Interessante brief en interessante skakel. Ek het toe die skakel gevolg en me Boroditsky se storie gelees soos jy aanbeveel het in jou kommentaar (4 deser onderaan my brief van 2 deser). Interessant, soos ek gesê het, maar dit is nie duidelik wat oorsaaklik en wat gevolglik is nie.
Die boorlinge waarvan sy praat se ruimtelike verwysing is windrigtings omdat hulle hulself heel waarskynlik merendeels in die oopte bevind en nie noodwendig omdat hulle nie woorde vir ‘links’ en ‘regs’ het nie. Anders gestel, hulle kultuur is sodanig dat hulle ruimtelike verwysing makliker gebruik maak van die windrigtings. Hulle gewoontes en praktyke vind dan neerslag in hulle taal; dit is nie hulle taal wat hulle gewoontes en praktyke bepaal nie.
So dit is eerder denke, onder die invloed van omstandighede soos om te oorleef (klimaat, verkryging van kos, oorlog), mode, politiek ens wat taal beïnvloed. Hier is ‘n voorbeeld verskaf (onbewustelik) deur me Boroditsky self. Sy sê (in haar stuk waartoe jy die skakel geplaas het), “Once in a while, a wisecracking student might pick her sense of humor or her fashion sense.” Die ‘her’ val dadelik op; dit is die heersende PK-manier; vroulikes is ook mos studente, allamapstieks! Daar is seker niks mee verkeerd nie maar dit is nie gewone Engels nie (hierdie neiging kom in Afrikaans ook voor). Die mode, PK ten alle koste, is denke wat neerslag vind in taal en nie andersom nie.
Nog ‘n voorbeeld, ook ‘n vroulike linguis, ene Helena Lemetyinen, in ‘n stuk getiteld ‘Language Acquisition’, sê, “ ... when the child says ‘milk’ and the mother will smile and give her some as a result ...”. Dit is nie eers grammatikaal korrek nie, ‘child’ is onsydig so mens praat van ‘its milk’ maar die kniebuig in die rigting van politiek-korrek wees is so ingeprent dat selfs linguiste fouteer. Weer eens mode wat denke beïnvloed en in taal manifesteer.
Taal kan wel denke beïnvloed in die sin dat dit jou luim kan bederf. Ek vind die Engelse manier om na bomwerpers, oorlogskepe, vragmotors en motors as vroulik te verwys geweldig irriterend maar dit is seker net in my geval, jy en ander, en Engelssprekendes, vind dit seker normaal. As hierdie gebruik oorgedra word na Afrikaans is dit nog grammatikaal ook verkeerd en éérs irriterend. Maar, soos ek sê, dis ‘n krapperigheid wat veroorsaak word deur verkeerde taalgebruik; dieselfde krapperigheid ondervind ek as ‘n ou sy flikkerlig aansit terwyl hy draai, nie vóór hy gaan draai nie.
Maar, in hoe ‘n mate ook al taal en denke wedersyds mekaar beïnvloed, die feit bly nog bestaan dat mens nie in taal dink nie; daar’s bloot nie tyd daarvoor nie.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Die laaste sin van my opmerking moes eintlik soos volg gelees het:
Beste Angus
Die 'manlike vorm' waarvan jy praat wat ons in Afrikaans gebruik is nie noodwendig die manlike vorm nie; dit is baie keer die onsydige.
Die besitlike voornaamwoorde vir die onsydige is SOOS die manlike in Afrikaans en Duits (vgl Das Mädchen trinkt sein Wasser) en ek vermoed in Nederlands ook.
Oor die broers Hobson: Ek het al lankal hier, toe ek my misnoë uitgespreek het oor die slegs Engels in die Sanpark-oorde, gesê Afrikaans is eie aan die veld; selfs die Engelssprekende Hobson-broers het hulle diereverhale in Afrikaans geskryf. Dit is 'n four king skande verskoon die Engels dat ons Afrikaners en Afrikaanses hierdie wantoestand so gedweë aanvaar.
Wat jy hierbo 'evolusionisties' noem is maar aanpassing en aanpassing en evolusie is nie sinoniem nie. Dit is ook maar meestal die selfstandige naamwoorde wat bykom of weens onbruik verval. Die grammatika bly dieselfde (vgl Australië en Engeland byvoorbeeld).
Taal is daar om jou denke in 'n kommunikeerbare medium om te sit. Dieselfde kan in 'n mate bereik word deur tekeninge, diagramme, liggaamstaal, gesigsuitdrukking en rookseine om nou maar net 'n paar te noem. Mens dink nie in 'n taal nie.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan,
Beste Angus
Jy is die ou wat nie mooi verstaan nie. 'Hy' is wel die manlike vorm, maar 'sy kar' en 'gee hom melk' is manlik of onsydig. Die onsydige is soos die manlike in Afrikaans (en Duits). Die feit dat jy noem dit niks met seks te make het nie is irrelevant; dit weet almal.
Engels het wel 'n besitlike vorm vir die onsydige 'it', naamlik 'its milk' maar in Afrikaans kan jy nie praat (nog nie in elk geval) van 'dit se melk' nie.
Paragraaf drie wat jy wil hê ek vir jou moet oorskryf is maar net weer 'n stekie in die rigting van die gedweës en kompromiste onder ons Boere wat Engels so omhels ten koste van Afrikaans; ek kom juis die naweek van 'n wildplaas af waar almal, die eienaar, die bestuurder, die kokke, almal, Afrikaans is maar ALLES is in Engels, kamtig vir die toeriste. Wat die broers se stelling, naamlik dat mens 'in Afrikaans moet dink' betref: Dis vals, mens dink nie in 'n taal nie.
Jy sê in my slotparagraaf het ek nog so 'n paar draers van taal bygevoeg. Ek weet nie wat presies jy daarmee bedoel nie. Wat ek wel gedoen het, was om so'n paar kommunikasiemiddels te noem waarvan taal een is.
Jy sê ook seleksie is die dryfveer vir kommunikasie. Miskien moes jy 'onder andere' bygevoeg het want daar moet nog wees.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan,
Beste Angus
Wat jou eerste paragraaf betref: Mag so wees, die feit is egter 'der'-woorde se besitlike voorname is manlik en die 'das'-woorde s'n is soos die 'der'-woorde s'n. Die 'die'-woorde se besitlike voornaamwoorde is vroulik.
Dis nou wat Duits betref. Dit sal interessant wees om te sien wat die Franse maak, ek weet 'le' is manlik en 'la' is vroulik, ek weet nie hoe behandel hulle die onsydige nie. In Nederlands lyk dit my is 'de' manlik of vroulik en 'het' onsydig, ek weet nie mooi hoe werk hulle besitlike voornaamwoorde nie.
In Afrikaans dui die bepaalde lidwoord nie geslag aan nie, maar wat nie manlik of vroulik is nie, met ander woorde iets wat nie teelballe of melkkliere het nie (kom tog in sulke oulike houertjies by die vroulike geslag van homo sapiens sapiens voor) is onsydig. Dit is dus totaal sinneloos om van 'n kar, skip of vliegtuig in die vroulike te praat. Die Engelse doen dit maar Engels is blykbaar 'n matriargale taal. Ek weet nie presies wat dit beteken nie maar dit vind my neerslag om na alles in die vroulike te verwys.
Ek sê nie die Hobson-broers is vals nie, ek sê hulle stelling wat daarop neerkom dat mens in 'n taal dink is vals (soos jy en Dirk al teen die tyd moes agtergekom het).
Seleksie en lukrake mutasie is net te lig in die broek om die geweldige ingewikkeldhede van organismes te verklaar. Ek het al voorheen gesê miskien verstaan ek nie die evolusieteorie mooi genoeg om te verstaan nie. Ek val ook nie vir die verklaring dat die gebeur van dinge oor 'n baie lang tyd alle anomalieë verklaar nie. Daarmee sê ek nie dat die alternatief is dat die aarde plat en net 6 000 jaar oud is nie. Terloops, die aarde se ouderdom word dikwels as 4,5 biljoen jaar aangegee wat uit is met 'n faktor van 'n duisend; die aarde is slegs 4,5 miljard jaar oud.
Groetnis
Jan Rap