Vir Jaco en Wouter: vergeefs, alles tevergeefs...

  • 5

Dis nou al geruime tyd dat ek Jaco en Wouter se korrespondensie met Jan Rap en Cornelius Henn volg. Essensieel gaan die skrywes oor Afrikanerskap, die foute van die verlede en die probleme in die hede.

Elke keer is Jan Rap se refrein dieselfde: “… Daardie gemors het al met die liberale PW Botha begin en in die opsig is daardie gemors deel van die huidige gemors…” en dan volg hy dit op met “… Wel, ek het nog nooit gesê dat apartheid nie bestaan het nie; ek het gesê dat die apartheid wat julle aanvoer bestaan het nooit bestaan het nie naamlik onderdrukking en uitbuiting deur die Afrikaner…”

Henn is altyd daar soos dit ‘n goeie agterryer betaam, maar het, soos gewoonlik, niks te sê nie. Net so ‘n paar byvoeglike naamwoorde.
Nou wel, Jan Rap beskryf PW Botha as “die liberale PW Botha”(!). Ek sien al hoe arme PW sy vinger swaai daar waar hy nou is. Eintlik is dit dus futiel om met Jan Rap te debatteer; hy het kennelik geen idee van liberaal, konserwatief, regs, links of enige van hierdie begrippe in hul politieke konteks nie. Net so min as wat hy ‘n idee het van die skade wat apartheid aangerig het, ook aan die nalatenskap van ons as Afrikaners.

Maar, en dis die rede vir my skrywe, wat Jan Rap eintlik tussen die lyne te kenne gee, is dat die vorige bedeling dan nie so ‘n gemors was soos nou nie, nie korrup was soos nou nie. Eintlik, sê hy, moes dinge gebly het soos dit was, Skoon regering, alles rein en opreg in die Uniegebou.

‘n Mens se geheue vervaag mos algaande, maar daar is altyd gesaghebbende bronne om op terug te val as jy die gedagtes wil verfris. So ‘n bron is die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) se verslag van 2006 oor korrupsie in Apartheid Suid-Afrika tussen ongeveer 1970 en 1990. Watter fassinerende leesstof van by die 113 bladsye! Dié verslag gee ‘n in-diepte ontleding van die sistemiese korrupsie en toesmeerdery wat in beide die Openbare én die Privaatsektor van destyds plaasgevind het. ‘n Volledige bronnelys word verskaf ter stawing van feite. Die verslag kan gelees word by: www.issafrica.org/uploads/APARTHEIDGRANDC2.PDF

In die verslag word oa omvattend berig oor die Inligtingskandaal (1977-1990).Verder verskaf die verslag breedvoerige inligting oor minister Nic Diederichs, destydse minister van finansies, se betrokkenheid by die Glen Anil eiendomskandaal.

Daar word verslag gedoen oor die moord op dr Robert Smit en sy vrou.Ook word uitvoerig verslag gedoen oor die aktiwiteite van die Staatsveiligheidsraad en die Burgerlike Samewerkingsburo, korrupsie in die wapenbedryf van destyds, omseiling van olie-sanksies en boikotte, ens.

Daarbenewens gee die ISS verslag breedvoerige detail oor ivoorsmokkelary deur die ou SAW in Angola en Namibië, tenderbedrog en korrupsie in die voormalige tuislande en nog veel meer. Om ordentlike insig in die tentakels van grootskaalse korrupsie in die ou bedeling te kry, móét ‘n mens die verslag lees.

So lees ons dat die Staatsveiligheidsraad éérs vergader het voor Kabinetsittings, sodat die “regte” besluite deur die kabinet geneem kon word. Ek gee net twee direkte aanhalings uit die verslag om te beklemtoon hoe die “staatsmag” sy tande in die “ou” RSA ingeslaan het. Genl Lang Hendrik van der Berg, hoof van die BSB in sy getuienis voor die Harms Kommissie:

“I really want to tell you…that I can do the impossible…I have enough men to commit murder if I tell them…to kill. I do not care who the prey is or how important they are. These are the types of men that I have. And if I want to do something like that to protect the security of the state, nobody would stop me. I would stop at nothing.”

En dan Regter Victor Hiemstra toe hy in 1989 as spreker optree by ‘n konferensie oor etiek:

“There is a strange atmosphere in the land, as if people have no faith in the future and consequently want, as soon as possible, to make as much money as possible. By the time they are discovered, so they reason, the whole affair would have collapsed anyway...an atmosphere of let us eat, drink and be merry for tomorrow we die.”

Op 22 Augustus 2013 publiseer BusinessDay ‘n artikel oor korrupsie in die “nuwe” Suid-Afrika. Vir Jan Rap spesifiek gee ek die volgende aanhaling uit hierdie berig: “Most countries that undergo transition from a secretive autocratic state to an open democracy grapple with this. We’ve seen it from Kenya to Indonesia and Egypt, where corruption charges against Hosni Mubarak are likely to be dropped this week. Wherever there have been attempts to include economic crimes as part of the transitional justice process — they have simply failed. Where corruption has been excluded from the transitional justice agenda, either by design or oversight — such as with SA’s Truth and Reconciliation Commission — the problem festers. Those networks stay in business, and rather than face justice they invite members of the new elite to the table.”

Jy sien, Jan, dis ons probleem tans: Dis die ou netwerk wat so lekker gesmul het, wat die nuwe netwerk ingenooi het tafel toe.

Vir Wouter en Jaco: Dis onmoontlik om debat te hê met mense wat die verlede verkeerd interpreteer en die hede gewoon nie verstaan nie.

Dirk Rigter

  • 5

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

     

    Beste Dirk,

     

    Een van die beste, insiggewendste,  waarheidsoekende,  skrywes dusver op SêNet.

     

    Sulke bydraes doen eer aan hierdie webwerf.

     

    Groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Dirk 

     

    Mooi en feitlik opgestel.

     

    Ek stem saam.  Om met die twee here te probeer debatteer, verrig niks tot stigting nie.  Ek debatteer nie met hulle nie, maak net kommentare oor hulle skrywes, hoofsaaklik vir leserkonsumpsie, wat self eie gevolgtrekkings kan maak en los dit verder daar.

     

    Wat my oor Cornelius verdwaas, is dat hy 'n siening huldig, maar ek kan nêrens elders waarneem dat ander sy siening deel nie.  Ek het 'n vermoede dat hy eintlik weinig kontak met Afrikaners het en huldig 'n sentimentalistiese sprokies-romantiese idee hoe 'n Afrikaner hoort te wees.

     

    Jan, is onverskrokke,'n "die hard" verbitterde HNP of KP Afrikaner.  Sy vete is nie teen die ANC of die nuwe bedeling nie, want hy het mos "voorspel" dit gaan "misluk".  Sy vete is teen sy mede Afrikaner, Afrikaners wat nie sy verbitterdheid wil deel nie, wat nie in die swartgallige koor wil saamsing nie, die nimmereindigende ONS en JULLE sindroom.  JULLE het mos  "vir die nuwe bedeling be-ywer, JULLE dra skuld daaraan"  ONS het JULLE mos gewaarsku.

     

    Ek glo ek het meer kontak met Afrikaners as hy wat in die noordelike-voorstede van Johannesburg woon.  Ek woon in die oorwegende Afrikaansprekende Vaaldriehoek.  Ek reis daagliks die Vrystaat en die suidelike dele van die ou TVL as landbouboer-konsultant.   Die meeste Afrikaners wat  in die vorige bedeling HNP; KP; AWB ondersteun het en met wie ek te doen het, het onlangs DA en tot ‘n mindere mate VF+ gestem.  So die ONS van die vorige bedeling, het nou in Jan se oë die JULLE geword. (The mind boggles!).  Flip Buys en Herman Kriel van Solidariteit / AfriForum as voorbeeld, was in die vorige bedeling AWB.  Vandag is hulle siening en strewe in pas met die Demokratiese Bedeling, en verwerp hulle die gekkegrens politiek wat die AWB insluit.

     

    Nietemin glo ek dat die twee here, indien politiek nie deel van die geselskap uitmaak nie, gesellige Afrikaners is, met wie ek my sal kan assosieer.

     

     

     

     

     

  • Hello Dirk et al, 

    "The words of Qohelet son of David, king of Jerusalem. 
    Merest breath, said Qohelet, merest breath. 
    All is merest breath. All is mere breath. 
    What gain is there for man in all this toil that he toils under the sun. 
    A generation goes and a generation comes..." 
     
    (Robert Alter se vertaling - The Wisom Books).
     
    Dit is ongelukkig alles tevergeefs en moet die nodeloosheid van "debat" duidelik wees en al is daar baie waarmee daar in ooreenstemming met jou is, die belangrikste sekerlik die feit dat dit "futiel (is) om met Jan Rap te debatteer", al word dit aanvaar dat elke deelnemer 'n posisie het wat tot die einde verdedig moet word. 
     
    Al word dit aanvaar is dit egter ook so dat iemand verkeerd is, die idee dat elk hul eie waarheid kan formuleer is een van die groot onwerklikhede wat daar is. 
     
    Die onversoenbaarheid van die teenstrydighede maak hierdie 'n onmoontlikheid. 
     
    As 'n voorbeeld, Apartheid kan nie gelyktydig bestaan het nie, en nie bestaan het. Hoe holrug gery die debat daaroor nou ook al is en die 5400 Front Nasionaal, seker die enigste wat dit nog glo. 
     
    Hoekom nou nog hieroor argumenteer? 
     
    Dit is verby sinneloos.  
     
    J******, verval ongelukkig gewoonlik tot die mees banale wat daar is, met Cornelius Henn kort op sy hakke, maar enige verwysing deur my na Cornelius Henn bring beskuldiging van obsessie na vore, die uitdaging is om dus na Henn te verwys sonder om weer beskuldig te word van obsessie. 
     
    Met daardie risiko word die volgende opmerkings tog gemaak. 
     
    Daar word begin met J****** se gewone melodie, van die "suckers", wat vir die gemors gestem het, en nou sit Suid-Afrika met die gemors en dat "hulle" dit sien kom het en die enigstes was wat dit sien kom het en almal gewaarsku het teen die distopie van vandag. 
     
    Die verandering in hierdie melodie, was J******, se opmerking in die laaste rondte, dat beide "gemorste" dieselfde was. 
     
    Hierdie is 'n nuwe wending en tog in kontras met wat jy in hierdie brief uitlig, maar bevestig dit ook J******, se onversoenbare standpunte, die verlede was beter en die beste ooit, en nou die wending van dit is "dieselfde gemors". 
     
    Dalk kan J******, bevestig, vir watter van die twee stellings wil hy verdedig. 
     
    Indien "dieselfde gemors", as die nuwe formulering van J****** aanvaar word, dan het J****** baie om te verduidelik, alhoewel "gemors", maklik een ding kan beteken, verlang dit tog dat die verskille tussen die ou bedeling en die nuwe bedeling in detail ondersoek moet word.
     
    Wat sou "gemors" onder die ou bedeling beteken? 
     
    Wat sou "gemors" onder die nuwe bedeling beteken? 
     
    Aangesien, J******, geen belang het om met die konteks van die stelling te handel nie, kan die gewone banale opmerkings uit J****** se hand verwag word. 
     
    Die belangrikste voorbeeld, sekerlik die stelling dat J****** oop is vir oortuiging en oortuig kan word met die regte feite. 
     
    Natuurlik is dit nie 'n moontlikheid nie. 
     
    Nou, na Cornelius Henn, en verwag ek  'n stortvloed. 
     
    Die kwessie van "ware Afrikaner" is hier van belang. 
     
    In die algemeen is ek nie besorg oor hierdie Afrikanerskap nie en my as 'n Afrikaner te probeer bewys nie. 
     
    Dit is egter te dik vir 'n daalder dat hierdie "Front Nasionaal-Afrikaner", hom nou as die enigste ware Afrikaner hier sien en bly voortkarring met sy "neo-nuutskeppings", eers was dit "neo-liberaal", waar dit aan Henn moes verduidelik word dat dit 'n term is wat 'n verskillende betekenis het in die wêreld buite sy skedel. 
     
    Hierdie nuutskeppinge het geen end, wat nou is dit die "neo-Afrikaner", die ergste soort Afrikaner wat daar is volgens Henn se nuutste verklaring. n Term wat nie eers bestaan in die wêreld buite sy skedel en dan is daar ook die gewonde "katolieke kerk" waar die Pous nie eers 'n "goeie Christen" is nie.   
     
    Met dit kan daar geen argument met die "boere-Afrikaner", gevoer word nie, watter argumente sal vir Henn aanvaarbaar wees en hoe "redelik",  J******, hom ook al voorhou, bluf hy geen leser hier dat daar kwansuis argumente kan wees wat hom sou kon oortuig. 
     
    Dit is 'n leun en 'n bevestiging van mense wat die verlede verkeerd interpreteer en die hede gewoon nie verstaan nie.
     
    Hoe kan dit anders wees. 
     
    Konteks, nuanse, goeie trou, volledigheid, het nie plek in die regse sluipers se bestaansblik nie en so ook in die bestaansblik van die enkele lidmaat van die "katolieke kerk". 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Pieter Redelinghuys

    Beste Dirk,

    Daardie laaste paragraaf van jou skrywe aangaande die artikel gepubliseer in BusinessDay van 22 Augustus 2013, laat my dink aan die omstandighede rondom die hele proses van "oorhandiging" van mag destyds aan die ANC. 'n Ernstige studie van die hele proses sou baie insiggewend wees soos bv: Suid-Afrika se isolasie deur die res van die wêreld, die feit dat die land op die rand van bankrotskap was, die land nie meer lenings kon kry op die internasionale geldmarkte, edm.

    Die progressiewe grondwet is opgestel deur linkse intellektueles maar die VSA  beheerde Wêreld Bank en die IMF, gestaf deur ekonomiste van die Universiteit van Chicago, 'n regse kapitalistiese kliek, het presies voorgeskryf wat 'n toekomstige ANC regering mag doen.

    Die resultaat van hierdie proses was die huwelik van wit beheerde maatskappye en die elite van die ANC. Niks het oorgebly van die rewolusionêre ideale van die ANC nie wat geregtigheid vir die meerderheid van die bevolking sou bring nie.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,

    Ek sou die intrige kwalik kon beter stel.

    Ongelukkig het jy hier met "useful idiots" in die beste sin van die woord te doen.

    Voeg nou net Francois Williams se jingo mentaliteit hierby en siedaar; jy't 'n model nuwe Suid-Afrikaner wat dink dis slim om deur die "wenparty" aan die neus gelei te word!

    Boeregroete,

    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top