Dagsê Bekommerde onderwyser
Jy sê " ... en dus hierdie basiese kennis nie in Engels óf die moedertaal sal kan oordra nie" en net die volgende sin sê jy jou " ... verstand stem dus saam met Prof JJ – gebruik Engels vir onderrig ..." Hoe nou? Jy vervolg nou wel met " ... maar op 'n manier wat werklik die nodige verskil in ons kinders en ons land se toekoms sal maak – sonder korrupsie en met slimmer besteding" maar dit maak geen verskil aan die teenstrydigheid nie want daardie manier kan dan mos netsowel ook vir onderrig in die moedertaal geld, of hoe? Dit is só 'n teenstrydigheid dat ek glo iewers het maar 'n foutjie ingesluip; ek sal bly wees as jy bietjie meer kan verduidelik.
Hierdie saamstem met prof Jansen kom van jou premis af dat die doel van die mens op aarde is " ... om ? bydrae te lewer tot die ontwikkeling van die menslike spesie." Klink bietjie sirkelrig vir my; die mens is op aarde om die mens te ontwikkel. Dis seker 'n diep filosofiese vraag want wat is die doel van enigiets op aarde? Vir die renoster en die vlieg en die reënwoud byvoorbeeld is die mens die grootste pes op aarde.
Ek kan jou egter dit sê omtrent die mens: Daar is 'n hiërargie van behoeftes, so 'n soort van 'n Maslow-ding wat hoofsaaklik neerkom op lewensgehalte. Jy sorg dat dit goed gaan met jou sodat jy vir jou gesin kan voorsien en so brei dit uit na jou familie, volk, spesie, genus ens ens.
Jy verdien dus geld om vir jou lewensgehalte aan te koop en as jy lewensgehalte inboet vir geld span jy die kar voor die perde. As jy dus jou taal en kultuur moet versaak, met ander woorde jou kinders in Engelse skole sit byvoorbeeld sodat hulle makliker opgelei kan word ('n mite in elk geval) het jy die kat aan die stert beet.
Daar is net een oplossing vir die onderwyskrisis: Betaal onderwysers 'n BAIE groot salaris, dit moet 'n gesogte pos wees waarvoor daar eintlik 'n waglys van aansoekers bestaan. Onder sulke omstandighede sal 'n onderwyser nie eers daaraan dink om te staak nie (soos gedurende die vorige regering alhoewel die geld nie goed was nie; onderwysers was uiteraard pligsgetrou en verantwoordelik).
Om onderwysers 'n groot salaris te kan gee moet die onderwyser 'n BAIE goeie kwalifikasie hê, soos 'n graad of 'n driejaardiploma. Om so 'n kwalifikasie te bekom moet die voornemende onderwyser by 'n gesiene universiteit studeer. Om by so 'n universiteit uit te kom moet die student toelating hê wat beteken sy matriekuitslae moet goed wees (33% word dus nie gereken as 'n slaagsyfer nie). Om sulke uitslae te kry moet die leerling 'n ordentlike hoërskool en laerskool bywoon, waar goeie goed-betaalde onderwysers 'n hoë standaard en dissipline handhaaf. Om goed te doen in sulke skole sal dit help as die voornemende skolier 'n goeie kleuterskool bywoon.
Om goed te doen op skool moet so min as moontlik struikelblokke in die kind se pad wees; moedertaalonderrig is dus ononderhandelbaar. Zoeloeonderwysers en –lektore moet dus vir Zoeloes klas gee, selfde wat betref Tswana, Venda, Afrikaans ens. Indien Zoeloes of Tswanas Engels verkies is dit hulle saak maar dit is dan absurd, absoluut waansinnig en arrogant om, as hulle dan so 'n keuse maak, te verwag dat Afrikaanse onderwysers en lektore vir Zoeloes of Xhosas of wat ookal moet klas gee in Engels. So iets behoort teen die grondwet te wees.
Groetnis
Jan Rap

