Vir Angus en Wouter

  • 6

Hallo Angus en hello Wouter

Ek reageer op julle kommentaar onder Angus se brief oor die blas vel.

Angus, jy sê ultravioletstrale is die strale met die lang golflengte en UV-strale dié met die kort golflengte. Ek vra jou toe wat die verskil tussen ultraviolet en UV, natuurlik om jou te wys dis dieselfde ding (UV is net die afkorting van ultraviolet), en jy antwoord dat dit soos vinkel en koljander is. Wat makliker sou wees is as jy net gesê het 'drukkersduiwel, ek het eintlik infrarooi bedoel' of so iets maar nou systap jy weer die hele storie. Enige ou kan 'n fout maak, niemand gaan dink jy is dom nie.

Die storie, naamlik dat almal oorspronklik uit Afrika kom, is 'n twakstorie omdat ouens soos jy en Wouter en dalk Max en George Claassen daarin glo. Dis so al of dit 'n polities-korrekte ding is om weer iemand of iets te paai, dis 'n kniebuig in die rigting van die populus. Absurd man; daar het 'n amoeba in 'n grot in die 'Wieg van die Mensdom' gelê, ontwikkel tot 'n Afrikaan wat toe getrek het en in die ander dele van die wêreld gaan staan en wit, rooi en geel word. Dan kan jy eerder letterlik in die Adam- en Evastorie glo.

So van Adam en Eva gepraat. Daar is vroeër soortgelyke stories oor Atma en Jeva (Sanskrit? ek's nie seker nie) en dis alles beeldspraak, metafore, gelykenisse en die soort van ding. Dink jy nou werklik goed wat duisende jare gelede geskryf was vir die gewone mens moes in die tegniese of wetenskaplike taal gewees het van die hedendaagse mens?

Wouter, jy soek 'n alternatief vir die Afrikaanteorie. Daar is duisende maar as ek, Jan Rap of enige van my maats nie 'n alternatief kan gee nie, is dit dan vir jou 'n teken om bloot te aanvaar wat tans hoofstroom is? Een alternatief byvoorbeeld dat almal oorspronklik van Kroasië kom, of Egipte, of dalk Benoni. Nog een is dat sekeres soos die Sjinese van 'n ander sonnestelsel kom en ander soos die Kaukasiërs uit weer 'n ander sonnestelsel. Of so iets.

Groetnis

Jan Rap

  • 6

Kommentaar

  • Hello Jan Rap, 

     
    Nee Jan, dit is nie 'n antwoord nie. Kan jy dit beter formuleer en veel meer volledig as wat jy hier gedoen het. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • 'n Drukkersfout? nog so nooit as te nimmer nie. Jan, 'n behoort my mos teen hierdie tyd al te ken. Jy behoort te weet as jy my briewe lees, moet jy fyn lees. Ek het 'n onderskeid gemaak tussen langer violetstrale, maw violetstrale met 'n langer golflengte, en violetstrale met 'n korter golflengte. Al fout wat ek begaan het, is om by die korter violetsstrale die afkorting UV  te gebruik, en dit het jou verstand heeltemal deurmekaar gemaak: toe sien jy sommer vanself infrarooistrale. 

     
    Niemand glo dat die mens uit Afrika kom nie. Dit het aan die lig gekom na jarelange en deeglike navorsing. Jy moet maar die strydbyl opneem teen Francis Collins en Craig Venter wat hulle volledige sekwensie van die menslike genoom op 26 Junie 2000, bekend gestel het. Dit staan jou mos vry om ook navorsing te doen, en dit voor te lê. Dis in elk geval beter as om sommer so uit die hoogte dit as twak af te maak, en dit sonder motivering. 
     
    Watter van die duisende teorieë wat jy noem, is wetenskaplik ondersoek, getoets, of is selfs toetsbaar en bewysbaar? 
     
    Groete,
    Angus
  • Goed Wouter, hier's die volledige antwoord:  Die mensdom in sy geheel kom nie uit Afrika uit nie.  Hulle gaan nog baie ouer fossiele kry op plekke wat destyds, voor die aarde gerek het (met ander woorde Gondwanaland) so ent van die ewenaar af was, 'n soort van 'n Gouelokkiesomgewing.  Daar het oorbevolking plaasgevind en die swakker groepe is uitgedryf na die kouer dele toe waar hulle, om te oorleef, baie vindingryk geword het.  Daar gaan dus ook ouer fosselie gevind word, baie ouer as die oudstes waarvan ons vandag weet.  Van hierdie vindingrykes het toe begin beweeg na die warmer dele en van hulle het saamgespan, en begin vermeng, met ander mensspesies, die oer-oer-voorouers van die wat ons later as die Neanderthalmense geidentifiseer het.  Soos die aarde toe verder rek is party vasgekeer op kontinente en eilande wat baie warm was en hulle het deur 'n proses soortgelyk aan evolusie pigment begin ontwikkel vir beskerming teen die son.  Van hulle se fossiele is in Sterkfontein gekry. (Word vervolg).
    Jan Rap

  • Beste Jan,

    Ek weet ek het al geantwoord, maar hier is nog meer inligting. Ultravioletlig kan verdeel word in UV-A, UV-B en UV-C volgens golflengte. Ek het die eerste twee bedoel. UV-C bereik nie die aarde nie, agv van die Osoon. Oppas egter vir UV-C as jy dalk sweiswerk doen.
     
    Groete, 
    Angus
  • Beste Jan,

    Ek twyfel of jou fossiele waarvan jy droom, ooit gevind sal word. Die landstreek waarvan jy droom, se fossiele is al hier en daar raakgeloop: hulle is so om en by 500 miljoen jaar oud, en is oa stromatoliete. Gewerwelde diere moes nog so 450 miljoen jaar wag om hulle verskyning te maak. Die genus Homo waarvan daar sowat 8 spesies ontdek is (volgens die fossiele)  het sowat 2.5 miljoen jaar gelede sy verskyning gemaak. Homo sapiens se storie het sowat 80 duisend jaar begin (ook volgens fossielontdekkings). 
     
    Die dae toe ons nog uitsluitlik van fossielontdekkings gebruik gemaak het om speurwerk in die verlede te doen, is verby. Daarmee saam word die DNA ontleed, want dit verklik die verlede nog beter.
     
    Groete,
    Angus
  • Hello Jan Rap et al, 

     
    Ek volstaan ook met Angus se antwoord en is dit hoe my antwoord ook daarna sou uitsien. 500 miljoen versus 8 miljoen jaar. Dit was 8 miljoen jaar vir die gesamentlike oorsprong maar volstaan ek ook by die ongeveer 2,5 miljoen jaar en dan tussen 200 000 en 80 000 jaar en dan die spesifieke uittog uit Afrika so 60000 jaar gelede. 
     
    Hierdie bied die konsensus tot 'n groot mate. Spencer Wells as 'n voorbeeld wat die aanvanklike projek vir NatGeo geloods het. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top