Uitbuiting van my as verbruiker

  • 2

Ek en my huidige vrou het so nu en dan 'n bespreking oor ons besteebare inkomste. Sy hou aan karring aan my ek moenie so baie skaapkotelette koop nie, ek moet ekonomiseer. My argument is ek eet twee, op die meeste drie kotelette. Kan nie meer nie. Sy kla dis teen R116 per kg te duur. My argument is ek koop nie 'n kilogram se kotelette nie ek koop net twee en eet twee. Ek betaal miskien R20 tot R25 vir hulle maar nie R 116 nie.

Soos met die petrolprys. Almal jaag en staan in rye by die vulstasie om goedkoop petrol te koop. Ek gooi in elk geval net R200 se petrol op 'n slag in, so die prys bekommer my nie eintlik nie.

Ons is vanmiddag in die drukgang in haar gunsteling Wollerige Winkel op pad om by die kassier te betaal. Daar om ons is 'n magdom lekkernye uitgestal. Dit is van maermaakskyfies, diabetiese verslangkingslekkers en biltong en gedroogde wors. Ek word onmiddellik tot orde geroep toe ek te lank by een van die uitstallings rondhang. Ek tel die pakkie wors op.  Die prys teen R14.99 nie te aardig nie. Ek maak toe my somme en kom by R599.60 per kilogram uit. Dit is nou die prys per kilogram in die Wollerige Winkel.

Daar is baie slimmer mense as ek, want ek is een van die wat gevang word. Op pad uit sit boetie of sussie in die waentjie en kerm oor iets lekkers en mammie of pappie gryp ietsie van die rak af, dit is mos klein, en om die kind se gekerm tot stilte te kry.

Hulle maak ook nie meer Brannas soos in die verlede nie. Ek kan onthou toe jy nog so agt en twintig totte uit die bottel kon kry. Deesdae sukkel jy om tussen vyftien en twintig te kry.

Eish weet nie waarheen die wêreld op pad is nie. Ons verarm sonder dat ons dit weet.

Reusedwerg

  • 2

Kommentaar

  • Reusedwerg, jou laaste paragrafie laat dit so klink of jy dink dis 'n hopelose saak. Die opskrif van jou brief saam met jou storie verskaf tog ook die antwoord. Ons moet wakker wees, veral in 'n winkel. Hierdie mense weet hoe 'n verbruiker se kop werk en stel hom dikwels by die kasregister voor 'n laaste versoeking. Inkope moet gewoonlik eintlik nie 'n lekker familieuitstappie wees nie - dit kos jou te veel geld. Mamma of Pappa moet alleen inkope doen en dis 'n doelgerigte proses met die klem op geldbesparing. Vir my gaan dit veral oor prys per kilogram, want dis die belangrikste manier om A met B te vergelyk. Ek kan jou waarborg W gaan vir jou meer vra as P.

    Ek hou van sjokolade maar as jy nie oppas nie kan die prys by R200 per kilo draai. Daar is selfs skelms (daar is nie 'n ander woord nie) wat jou nie die geleentheid gee om prys per kilogram vergelykings te maak nie - ek vermy hulle soos die pes. Groter, in terme van winkelgroep, is nie altyd die beste nie. Vir my was dit verlede jaar 'n prestasie om 'n klein onderneming te ontdek waar ek sjokolade teen R45 per kilo koop. Dis vir bakwerk bedoel maar die kwaliteit is goed (Choklits het ek en my familie nog nooit gekoop of geëet nie en ons bly in die Kaap). Aangesien ek by winkels koop wat feitlik net kwaliteit aanhou is die volgende taktiek om die goedkoopste artikel volgens gewig te kies. Dit werk byna altyd en as jy wakker is sien jy soms dat die 400 gram item (volgens gewig) sowaar minder as die groter een kos.

    Lekker koop en veral eet! En erken dit nou maar: vroutjie is maar weer reg.

  • Ek het nou al teen die tyd geleer, en dit werk soos 'n bom. Al wat ek deesdae seg, en skoonpa het my geleer. Om die vrede harmonie en maritale voorregte te bewaar is die wagwoorde, " yes dear" is altyd van toepassing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top