Ek sien op die nuus twee polisiehelikopters, toegerus met spuite of sproeiers, het ‘n paar daggalande moer toe gespuit. Is daardie helikopters permanent so toegerus? Indien dit die geval is beteken dit hulle word alleenlik aangewend vir die doodmaak van daggaplante. Wat ‘n vermorsing van geld; selfs al spuit hulle elke week ‘n daggaland beteken dit hulle is meeste van die tyd ledig in plaas van betrokke te wees met ernstige misdaadbekamping.
Indien die helikopters periodiek met sproeiers toegerus word (wanneer ‘n daggaland ontdek word) is dit wel minder van ‘n vermorsing maar nog steeds geld- en tydmors; waarvoor hoegenaamd daggalande uitroei? Ek praat nie die gebruik van dagga goed nie, net so min as wat ek die gebruik van alkohol goedpraat, maar om die omgewing te besoedel met gif wat in die stroompies en riviere beland net om ‘n paar daggaplante dood te maak is verregaande. Hoe sal die Kaapse wynboere voel as hulle wingerde doodgespuit word en in die proses die omgewing nog besoedel word ook?
So van wyn gepraat; iewers het ek in my agterkop dat iemand ‘n wynbedryf in die Laeveld wou begin met lemoene maar daar is ‘n stokkie voor gesteek omdat dit kompetisie vir die Kaapse wynbedryf sou wees. Ek weet nie of dit waar is nie maar dit klink nie vir my te onwaarskynlik nie. Op dieselfde wyse dan maak die uitroei van dagga meer sin; dit beskerm die dagga-bootleggers.
Jan Rap


Kommentaar
Nie net is die bespuiting 'n mors van tyd en geld nie, dit vernietig ook mense se enigste inkomste.