Baie mense ken al vir Urk. Want oom Louis van Witsand het mos destyds vir Dirk gevra wat sy naam is en Dirk het mos beduie: "Urk oom Louis."
"Dirk of Urk?" (terwyl oom Louis geweet het.)
"Dis reg oom Louis, Urk..." en die gesprek het so lank aangehou dat almal weggestap het dik vannie lag.
Omdat die tye destyds in Witsand soms bitter was en meesal bitter koud het Ra Mavenster vir Urk (of Dirk dan) 'n regte egte Philips koordlose skeermes persent gegee. Want destyds by Artep (Oom Dawid se huis wat oor die Breede en die Bar en die Blou Dam uitkyk) moes ons was soggens lank voor die voëltjies gepoep het en baie lank voor die ou son sy kop uitsteek. Was is soos eet veral as jy Blou Dam toe gaan: As jy met vuil lieste en stink gesig ingaan gaan Blou Dam nie gee nie, al is die waters hoe plat.
In ons tipe van werk is dit nie raadsaam om 'n snor te hê nie. Want jy werk onder oppie bodem, daar waar die gladde lywe bly. En jy moet duikbril aansit en duikbril en groot snorre is nie altyd maats nie want jy sit dikwels met 'n gesig vol blou water en dan moet jy te veel blaas.
Urk het egter 'n foto van oorle oom Danie Smuts gesien en daardie weglêsnor was onweerstaanbaar. Urk moes net so 'n snor hê en hy het daardie snor gekweek met al die draaie a la oorle oom Danie Smuts. Gereeld gesit en die ding gedraai en gedraai en gedwing om te draai. Moet self sê, die ding het later regtig na die ware jakob Smuts gelyk want die ding het later arme Urk se gesig so oorheers dat almal hom gekomplimenteer het op die besonderse lipkapsel. En glo my, Urk het gespog, en gedraai as daar enigiemand naby was.
Soos dit met enige nuwe ding gaan moes Urk die nuwe Philips skeermasjien uit sy verpakking ruk en sommer dadelik uitprobeer (ek vermoed Ra Mavenster het gehoop die snor waai want met die snor het die produktiwiteit dermate afgeneem omdat jy moeilik duik met 'n weglêsnor).
Die manne was besig met kanne en hier en daar het iemand gelê en dut toe die wilde angskrete die wêreld op hol het. Urk en sy Philips-skeermasjien het in mekaar verstrengel geraak. Die arme Nederlanders het, so vermoed ek, nie rekening gehou met 'n ware Danie Smuts copy weglêsnor toe hulle die ding ontwerp het nie. Want ek het vir Urk en sy Philips aangetref met die Philips hangende en erg verstrengel in 'n harde seeman se weglêsnor. Omdat ons Spartaans gebly het in Witsand destyds was goed soos skêre en dergelike nuttighede iets so ver soos 'n besoek van die pous of eerste minister. Al wat ons had was een van die vismesse ...
Dit het baie sny en baie lang prosedures gekos om vir arme Urk en sy splinternuwe Philips van mekaar te sny en na die sny was daar van oorle oom Danie Smuts se copy weglêsnor net 'n halwe seer bolip oor want die manne wat die lossnywerk moes doen was 'n kan wyn of twee sterker en baie slimmer as enige barbier.
Ek het van daardie dag af nog nooit eens weer 'n teken van 'n baard op Urk se gesig gesien nie. Wat van die Philips geword het weet ek ook nie, maar ek vermoed hy gebruik vandag gewone Minoras.
oester


Kommentaar
Beste Oester, my pa het absoluut in Minora-lemmetjies geglo – dis so lank gelede as die 1940's en 50's. Volgens hom was dit nie uitermatig skerp soos 'n ander produk, waarmee jy jou maklik kon stukkend skeer en wat jy in elk geval net een keer kon gebruik. Die Minora kon jy 'n aantal kere mee skeer.
Geniet steeds jou stories. Mooi wense.