Brief vir Angus oor mengeltaal

  • 2

Beste Angus (amper sê ek Dirk)
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief aan jou gister.

Oor jou paragraaf 1
Jy't verkeerd gelees; ek het nooit gesê taal is net vir diepspoortrappers nie, ek het gesê daar is diepspoortrappers wat baie vlak spoortjies trap ten opsigte van taalhandhawing.

Paragraaf 2
Het George Orwell se '1984' gelees maar dit was in die vorige millenium. Sal weer bietjie na die storie loer.

Paragraaf 3
Taal laat hom wel voorskryf of liewer, streng gesproke, mense wat die taal praat laat hulle voorskryf waarna dit dan (vir jou) lyk of 'taal' sommer een nag besluit het om te verander. Daar sal geen taal wees as daar nie mense is nie. Kyk maar na die tientalle tale wat jaarliks uitsterf.

Neem byvoorbeeld die woord 'leerder' wat nou op 'n voorskriftelike manier die woorde 'leerling' en skolier' vervang. Die woord 'Boesman' is ook as't ware verban ten gunste van 'Khoisan', iets wat nie bestaan nie.

Daar is nog woorde wat om PK-redes (voorskriftelik) nie gebruik word nie soos byvoorbeeld die volgende: skryfster, redaktrise, onderwyseres, bestuurderes, slavin, aktrise, leidster, danseres en nog 'n hele klomp ander in dié trant. Volgende wat gaan verdwyn is seker verpleegster, koningin en tikster, sal vervang word deur, verpleër, koning en tikker.

Paragraaf 4
Taal op sigself, 'n abstrakte ding, kan homself nie beskerm nie; dit is sy sprekers wat ophou om die taal te gebruik, of so swak te gebruik, dat hulle maar naderhand oorslaan na 'n ander taal toe omdat hulle eie taal weens onbruik en misbruik ontoereikend geword het. Afrikaans is vol vreemde 'woordjies' – Maleis, Engels, Duits, Portugees, Frans ens soos die geval met die meeste ander tale ook is (veral Engels). Daar is egter 'n verskil tussen die gebruik van ontleende woorde (wat nou Afrikaanse woorde is of in die geval van Engels nou Engelse woorde is) en die goedmoedse en lukrake ingooi van Engelse woorde in Afrikaans in plaas van die Afrikaanse woorde te gebruik soos byvoorbeeld 'dedicate' in plaas van 'opdra', 'introduce' in plaas van 'voorstel' ens.

Paragraaf 5
Jy’s verkeerd, wat met Afrikaans gebeur gebeur nie met al die tale in die wêreld nie, dit gebeur net met die tale wat besig is om te verdwyn. Jy’s ook verkeerd as jy dink wat nou met Afrikaans gebeur is hoe alle tale in die wêreld ontstaan het. Alle tale het wel woorde in wat aan vreemde tale ontleen is maar dit is iets heeltemal anders as mengeltaal.

Byvoorbeeld, die sin “usually as ek vir myself goals geset het achieve ek hulle” is so min Afrikaans as wat die sin “gewoonlik if I’ve stelled myself doelwitte I bereik them” Engels is. Die ‘Afrikaanse’ sin hierbo sal iemand wat nie Engels ken nie, glad nie kan verstaan nie en so ook met die ‘Engelse’ sin; iemand wat geen kennis van Afrikaans het nie sal daardie sin nie verstaan nie.

Daar is ‘n vloed van ontleende woorde in Engels maar geen Engelsman het ‘n Arabiese, Tamil, Afrikaanse, Franse of Duitse woordeboek nodig om daardie woorde te verstaan nie, om die waarheid te sê, 99% van die Engelse weet nie eers wanneer hy daardie woorde gebruik nie. Vir die ‘Engelse’ sin hierbo sal die Engelsspekende definitief ‘n Afrikaanse woordeboek nodig hê want dit is nie ‘n Engelse sin nie, dis ‘n Engelse sin besmet met Afrikaans. Net so is die ‘Afrikaanse’ sin hierdbo besmet met Engels. Hierdie soort taal is ongelukkig, lyk dit my, algemeen veral in die Kaap en dit is geensins ‘n teken van ontwikkeling nie, dit is agteruitgang.

Paragraaf 6
Wat denke en taal betref. Toe ek gedink het ek skuld jou ‘n brief, het ek presies geweet watter inligting ek aan jou wou oordra, dit was nog net nie in woorde oorgesit nie. Miskien is dit hoekom daardie antwoord agterweë gebly het, ek het gesukkel om dit in woorde om te sit. Soos ek jou gesê het, die blote feit dat mens um en a is ‘n teken dat jy na die woorde soek om die begrip wat jy in jou kop het oor te sit in woorde. As mens in ‘n taal gedink het, was daardie probleem nie daar nie.

Die plant waarvan ek die naam nie kon onthou nie illustreer presies my punt: Ek weet presies hoe hy lyk maar kon nie op die naam kom nie en nee, die prentjie is nié vervang deur die woord toe ek die naam onthou nie want ek het al voorheen daardie naam vergeet (vir een of ander rede verwar ek daardie naam met ‘Tamarisk’, seker oor dit so’n vreemde woord vir my is) en dan val dit my weer by. So, as ek in taal gedink het sou ek nie aan die plant kon dink nie want ek het sy naam vergeet.

Paragraaf 7
Ek is nou nie ‘n neurochirurg of ‘n breindokter nie maar ek dink jy’s reg hier; ek dink presies soos ‘n baba of ‘n padda of ‘n perd. Al verskil is ek kan my gedagtes min of meer in taal omsit om met ‘n ander mens te kommunikeer. ‘n Padda weer, hoor ‘n geluid wat gevaar beteken en begryp dat hy in die water moet spring, hy sê nie vir homself “ek moet nou in die water spring nie” want ‘n padda, soos ‘n mens, dink nie in taal nie.

Groetnis
Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Angus,

    Daar sê Jan dit wraggies self in sy skrywe hierbo: "Al verskil is ek kan my gedagtes min of meer in taal omsit om met ‘n ander mens te kommunikeer." Met ander woorde, taal orden sy denke! Hy gee dus toe dat denke deur middel van taal so ge-orden word dat dit tot kommunikasie met ander mense lei.

    En nog iets: Dink 'n padda rêrig? Waaraan sou die padda dink? Die heerlike koel water?; wat hy vir die res van die dag gaan doen?

    Groete

    Dirk

  • Beste Jan Rap,
    Ek sal ook, soos jy, per paragraaf beantwoord.

    Par. 1. Eintlik is dit jý wat verkeerd lees. Ek betwis nie jou betekenis wat jy heg aan diepsporetrappers nie. Ek het beweer dat jou probleem is, jy dink dat Afrikaans net vir die elite bedoel is, terwyl Afrikaans vir almal bedoel is. Almal wat Afrikaanssprekend is, is geregtig op die taal, en dit sluit streektaal in.

    Par. 2. Of jy George Orwell se boek gelees het of nie, dit maak ook nie saak nie. Ek het dit wat vir ons gesprek van belang is, vir jou uitgelig. Jy wil, soos Big Brother, alle Afrikaanssprekendes se taal beheer.

    Par. 3. Taal laat nie vir hom voorskryf nie, en dit is gelukkig dat dit so is, anders het jy en die huidige regering julle Big Brother-wens gekry om Afrikaans te beheer. Deur mense te verbied om sekere woorde te gebruik, is presies soos Orwell se Big Brother te werk gegaan het, en tussen jou en die huidige regering is daar, wat dit betref geen verskil nie. Jy wil mense verbied om “usually” te gebruik, en die huidige regering verbied ons om K-woorde te gebruik. Die verskil lê daarin dat jy dit nie wetlik kan afdwing nie. Hoe jy en die regering egter ook al spartel en spook, julle kan nie slaag nie. Afrikaanssprekers sal "usually" gebruik wat BB Jan Rap ookal sê. Die mense sal die K-woorde gebruik, hoe die regering ook al beboet.

    Par. 4. Jy beweer dat daar ʼn verskil is tussen ontleende woorde en die “goedmoedse en lukrake ingooi van Engelse woorde in Afrikaans in plaas van die Afrikaanse woorde te gebruik soos byvoorbeeld 'dedicate' in plaas van 'opdra', 'introduce' in plaas van 'voorstel' ens.” Ek wil weet wat die verskil is. Ten eerste wil ek jou daarop wys dat dit onmoontlik lukraak ingegooi is. Dis woorde met betekenis, en daarom is hulle gekies. Ten tweede moet ek jou daarop wys dat sulke woorde nie presiese sinonieme in Afrikaans het nie, en ten derde moet ek jou daarop wys dat aanvaarde leenwoorde op presies dieselfde manier in Afrikaans ingekom het. Iemand het dit gebruik, ʼn hoorder of hoorders het dit verag, maar mettertyd is dit as leenwoord aanvaar.

    Par. 5. Lees weer aandagtig asseblief. Ek het nie gesê dat wat met Afrikaans gebeur, gebeur met alle tale nie. Ek het gesê dat wat met Afrikaans gebeur, gebeur met alle tale dwarsdeur die wêreld waar tale met mekaar in aanraking kom. Geïsoleerde tale sal nie so vinnig verander as tale wat met ander tale in aanraking kom nie. Watter taal dink jy praat iemand as hy sê: “Usually as ek vir myself goals geset het achieve ek hulle”? As dit in ʼn gesprek voorkom, sou jy sê die mense was besig om Afrikaans te praat, of sou jy beweer dat hulle besig was om Engels of Russies met mekaar te praat? Kyk na die sinstruktuur: dis tipies Afrikaans. As jy my vra, sou ek sê dis streektaal wat moontlik neig na ʼn dialek van Afrikaans. Swak taal is dit beslis nie; dit kommunikeer amper beter as die sg “suiwer Afrikaans.” Die ander sinsvoorbeeld is belaglik. Niemand sal so praat nie. Ek dink die fout wat jy maak is dat jy Engels en Afrikaans gelyk stel aan mekaar, en dis nie so nie. Engels is ʼn wêreldtaal wat almal feitlik dwing om dit te verstaan, terwyl Afrikaans beperk is tot Suid-Afrika. As jy Afrikaans hoor in Londen, is dit voorbladnuus hier by ons. Jou voorbeeldsinne, selfs die belaglike een, sal slegs voorkom in gesprekke tussen mense wat mekaar verstaan en dieselfde taal praat. Jou subparagraaf 3 onder paragraaf 5 maak dus nie sin nie.

    Par.6. Die mens verskil van die dier deurdat hy oor ʼn taalvermoë beskik en die dier nie. Hierdie taalvermoë gebruik die mens om sy denke te orden. Sy denke is vir homself nog onverstaanbaar as hy dit nie dmv taal vasgevat het nie. Daarom is die grootste gedeelte van taalaksie inherent. Jy betwis dit en beweer dat jy dink sonder dat jy hierdie denke in taal omklee. Tog bewys jou skrywe die teendeel. Jy sê jy het presies “geweet watter inligting” jy aan my wou oordra. Jy sê: “Die plant waarvan ek die naam nie kon onthou nie…” Nou hoe kan jy dink aan ʼn plant se naam, as dit nie deur middel van taal is nie? As jy um en a as jy praat, bewys dit nie dat jy sonder taal gedink het nie. Dit bewys net dat jy sukkel om te praat. As iemand hakkel, is nie ʼn bewys dat hy sonder taal gedink het nie. Die mens dink bewustelik, en om te kan verstaan wat hy gedink het, is taal nodig. Dis moeilik om die menslike denke en taal van mekaar te skei; heel waarskynlik het dit so saam-saam geëvolueer. Fiksieskrywers maak hiervan gebruik deur die sg alwetendheid van die verteller. ʼn Karakter ry bv alleen in sy motor, maar jy kan lees wat in sy gedagtes omgaan. Hy dink beslis deur middel van taal.
    Groete
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top