Die mense ken ons maar hier rond dat ons ken van die Blou Dam en ken van grafte. Ons kan bou want die huise wat geslagte terug reeds gebou is staan nog sonder krake. Of die grafte nog sonder barste is word genadiglik nooit ondersoek nie, maar ek vermoed die goed is goed gebou.
Tannie Poppie was 'n liewe ou mens. Skraal soos 'n riet met 'n baie bekende kroniese hoes. Emfiseem of longkanker of wat ook al ek kannie meer onthou nie. Ek weet die ou man in die Sinkhuisie moes weekliks loop suurstof haal by die hospitaal. Hy het baie beduie hoe hy snags moes wakker lê want tannie Poppie kon nie asem kry nie. Vroegoggend het sy begin roggel en hy kon net nooit slaap met die suurstofkan en die gehyg nie, maar hy is lief vir haar en hulle het 'n kroos gebaar en die kroos is weg en dis net hulle twee, al het hy tog elke dag vir haar twee pakkies Voyager wit gekoop om haar lus te bevredig.
En toe gaan tannie Poppie daar waarnatoe ons almal toe moet gaan, kom wat wil. En oom Sinkhuisie vra my oor die graf want selfs Onse Dominees het hom beduie dat hy hier moet kom vra al het Sinkhuisie klaar gesien dat ons weet hoe.
Ek beduie hom dat die graf gedoen kan word maar Willem Top moet betaal word vir sy messelwerk en jy gaan nie grafgrawers kry wat deur die Brak se klipbanke verniet staan en klippe kap nie en toe ek hom die rekening gee beduie hy my dat hy sal sien en kom klaar.
Ry toevallig (nee ek lieg) by die plek verby waar ons die dooies bêre en ek sien die manne het aangejaag. Ek vra vir oom Sinkhuisie of hy vir tannie Poppie hier gaan bêre en hy beduie ja. Alles is reg vir haar laaste rusplek. Die manne lag agter bakhande want selfs hulle kon sien dat sy nie daar gaan inpas nie. Want sy lê skaars vier voet diep en tensy sy 'n dwerg was gaan daar nie 'n manier op hierdie aarde wees hoe hulle haar ses voet plus lyf, kis en bekleedsel in daardie kort stukkie grond gaan inpas nie.
Ek beduie vir Sinkhuisie dat daar 'n rede is waarom mense redelik diep weggebêre word ... die honne ... onder andere.
Hy kyk my aan asof ek die argitek van die piramides was en hy beduie dat hy kan sien dat dinge gaan roer want hy het nie sy maatband reg gehad nie.
Tannie Poppie is later met die nodige sorg en waardigheid en rou terug in die aarde se bodem gebêre en sy is toegegooi en alles en 'n week later moes ons 'n onbekende se graf loop uitbou en ek sien die bedrywigheid reg langs tant Poppie se vars graf. Bekyk die storie hoe die berugte kontrakteur die stene lê en ek vra hom of hy 'n dwerg se graf beplan en hy roep van onner uit die grond uit dat hy net maak soos daar aan hom beduie word. Hy lê die stene en as hy klaar gelê het dan wil hy sy geld hê. Uit en klaar.
Een ding weet ek verseker: Daar is geen manier op hierdie aarde hoe hulle vir oom Sinkhuisie met sy ewe ses voet plus lyf in daardie vier en 'n half voet graf ingeprop gaan kry nie. Iewers sal iemand eendag iets moet afsaag want die stene sal teen daardie tyd lankal vas wees.
En jy haal nie stene af waarvan die sement klaar geset het nie. Veral nie as dit net vier voet diep is nie. Want jy sal die hele spul dan van onder af moet oor begin.
oester

