Die vervalle en plek-plek verpletterde geboue het hul fondamente en mure vir die boomwortels, bossies en sku duiwe oopgemaak. Hul vensters is lank terug reeds versplinter en die dak se staalplate het kol-kol die stryd teen die verweer verloor en oor tyd, in stukkies roes ’n laaste rusplek op die klipvloer gekry. Die waaistof lê in hope teen die deurkosyne versamel. Om die hoek van hierdie verlate plek, waar die geeste nie eens meer wil wandel nie, staan ‘n man langs ’n koffer na ’n geroeste treinspoor en staar. Sy pak is verbleik en sy skouers is krom. Saam met hom is die bosse en wilde Wattel en Port Jacksons die enigste passasiers op hierdie lyn. Tog staan hy daar. Met afwagting en hoop sukkel sy kyk al teen die boog van die spoor langs, tot daar duskant die perron waar dit onder die sand in verdwyn.
“Die trein sal nog kom,” vertel hy homself. Hy moet net wag.
Onlangs het ek en my lewensvriendin, huweliksmaat en Moeder van ons seuns ‘n fliek oor visse in die woestyn gekyk. Of so het ek gedink...
In ’n treffende beeld in die Britse rolprent, skets die een karakter die praktiese oorweging van geloof. Hy vertel dat ’n hengelaar sekerlik ’n persoon van onwrikbare geloof behoort te wees; hoe anders sal hy of sy dan vir ure aaneen in hitte en koue en wind die straf verduur sonder om ’n vissie te vang?
Net uit geloof. Die geloof dat die vis wél sal byt, dat die aas en die hoek hul ding sal doen, dat die wens wél verwesenlik sal word en dat die smaak van sukses die een-of-ander tyd in ’n pan of op ‘n rooster sal kan sis.
( Behalwe natuurlik in die geval van die Departement van See-en-Visserye – hulle sal eers die kwota’s wil toeken! )
Die rasionele intellektuele skepsels onder ons sal uiteraard met die argument na vore kom dat beide die gevalle tog direk verwant aan ’n stuk uitvoerbaarheid moet wees. Derhalwe moet die stasie tog gereeld treine ontvang om ’n redelike verwagting te hê dat ’n trein gehaal kan word. Ook so, sal die Steenbras-hengelaar nie kan verwag om die knewel van sy vissersdrome in ’n rotspoeletjie te gaan vang nie. Baie waar en bykans te verregaande om in volwasse geselskap te noem, hoor ek ’n ander sê ...
Tog doen ons dit.
In die paaie en kronkels wat ek in hierdie beknopte sogenaamde sakewêreld van ons stap, het ek al spreekwoordelik meer ouens op verlate stasies en hengelaars in poele raakgeloop, as wat baie mense wil besef daar bestaan. Soms was ek self ‘n toeris op die stasie na nêrens en was dit nie eens altyd my geloof wat ’n ritgeleentheid daaruit kon bewerkstellig nie, nee, eerder net genade.
Die jammerte is dat in die woelige teerstrate buite die beskutting van ons eie veilige tuistes, is daar niemand wat die waarheid beter ken as juis jy of ek self nie.
My beperkte ervaring het egter twee soorte geloofjagters laat uitstaan. Dié wat werklik glo dat die onafwendbare nie gaan gebeur nie en dat die onmoontlike die waarskynlike sal word en dan is daar die ander klomp ouens wat wil hê die aanhoorder, ek en jy, moet dit juis glo.
Die eersgenoemde groepie mense se lewensverhaal en/of gene het die chemiese balanse in die kop so deurmekaar gekrap, dat die arme wese in alle opregtheid in gebeure en ontvlugting glo wat ver bo sy geloof se reikvermoë is. Met ’n bietjie gesonde gesels, erkenning, gebed, en medikasie, is daar hoop vir hierdie ouens. Hoop dat hy/sy genoeg geloof sal oorhou om, met ander se hulp, wel ’n stasie te gaan soek waar treine aandoen. Om voor op Struisbaai se rotse te gaan staan in die vaste hoop dat ’n Mosselkraker wel hier êrens is.
Die ander lot wat die verhaal van hoop gratis aan die toehoorders uitdeel, is die sukkelaars, leuenaars en kansvatters. Dis ongelukkig die debiteur wat op die rant van ’n finansiële afgrond staan en dan die lewensaar van ’n hersiene sakeplan uit die konsultasie-kassie pluk. Óf die een of ander wat die debiteur geld skuld en onderneem het om die betaling teen volgende Vrydag te maak. Die Vrydag wat Maandag word en dan ...
Of die eindelose verhale van betalings wat net wag dat tjekdeposito’s gehonoreer moet word. Sodra die sewe werksdae verby is, dan sal die hemele oopgaan en sal daar treine op verlate spore loop en sal hulle by stasies sonder dakke stop en sal die Galjoene in gelid vir vangs aanmeld!
Sommige van ons het die boek geskryf, waaruit ander bladsye wil aanhaal.
Nie almal van ons mensdommers val noodwendig in die ekstreme voorbeelde wat ek hier uitlig nie, maar meeste van ons het al êrens in ons bestaan vir ’n tydjie, hoe kort ook al, in die onmoontlike geglo. Meeste van ons het gelukkig die besef om gou weer die pad na die werklikheid toe terug te neem. Baie van ons moes al ’n deugde of wat so effens buig om ’n doelwit, ongeag van die eerbaarheid daarvan, te bereik. Of, om ’n wolf by die tuinhekkie te hou.
Min van ons ken egter die wonderwerk van geloof, om te glo jy is op die regte stasie en dan ís jy daar.
Of, die wonder om visse in die woestyn te maak swem ...

