Dagsê Angus
Jou brief is weer eens 'n bewys, ten spyte van heftige ontkennings, hoe ateïste hulle genope voel om sendingwerk te doen. As 'n geleentheid hom nie voordoen om hulle evangelie te verkondig nie, soos die aanhoudende godsdiensdebat wat nou effens getaan het, dan skep julle een soos nou hierdie brief van jou.
Dit is natuurlik jou goeie reg om op 'n kissie te klim en jou oortuigings ten opsigte van godsdiens te verkondig, dis immers 'n vry land (alhoewel, ek wonder) maar hoekom altyd op 'n neerhalende manier? Hoekom is julle verkramptes (ek neem aan jy is ook soos Jaco, Piet, Thomas en Pierre 'n liberaal-demokraat) so katvoet wat betref die gewoontes en gebruike van 'ander' kulture maar sodra die Boer (en in baie gevalle die boer) betrokke is, is julle snydend?
Dit is ook baie arrogant om jou mening op die manier, so al asof dit 'n feit is, te verkondig. Jou gevolgtrekking ten opsigte van die bestaan, of dan nie-bestaan, van 'n Godheid is jóú gevolgtrekking gebaseer op jóú redenasievermoë wat uiters beperk is, selfs al is jou IK 206. Jy kan nie eers sê watter yljins van waar af kom nie, of hoe hulle tuie aangedryf word nie, en nou wil jy kom staan en dikstraalpis oor goed wat ander koester.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ek dink die yljins dryf hulle voertuie aan met breinkrag. Daar moet tog 'n rede wees vir hulle yslike koppe. Al daai spasie kan nie wees vir net dink nie.
Nee wat Angus, ek strip nie my moer nie. Ouens wat hulle moer strip wil nie verder praat nie soos Claassen en Jaco. Ek, egter, wil graag wil praat oor enigiets. Wat godsdiens betref neem ek nie aan debat deel nie, dis futiel - die een ou haal aan uit die Bybel en die ateis haal sy gunstelingskrywers aan. Ek sal praat oor die noodsaaklikheid al dan nie van godsdiens, of die effek, of wat ookal; dis 'n ander saak.
Ek wou nog iets oor ras ook sê maar ek was vir 'n week oorrivier en sal moet teruggaan argief toe om te sien wat daaroor te sê was.
Chris, die yljins se tuie word nie deur breinkrag aangedryf nie maar wel, sommige van hulle, deur breinkrag beheer. Soos 'n perd se leisels; die perd se aandrywing is deur die verwerking van gras en strooi maar hy word deur die leisels gestuur. Nee, die yljins het 'n ander patent en ek werk nog daaraan om uit te vind presies wat dit is. Ek vermoed dit het iets met die oogpister se sous te doen maar sal jou laat weet sodra ek seker is.
Jan Rap