Ek het al beduie van Top. Plaasarbeider se kind wat homself van die plaas weg gewerk het en sy eie nes geskrop het. Homself bekwaam het tot die punt waar hy self kan kontrak as daar by een van die rykes of slimmes se huise aanbouings nodig was.
Tot die dag wat Top hier douvoordag, nog voor die voëltjies kon roep hier regop kom staan het. Ek maak dik babelaas oop en Top vra in sy diep bas of hy maar kan inval. Ek bekyk hom en ek sien ek moenie vra nie want die lip krul sodat jy die wit kan sien. Hy beduie vir my dat ek nie met my kak antwoorde en vrae moet kom nie.
"Moet ek inval of moet ek loop skarrel?"
Ek dink aan die muur wat ek lankal beplan het en ek bel die steneplek en hulle beduie hulle kan aflewer net na nege en ons ry maar na die duine se kant toe en laai sand en op pad sommer 'n paar sakkies sement. Ek vra vir Top of hy na teetyd kan begin stene lê en hy beduie dat hy nie 'n handlanger het nie en ek is maar handlanger vir die dag, sonder pay. Maar Top is net nie homself nie. Die maer holle wil maar net nie op dreef kom nie en ek moet maar die stene self half maak met die troffel.
Na ete is ek genoeg keelvol en gatvol vir handlanger speel vir 'n bedonnerde bliksem wat nie op dreef kan kom nie. Want as jou hanne nerf af gekap is en bloederig is, is jy nie lus vir 'n iesegrimmige brickie nie. Ek beduie vir hom wat de fok aan sy gat krap en dat ek die kontrak net hier gaan stop as ek nie gaan weet wat aan die gang is nie. hy grom hier onder uit sy keel:
"Man, Bokkie is weg met 'n ander man. Ek sit met die klogoete en hulle kyk vir my."
"Maar loop haal haar, man! Donner die man en sleep haar terug en wys vir haar die klogoete is in nood."
Ek durf nie verder vra nie want omdat hy het reeds meer beduie as wat hy in 'n jaar sou. En so vorder die week tot Arthur vir my beduie dat Top saam met hom huis toe gaan. Brak se kant toe. Ek vra vir Top of dit die goeie Swazi is wat hulle daar het en beduie vir hom dat hy maar 'n bankie moet spaar vir my ook en hy sê niks.
Dit was die Vrydagoggend toe Top met 'n huppel in sy stap aangestap kom. Arthur is dik van die lag en ek kry niks uit hom uit nie. Van handlanger speel en stene aandra en stene kloof het ek meer as genoeg gehad en die nuwe handlanger kom kaalbek en beduie dat hy nou bly is hy is hier want hy het lanklaas vir Top so vriendelik gesien. Top blaf nie eens as die sement bleek aangemaak is nie. Hy beduie baie rustig dat arme Daryll moet mooi kyk as hy weer meng.
Ek kon dit nie meer hou nie en loop vir Arthur storm dat die waarheid nou moet uit. Arthur beduie vir my dat hy vir Top huisvesting gegee het die aand, want sy Bokkie was iewers in Brak. Hy het haar loop haal.
"Het hy vir Bokkie gekry, Arthur?"
"Jirre, pleks hy het haar liewers nooit gekry nie, Oester. Ek het nie 'n oog toegemaak laasnag nie. Ek het hulle maar my kooi gegee en die hele donnerse nag was dit ghoef-ghoef-ghoef teen die muur. Ek dog hulle gaan my huis omstamp." Die res is nie ter sprake nie.
Ek vra 'n paar dae later vir Bokkie of sy weer sal beplan om met 'n ander man weg te stap. Sy lag kaalgums en beduie dat, as Top haar elke keer so loop haal, sy sommer elke week sal wegloop.
oester

