Francois, ek stem saam met wat jy sê en/of impliseer (jou kommentaar onder aan my brief aan Jaco van 15 deser): ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, moenie ad hominem raak nie, aggressie kweek aggressie en om die ander ou gelyk te gee verteenwoordig nie noodwendig agteroorbuig nie. Dit is van die belangrikste beginsels van redevoering en ek probeer daarby hou.
Ek is dus verbaas dat jy laat blyk dat ek aggressief voor kom. Soos jy, soos enige mens maar, beantwoord ek ook soms aggressie met aggressie maar, ook soos jy, minder so nou se dae. Dit kan dus wees dat die aggressie wat jy waarneem een van die meer rare gevalle was of dat jy my reaksie bloot verkeerd vertolk het. Maar dankie, as dit die persepsie is sal ek beslis aandag moet gee.
Ek gee toe, aggressie in debat manifesteer op dieselfde manier as padwoede; die hitte onder jou kraag bou op en op ‘n kol tree jy minder ordentlik op en daaraan was ek vir seker by geleentheid al skuldig gewees. Daar is ook die kere, weliswaar min maar tog, wat jy net nie die ander wang meer kan draai nie en jy vuur met vuur moet beveg.
Hier wil ek jou voorbeeld volg en boks as metafoor gebruik. ‘n Goeie bokser, neem nou maar ‘n ware kunstenaar soos Sugar Ray Leonard, of Brian Mitchell, sal nooit wen as hy net verdedig nie. Hy sal wel nooit platgeslaan word nie maar sal elke rondte, en dus die geveg, op punte verloor. Jou rugbymetafoor werk ook hier; Dwayne Vermeulen was aggressief in die oë van die ondersteuners van die ander span bloot omdat hy daarin geslaag het om die ander span effektief (op daardie stadium) te fnuik.
Op die keper beskou, dit ís so dat daar ‘n heksejag op Afrikaans en die Afrikaner is, dit ís so dat weens die teenswoordige meme van polities-korrektheid die Afrikaner hierdie aanslag grootliks ignoreer (sommige doen selfs mee aan hierdie aanslag), dit ís so dat Afrikaans en die Afrikaner in ‘n al groter mate afgejak word (geen Afrikaans op spyskaarte, produkte, brosjures ens nie) juis weens hierdie laissez faire-houding want as jy lê word jy makliker op getrap, dit ís so dat ‘everybody loves a winner’ ‘n reële verskynsel is, veral onder die swartes en dus, ipso facto, verloorders hulle koud laat, selfs deur hulle verag word.
Die Boere was wel die verloorders in die Engelse oorlog maar hulle was verslaan deur ‘n oormag na ‘n helse geveg. Die teenswoordige aanslag teen Afrikaans (en dus die Afrikaner) is ook fel maar my persepsie is dat ons weerstand al hoe meer taan en ons as tou-opgooiers gesien word, want daar is nie sprake van enige weerstand nie. My bewering is dus dat ons op neergesien word, NIE omdat ons wel ons kant bring nie, maar juis omdat ons nie ons kant bring nie.
Weer eens, ek neem jou raad ter harte, ek beskou dit as ‘n rigtingaanpasser wat my daarop sal laat let om nie die persepsie van aggressiwiteit te skep nie.
Groetnis
Jan Rap

