Hiermee twee kort gedagtes nav George Bekker en FC Boot se reaksie op Jan Rap se brief van 23 Junie (SêNet brief vir Dirk en George):
George maak die baie geldige punt dat die destydse NP, toe die party op die kruin van sy steun was onder leiding van John Vorster, géén inisiatief geneem het om uit die doodloopstraat uit te kom nie, alhoewel die skrif spreekwoordelik reeds aan die muur was. Apartheid was eenvoudig onvolhoubaar weens die onderdrukkende én mensonterende aard daarvan. Ek is vas oortuig daarvan dat die mat geheel onder die ANC se voete uitgeruk sou gewees het, as hulle tóé reeds na die onderhandelingstafel genooi was. Dalk sou die uitkomste heel anders gelyk het, wie weet? George wys tereg daarop dat ons voorgeslagte demokratiese bloed in hul DNS gehad het, iets wat uiteindelik sterk na vore gekom het met die Ja / Nee referendum in 1992 toe 68.7% witmense inderdaad “Ja” gestem het. Ek is oortuig die witmense kon al in die 1970”s oorreed word dat die demokrasie uitgebrei móét word om alle Suid-Afrikaners in te sluit.
Dis alom bekend dat die ANC na 1994 se onderhandelings verras was daarmee dat hulle skielik in beheer van sake was. Dink net hoe groot die verrassingselement sou wees in die 1970’s. Al waarin hulle toe belang gestel het was sanksies en stryd. Ek dink nie die ANC het op daardie tydstip enige begeerte tot onderhandeling gehad nie. Die NP regering van destyds se hardkoppigheid het die ANC soos ‘n handskoen gepas. Gratis publisiteit, as te ware.
Daarbenewens was die ANC toentertyd stewig onder Sowjet-invloed en sou waarskynlik nie bereid gewees het om oor ‘n grondwetlike demokrasie te onderhandel nie. Net ‘n soort alles-of-niks-eenparty-staat sou hul tevrede stel. Dít kon hulle geloofwaardigheid in die Weste erg aangetas het, met ‘n verlies van hul vastrapplek en hoë morele posisie in Wes-Europa en die VSA.
Tweedens iets oor FC Boot se opmerkings dat apartheid weens die volgende vier redes misluk het, naamlik die gebrek aan wit immigrasie uit die buiteland, die swart bevolkings-ontploffing, buitelandse druk en ‘n onwilligheid van plaaslike owerhede om die swart behuisingsprobleem aan te spreek.
Alles goed en wel. Hierdie faktore het verseker bygedra tot onrus en ontevredenheid. FC kyk egter die belangrikste faktor mis: Apartheid het misluk agv sy inherente aard van die ontkenning van landsburgers se basiese menseregte. Dis so eenvoudig soos dit. Die destydse owerhede kon vir swartes die mooiste huise bou en die gladste teerpaaie aanlê, maar dis nie waaroor hul stryd gegaan het nie. Stemreg en deelname aan die politieke proses was uiteindelik al waaroor dit gegaan het.


Kommentaar
Beste Dirk
Jy fouteer om te sê dat swartes nie stemrreg gehad het nie.Swartes kon stemreg in hul eie tuislande asook eie woonbuurte uitgeoefen het.Daar is baie redes waarom baie dit nie uitgeoefen het nie, want die owerhede
was deurgaans netso korrup as die owerhede vandag.
Ja dit is waar dat hul nie juis op internasionale gebied hul merk gemaak het nie, maar die idee was om hul al hoe meer geleidelik onafhanklik te maak. MIljoene rande se hulp is in vorm van implemente, saad ens verskaf. Dit was inderdaad tragies om te sien hoe die plaasgereedskap eenvoudig opgeroes het en in hoenderhokke verander is.
Dit terwyl 'n swart vrou met 'n skoffelpik 'n paar rye mielies plant, terwyl meneer wat eintlik die ding moes doen,rustig teen die hut se muur sit en 'n dampie slaan. Talle pragtige opstalle het oornag in krotte verander
en is alles wat enigsins brandbaar was is opgebruik vir brandstof.
Tuislande het hul begrotings netso swak bestee soos vandag se owerhede, tot so'n mate dat 'n destydse tuisland aansoek om 'n verdere R300 miljoen, 'n reuse bedrag in die tyd, t om sy begroting te laat klop.
Swart mense het , 'n algemene en bykomstige belasting, asook 'n plaaslike en hospitaalbelasting betaal. Waar die swart plaaslike owerhede nog onder die bestuur van blanke owerhede as voog gestaan het, het die owerhede gefloreer en was beter daaraan toe as sommige plaaslike owerhede van vandag.
Dit is tragies om te sien hoe swart woonbuurte onder swart onafhanklike beheer in krotbuurte verander het, waar misdaad en korrupsie hoogty vier.
Dit is hierdie toestande wat tot opstande landswyd gelei het onder leiding van die jeug, wat gedreig het om selfs hul ouers se wonings af te brand as hul nie deelneem aan die rewolusie nie.
Vandag sit ongeveer 700 000 blankes in dieselfde posie as waar hul ouers en voorouers in die jare veertig was en is die werkloosheidvlakke baie hoër as wat dit voorheen was. Dit is tragies dat onder swart bewind nie eers 5% van alle moordenaars gevang, verhoor en gevonnis word.
Onder blanke bewind was daar gemiddeld 7000 moorde per jaar terwyl dit so hoog as 21000 onder huidige regering gestyg het.In die verband kan jy die "South African Law commission research paper no 18 " nagaan om vas te stel hoe beroerd die misdaadsituasie werklik is.
Dit is naïef om te dink dat 'n vroeëre oorgawe aan 'n swart bewind toestande sou verbeter het.Daar is min suksesvolle demokratiese state in Afrika, wat lei tot 'n groot vlugtelingprobleem plaaslik en oorsee.Dit word beraam dat daar ongeveer 6 000 000 vreemdelinge hul tuiste in Suid Afrika gevind het,wat 'n bydrae tot die ekonomie lewer maar ook groter druk op alle infrastruktuur plaas.
Waarom word Suid Afrika gedurig afgegradeer?Die antwoord lê in die gesindheid van swart leiers aan die stuur van sake.Korrupte invloede en beleid van die ANC in ballingskap is net so oorgedra in die regeringstelsels op alle vlakke.
Nederland was na WO 2 op die planke, leegeroof deur Duitse magte.Tog het die land in 'n kort tyd herstel. Hoekom? Dit is toe te skryf aan die gesindheid van die destydse Eerste Minister. Die man het per fiets na die staatsmotorhawe gery, in sy ampsmotor geklim en sy besigheid gedoen, dit terugbesorg na die dagtaak en dan per fiets huistoe gery.
Die wag by die motorhawe, kon dit nie langer verduur nie en keer toe die Eerste Minister voer en sê:
'Meneer, u kan mos baie tyd bespaar deur met die motor huistoe te ry."
Toe antwoord die Eerste Minister ' Kyk, die brandstof wat ek so bespaar, kan beter aangewend word, in die heropbou en konstruksie van my land.'
Dit is die tipe gesindheid wat Suid-AFrika nodig het om suksesvol te word.
Dirk, dankie, jy stel jou saak goed. Wil daarop wys dat toe onderhandelings uiteindelik in P W Botha se tyd begin het daar in die ANC 'n betekenisvolle groep was wat sterk daarteen gekant was, ten spyte daarvan dat hulle as “vryheidstryders” werklik swak gevaar het.
Iets waaroor amper nooit geskryf word nie, is waarom swart mense nie van lydelike verset gebruik gemaak het nie? (Almal was bewus van Ghandi se oorname van 'n groot land op hierdie wyse.) 'n Mens hoor soms geluide dat “dit nie gewerk het nie” en selfs dat die onreg so erg was dat dit slegs met 'n geweldadige reaksie beantwoord kon word. Waarvan ek wel bewus is, is dat sekere SA Indiërs (in samewerking met die ANC (dink dit was Mandela se Jeugvleuel)) hierdie metode vroeg in die 1960's probeer beproef het en dat die (halfhartige) wyse waarop swartes meegedoen het krasse kritiek van die Indiërs uitgelok het. Ek dink dit is moeilik om veel inligting hieroor op te spoor, maar durf sê dat lydelike verset nooit ernstig deur swartmense beproef is nie.
Die vorige regering was feitlik altyd in ontkenning as daar na swart nasionalisme verwys is – dit was kommunisme, terwyl dit 'n kombinasie van nasionalisme en kommunisme was (in hierdie volgorde). Hierdie nasionalisme kom 'n lang pad. Reeds in die 1930's was daar ernstige betogings in Kaapstad, in Adderleystraat. Die Smuts-regering sou, as hulle die 1948 verkiesing gewen het, ook probleme ondervind het. Ons kom dan noodwendig met die “asse”, soos as die NP sagter opgetree het … Dit bring ons by 'n verdere punt wat ons as wittes verkies om mis te kyk:: die wittes se vrees vir die swartmense. In die Kaap was die houding teenoor swartmense veel gematigder as in baie ander dele van die land. Die NP moes maar reaksies van sy eie ondersteuners goed dophou en “sagter” optrede kon sy posisie verswak en skeuring veroorsaak.
Jy sluit af met: “Stemreg en deelname aan die politieke proses was uiteindelik al waaroor dit gegaan het.” Dis egter ook gelykstaande aan magsoorname. As iemand wonder of die oorname van mag wel kernbelangrik was, dink maar weer aan KwaZulu-Natal. Hier is 'n groot klomp mense doodgemaak in wat 'n swart magsstryd was.
Suid-Afrika was die land op die vasteland van Afrika met by verre die hoogste getal akademies gekwalifiseerde swartmense (Dis Oeganda, as ek reg onthou, wat tydens onafhanklikheid oor presies twee gegradueerdes beskik het – een van hulle het die president geword). Suid-Afrika was toe nie die eerste land wat “bevry” is nie, maar die laaste. Die belangrikheid hiervan kan nie oorskat word nie. Daarom durf ek sê die vasskop van die NP was belangrik, want dit het aan Namibië en Suid-Afrika grondwette gegee wat aansienlik tot bestendigheid bygedra het. Mense soos Thabo Mbeki het die kans gekry om akademies goed gekwalifiseer te word om as die nuwe leiers op te tree. Ek durf selfs sê dat as die ANC oorname reeds in 1990 of 1992 plaasgevind het sou ons nogal swakker gevaar het.
Beste FC,
Behalwe die eerste twee sinne van jou kommentaar, gee jy 'n ellelange relaas wat geheel en al van die punt af is, en hoegenaamd niks te doen het met my argument nie. Ek sê weer: Apartheid het misluk omdat dit Swart, Bruin en Indiër burgers van SA hul basiese regte, oa stemreg, ontsê het. "Stemreg in die tuislande" was die destydse NP se fabrikasie wat, met goeie reg, deur ordentlike trotse Swart mense verag is vir wat dit was: Niksseggende tweedehandse politieke swendelary. Jy weet dit, ons almal weet dit.
Jou bewerings dat dit ..."waar is dat hul (Swartes) nie juis op internasionale gebied hul merk gemaak het nie, maar die idee was om hul al hoe meer geleidelik onafhanklik te maak..." en ..."Dit terwyl 'n swart vrou met 'n skoffelpik 'n paar rye mielies plant, terwyl meneer wat eintlik die ding moes doen, rustig teen die hut se muur sit en 'n dampie slaan..." is so neerbuigend en paternalisties teenoor Swart mense, 'n mens is eintlik sprakeloos daarvan. Ongelukkig het baie Wittes destyds ook so gevoel en opgetree teenoor Swartes. Geen wonder hierdie land was in so 'n gemors teen die laat 1980's nie.
Laastens. Glo jy regtig die Swart jeug van 1976 het in opstand gekom oor hulle in "krotbuurte" gewoon het? Ongelooflik!
George,
Ek sou die Augustus 1955 vroue-optog teen die paswette as lydelike verset bestempel. Verder, so lyk dit vir my, het hierdie vorm van protes nie posgevat onder die Swart bevolking nie omdat, soos jy tereg opmerk, die gevoel was dat die onreg sterker optrede genoodsaak het.
Nog 'n "wat as?" oor vroeëre onderhandelings: Die United Democratic Front (UDF) wat in die vroeë 1980's gestig is, kon dalk 'n belangrike rol gespeel het indien hulle toe reeds ingetrek is in die soeke na 'n oplossing. Die UDF was 'n nie-rassige organisasie wat nooit enige formele bande net die ANC gehad het nie, alhoewel die UDF die Freedom Charter onderskryf het, en dus die ANC simpatiek gesind was. Belangrik egter is die leierskorps van die UDF, mense soos Allan Boesak, Trevor Manuel, Helen Joseph, Frank Chikane, Desmond Tutu, Archie Gumede, Terror Lekota, Jay Naidoo en Albertina Sisulu om van die vernaamstes te noem. Mense wat nie oorsee gaan "struggle" het nie, maar hier gebly het en 'n groot bydrae kon lewer om die politieke temperatuur af te koel. Die UDF het 3 miljoen lede gehad en dus 'n stewige magsbasis om van te onderhandel.
Vandag is meeste van dié mense vervreem van die ANC omdat hulle voel dat die ANC die "nie-rassigheid" en ander beginsels van die Freedom Charter versaak het. Sommige het die ANC en die huidige magshebbers al sterk gekritiseer. Ek glo vas daar is geleenthede verspeel om nie vroeër met minstens hierdie mense om die tafel te sit nie.
Dit voel vir my asof die NP-regering inisiatief verloor het deur te wag totdat omstandighede binne- en buitelands hom tot die onderhandelingstafel gedwing het. Proaktiewe optrede om self onderhandeling te inisieer, sou dalk ander uitkomste en gesindhede tot gevolg gehad het. Nie hierdie "Ons is die wenners en julle die verloorders" gesindheid wat vandag so gereeld voorkom nie.