Dirk, in jou brief van 6 deser sê jy ek flikflooi by prof Rachel Jafta oor sy suiwer Afrikaans praat. Ek het voorheen Ian Wessels van RSG geloof omdat hy Engelse boodskappies so in die hardloop soos hy sê, in Afrikaans vertaal. Flikflooi ek by Ian ook volgens jou; of nie omdat hy nie bruin is nie? Die bruin joernalis wat gereeld hier geskryf het (kan nie nou dadelik aan sy naam dink nie), en met wie ek ook dikwels van mening verskil het, het op 'n kol vertel dat hy by Unisa op Afrikaanse inskrywingsvorms aangedring het en ek het hom daaroor op die skouer geklop. Was dit flikflooi? Jy gryp na strooihalms Dirk.
Wat die stemmery betref, naamlik dat Rachel Jafta iewers in 'n obskure land weggesteek sou gewees het, is jy weer uiters kreatief. Ek het so'n week of wat gelede jou vrae geantwoord oor waar die verskillende volke hulle politieke wil sou uitoefen. Ek het vir jou gesê die MEESTE wittes, bruines en Indiërs en SOMMIGE swartes sal in SA stem. Die MEESTE swartes, en SOMMIGE wittes, bruines en Indiërs, sal in die onderskeie ander republieke, koninkryke of keiserryke stem.
(Ek soek na daardie antwoorde van my; ek weet nie of dit in 'n brief aan jou gerig was en of dit as kommentaar onderaan jou betrokke brief was nie. Indien jy dit nie gekry het nie vra ek om verskoning; dan geld my opmerking hierbo ten opsigte van jou kreatiwiteit nie. Sorrie in daardie geval).
Oor die student wat kwansuis losies geweier sou word vanweë ras: Hoe werk jou kop? Jy mag 'n ou weier as hy rook, drink, aan enjins in sy kamer werk en nie kerk toe gaan nie solank hy dieselfde ras is as jy. As hy van 'n ander ras is mag hy, ondanks die feit dat hy nie aan jou verhuringskriteria voldoen nie, nie geweier word nie. Absurd.
Terwyl ek nou skryf, net ietsie oor jou probleem met Danzig. Ek hou nie Danzig voor as model vir SA soos jy beweer nie, jy lees weer verkeerd. Ek het dit bloot gebruik om jou 'geboorteland'-argument se belaglikheid bloot te lê. Los dan Danzig as dit jou deurmekaar maak, kom ons vat 'n dorpie in Alaska. Op 'n stadium was 'n inwoner daar se geboorteland Rusland en toe, op 'n later stadium, is sy geboorteland die VSA. Of vat Kaapstad – op 'n stadium was 'n inwoner daar se geboortelandgrens die Oranje en op 'n later stadium is die grens die Limpopo. 'Geboorteland' is nie absoluut nie; dit varieer na gelang van toestande bepaal deur die politiek.
Jan Rap

