Vir Angus

  • 0

Hallo Angus

Na aanleiding van jou kommentaar (aan Pieter) onderaan jou eie brief van 1 deser die volgende.

Ek sien jy wonder oor die Duits en Nederlands op die grense van die twee lande. Ek ook; as 'n mens na André Rieu luister is daar baie Duits in sy Nederlands. Hy praat onder andere byvoorbeeld van 'n 'Bühne' in plaas van die Hollandse 'podium' of 'stellage' (of seker 'stage' deesdae). Sy Hollands is deurspek met Duits. Ek wonder of die Duitsers se taal ook vol Hollands is daar naby die grens?

Ek reken André is ietwat van 'n uitsondering want die Hollanders voel baie oor die Duitsers soos ons Boere oor die Engelse voel. Party van ons Boere altans want deesdae vrek veral ons jongmense (verál die aartiefaarties) oor Engels, hulle is amper so erg as die Hollanders.

Ek sien jy vertel vir Pieter ek vrees vir die verbastering van Afrikaans. Jy praat nie heeltemal reg nie; ek is HARTSEER oor die teenswoordige swak, geradbraakte en slordige Afrikaans. Dit is nie iets wat lyk of dit in die toekoms gáán gebeur nie; dit ís aan die gebeur.

Verder sien ek laat weet jy vir Pieter dat jy hierdie verbastering soos jy dit noem al 'evolusionisties' aan my probeer verduidelik het. Jy het nie; jy het bloot konstateer dat evolusie betrokke is maar niks verduidelik nie. Ek het aan jou vertel dat kontaminasie (of besoedeling as jy dan nou nie van die woord 'kontaminasie' hou nie) niks met evolusie te doen het nie. Besoedeling bring weliswaar verandering mee maar hierdie verandering is verrotting wat uiteindelik tot dood lei.

Maar alle stryery op 'n stokkie. Ek sien vroeër vanaand op Carte Blanche 'n verskynsel wat hulle vreemde-aksentsindroom noem; mense begin eensklaps, na 'n erge migraine of besering, eensklaps hulle moedertaal met 'n vreemde aksent praat en met 'vreemd' bedoel ek nie bloot buitengewoon nie maar wel dié van 'n ander taal! Een vrou het met 'n Franse aksent begin praat, 'n ander met 'n Sjinese aksent en 'n derde met 'n soort van 'n Balkanaksent. Kan jy dit nou glo. Daar is blykbaar so-iets soos 80 gevalle waarvan hulle weet in die wêreld.

Is dit nie jy wat my eenkeer 'n interessante verduideliking gegee het oor hoekom 'n volwassene nie sy aksent verloor nie waar 'n kind weer selfs 'n derde taal aksentloos kan aanleer? Indien wel, het jy dalk 'n verklaring vreemde-aksentsindroom? Ek het in my lewe nog nooit van so-iets gehoor nie. As vandag die 1e April was sou ek oortuig gewees het dis 'n Aprilgrap.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top