AfriForum of Solidariteit moet nader vir klagtes, en jou lof vir hierdie instansies (waarmee ek saamstem) is geldig maar disjunk wat my vraag betref. Ek vra wat die klap in die enjin is en jy vertel vir my hoekom die bekleedsel verslete is; waar, maar irrelevant.
FC Boot het jou ‘n goeie antwoord gegee wat daarop neerkom dat daar iewers fout is as burgerregte-organisasies gedurig moet tyd en geld spandeer om te sorg dat die bepalings van die grondwet nagekom word. Jou kommentaar daarop is belaglik: “Om af te sluit. Die konstitusie kan alleenlik werk indien mense die wil daartoe het om dit vir hulle te laat werk, indien nie, het hulle net hulself daarvoor te blameer.” Dis byna soos om ‘n inbraak aan die skuld van die huiseienaar te lê omdat sy diefwering nie uit dikker stawe gemaak was nie, of om te sê dit is ‘n meisie se eie skuld dat sy verkrag is; sy wóú mos mooi lyk.
Jou slotopmerking , naamlik dat ons die beste grondwet ter wêreld het is dalk waar maar, soos ek oorspronklik gesê het, as hy nie toegepas word nie is hy niks werd nie.
Groetnis
Jan Rap

