Vir Jaco Fourie: Die Eskimo se blas vel

  • 12

Beste Jaco,

Nee, ek het nie van jou vraag vergeet nie. Tyd is my grootste probleem. Ek kry nie kans om al die opmerkings onderaan die briewe te lees nie.

Jy het opgemerk dat ek die volgende getik het: "Die Eskimo lyk soos hy lyk, want sy DNA het hom laat aanpas by Noordpoolomstandighede."

Miskien het ek bietjie te vinnig getik, want dit wil voorkom of die Eskimo se voorsate vanaf Asië geëmigreer het, vandaar die blas voorkoms; byna soos dié van die Chinees. Dit gee my darem kans om so ietsie oor velkleur te skryf, net om te wys dat dit moeilik is om te verklaar waarom daar wit- en swartmense is.

Die mens is oorspronklik maar ’n tropiese dier. Ons Afrika-voorouers het in die nabye omgewing van die ewenaar gewoon waar hulle blootgestel was aan sonsbestraling. Ons vel is die grootste orgaan  en dien as beskerming  en onderhoud van die menslike liggaam. Die vel het egter self ook beskerming nodig, en dit word verskaf deur melanien, ’n digte pigment wat deur die buitenste deel van die vel vervaardig word. Groot hoeveelhede melanien kan geneties geprogrammeer word, maar dit kan ook gestimuleer word deur ultravioletbestraling, soos bv in sonbruin velle.

Wanneer die voorouers van die mens hulle harige velle verloor het, is nie seker nie. Dit lyk vir my of Homo ergaster alreeds nie meer bobbejaan se vel gehad het nie. Hoe dit ook al sy, toe homoniede uitgekom het uit die Afrikabosse en hulle haarbeskerming verloor het, was hulle kwesbaar vir die son se strale. Sommige navorsers beweer dat hulle velle toe al donkerder kon gewees het agv seleksie in die verlede, miskien so ver terug as Homo ergaster.  Baie redes dui daarop dat ons Afrika-voorouers swaar gepigmenteerde velle gehad het, wat behoue gebly het solank as hulle in Afrika gebly het.

Sodra groepe na ander dele van die wêreld beweeg het, weg van die ewenaar, het hulle stadigaan hierdie pigmentasie verloor, en saam hiermee in ’n mindere of meerdere mate die gene verantwoordelik vir die programmering van Melanien. Dit is verbasend hoe velpigmentasie oor die hele wêreld deur, varieer. Daar is vandag netsoveel witmense as swartes, met alle skakerings tussenin.

Die verhouding tussen die mens se vel en die hoeveelheid bestraling van die son is egter baie kompleks. Ultravioletstrale met ’n langer golflengte beskadig  vitamine B wat bloedarmoede veroorsaak, maar wat ook belangrik is vir die produksie van DNA in die selle. Dan weer, is daar die korter UV-strale wat vitamine D-produksie bevorder wat noodsaaklik is vir die metabolisme en die inname van kalsium. Hierdie dubbele werking van die sonstrale het mense met donker velle meer bevoordeel; die gevolg is  dat toe mense uit sonnige dele verhuis het noord na dele met minder son, het daar sterk seleksie plaasgevind teen hoë konsentrasies melanien in die vel. Dis hoe Europeërs hulle wit velle gekry het.

Interessant is ook dat onlangse studies toon dat Homo neanderthalensis ook inpas by hierdie velpigmentasie. Twee verskillende laboratoriums het ’n geen-variant, MC1R, wat verantwoordelik is vir rooi hare en bleek vel, ontdek in Neanderdal DNA. Of hierdie variant werk vir Homo sapiens, is te betwyfel.

Jaco, ek gee maar hierdie gegewens, soos die Engelsman sê, vir wat dit werd is. Dit wys net hoe ingewikkeld die hele ou sakie is. Iets interessants wat my nou byval is dat een van die gene wat verantwoordelik is vir die mens se velpigmentasie, vir die eerste keer by zebra-vissies ontdek is. Dit gebeur in die natuur dat van hierdie vissies hulle swart strepe begin verloor, en dan kry hulle so ’n goue skynsel. As hulle die menslike vorm van hierdie gene (ek dink dis SLC24B6 of SLC24A5, of so iets) vir die vissie inspuit, dan kry hy weer sy swart strepe terug.

Groete,

Angus

  • 12

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Angus,  

     

    Dankie vir jou insiggewende bydrae hier oor ras - nogmaals.  

     

    Soos reeds elders aangedui, ek meriete aan alle kante van die saak respekteer.  

     

    'n Mens moet aanvaar dat ras by die mens, taamlik dinamies moet wees.  

     

    Daar is egter minstens deeglik rekord van in die Bybel, en voorskrif om dit biologies suiwer te hou.  

     

    Die tyd is hopelik verby dat politieke boewe, nes godsdiensboewe, die enkeling sal bespot aan hul wese; hetsy ras of geloof.  

     

    Die punt staan egter dat Richard Dawkins, nes die kreasioniste, verkeerd is omtrent hul aanname dat die hele mensdom uit 'n Adam en Eva gebore is en dat die verskeidenheid vandag net die gevolg van Babel is.  

     

    Nee wat Angus, jy gaan sukkel om my te oortuig dat jy inderdaad 'n kreasionis in jou hart is ...  

     

    Ras, nes geslag, het wel ook betekenis waar dit 'n individu se trots raak!  

     

    Anders as om die kompleksiteit van ras so wyd soos God se genade te benader, benader ek eerder elke mens se besondere hart (Godsdiens) in die wye liefde en genade van ons almal se Skepper.  

     

    Opregte groete,  

     

    Cornelius Henn

     

    ... en o ja, biologiese ras = genetiese erfsamestelling ...

     

  • Angus

    Dankie vir die insiggewende verklaring hierbo.  Soos ek reeds gesê het, hierdie is nie my vakgebied nie, dus het ek baie van jou skrywes daaromtrent geleer.  Nogmaals dankie

    Jaco Fourie

  • Nou Angus, sê my nou, wat is die verskil tussen 'UV' en 'ultraviolet'?
    Nog 'n ding, jy glo tog vir seker nie daardie twakstorie dat ons almal oorspronklik uit Afrika kom nie, of hoe?
    Groetnis
    Jan Rap

  • Hello, 
     
    Jan Rap dui aan die trek uit Afrika is 'n twakstorie. Hopelik sal Jan Rap die alternatief kan bied. Dit sal net so leersaam wees soos die vorige skrywe van Jan Rap oor vooruitgang en demokrasie wat sosiale verval tot gevolg gehad het. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
     
     
  • Beste Cornelius,

    Jy skryf in raaisels. Van wanneer af en waar probeer ek jou nogal oortuig dat ek 'n kreasionis is? Wat het Dawkins hiermee te make? Is  dit omdat hy gesê het die mens uit Afrika kom? Dis nie sy teorie nie, en ook nie myne nie. Ek wens dit was! Navorsing wys dat dit so is.
     
     Lees gerus: Andreasen, R.O. 2000. Race: Biological reality or social construct?; Brattain, M 2007. Race, racism and antiracism: UNESCO and the the politics of presenting science to the postwar public.; Lewontin R.C.  1972  The apportionment of human diversity.;  Shipman, P. 1994 The evolution of racism.: Tattersal, I. 2004 Race: Scientific nonproblem, cultural quagmire. As jy wil, kan ek nog so 'n klompie titels stuur.
     
    Watter bewyse het jy vir die Bybel se "deeglike rekord"? Dan verstaan jy die Bybel nog verkeerd ook. Rasseverskille het gekom na die stranding van die ark teen die berg Ararat, met die afstammelinge van Sem Gam en Jafet. Dis mos ook maar hoe jy die wêreld se rasseindeling sien, nie waar nie? Babel het mos eintlik net spraakverwarring veroorsaak. Die besoekende ouderling het nou die aand vir my mooi verduidelik dat Afrikaans eintlik hier begin het.  
     
    Biologiese ras? wat dan van biologiese mens? Verduidelik vir my "genetiese erfsamestelling". Bedoel jy daarmee die menslike genoom? Ek volg nie mooi nie. Wat beteken:  biologiese ras = genetiese erfsamestelling?
     
    Dankie vir die google.
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Jan Rap,

    Dis maar vinkel en koljander. Ultravioletbestraling en UV-bestraling.
     
    As jy dit 'n twakstorie noem, sal ek graag wil hoor waarom? 
     
    Glo jy eerder die Bybelstorie van Aram en Ieva en die appeltshjie?
     
    Groete,
    Angus
  • CorneliusHenn

    Beste Angus,

     

    Met respek; as 'n graad eentjie in die graad twaalfs se biologieklas wil kom leer, dan is dit dalk oulik, maar ek voel dit hou die hele klas terug ...

     

    Namaste!

     

    Cornelius Henn

  • CorneliusHenn

    Dit blyk dat die siniese Wouter Ferns ook nou van mening is dat die HELE mensdom van 'n Adam en Eva stam en uit 'n Tuin van Eden getrek het (Afrika?) ...  en daar vlieg die hele evolusie teorie en verskeidenheidsleer in die ware logika soos 'n pragtige pienk eenhoring met vlerke by die kreasionistiese ossewatent uit - ja, om nooit weer geweet van te mag word nie ... hel!

     

     

     

  • Beste Cornelius,

    Dit maak nie saak as jy ons terug hou nie.  Oor so 'n stuk of twintig jaar het ek jou deur  graad twaalf, deur die universiteit en is jy 'n volwaardige genetikus.
     
    Groete,
    Angus
  • CorneliusHenn

    Hahahahaha .... Beste Angus, baie dankie vir jou altyd se begrip en geduld! ... weet gerus ek's 'n BAIE leergierige student ... meester-se-troetelhoener-groete, Cornelius Henn (Graad een)

     

     

     

     

     

     

     

  • Waar is Jan Rap en sy alternatief wat die 'twakteorie' kan aanspreek? 

     
    Is Jan Rap se twak dalk nat? 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top